NG Gemeente Brandvlei

Die NG kerk op Brandvleiu. (FOTO: Mariana Loots)

Gestig

6 Oktober 1897

Ring

Carnarvon

Adres

Voortrekkerstraat, Brandvlei

Sluit in

Brandvlei en omgewing

Eerste predikant

C.W. Alheit (1906–1910)

Die NG Gemeente Brandvlei is ’n gemeente op die gelyknamige dorpie in Boesmanland en in die Sinode van Noord-Kaapland.

Stigting

Brandvlei is op 6 Oktober 1897 gestig deur die Ringskommissie van Tulbagh en wel uit drie ander gemeentes, Calvinia, Kenhardt en Williston. Die konsulent, ds. Willem Adolph Alheit van Ceres, het in Januarie 1898 480 km afgelê om die eerste Nagmaal in die gemeente te bedien. Dié dele was nog glad nie so dig bewoon soos in later jare nie; die dorpie self het met die stigting ook net sowat 50 inwoners gehad. Daar was darem al ’n skooltjie aan die gang en in dié geboutjie is Sondae die dienste gehou. Tydens die stigting was ene mnr. Stals die onderwyser. Hy was bestem om ’n baie groot rol in die geskiedenis van die gemeente te speel. Jare ná sy dood kon baie van die ouer inwoners nog van sy vrugbare en toegewyde lewe vertel.

Beginjare

In die eerste jare van die gemeente se bestaan het Stals feitlik as predikant opgetree. Calvinia se predikant moes as konsulent optree, maar kon nie so dikwels die nuwe gemeente besoek nie, want in die dae van die perdekar was die 160 km van Calvinia na Brandvlei ’n groot struikelblok. Stals het dus maar die dienste gehou en die begrafnisse waargeneem. Hoewel die gemeente die eerste agt jaar van sy bestaan nie ’n eie predikant gehad het nie, was hulle tog so ywerig en wakker dat reeds op 15 Julie 1905 die hoeksteen van hul mooi kerkgebou gelê kon word.

Dié huis van die Here, wat einde 1905 ingewy is, is so deeglik gebou, dat hy die vlaag slopings van ou kerke in die middel van die 20ste eeu vrygespring en vandag nog uitstekend aan sy doel beantwoord. Die koste was ongeveer £6 000. As in ag geneem word dat boumateriaal oor ’n afstand van ongeveer 480 km vanaf Ceres-stasie vervoer is, is die bouwerk taamlik goedkoop voltooi.

Eerste predikante

Ses keer is sonder sukses beroep. Eers in 1906 is ds. C.W. Alheit as die eerste predikant verwelkom. Hy het in die gemeente gewerk tot in Julie 1910, toe hy na Loxton vertrek. Ds. JA van Zijl, van die gemeente Garies, is in Januarie 1911 as leraar bevestig. Hy was die leraar tot in 1921. Die gemeente was bevoorreg om in 1916 ’n kerksaal in te wy. Hierna het was ds. F.W. Liebenberg die leraar van 1921 tot 1923.

Ds. W.L. Steenkamp is op 9 Augustus 1924 in die gemeente bevestig. Die droogtes ten spyt het hy hier ’n wonderlike samewerking geniet sodat hy by geleentheid binne drie weke £2 600 kon insamel vir ’n nuwe orrel. Ná ’n geseënde en gelukkige bediening in Boesmanland, toe hy meer as een beroep bedank het, het hy op sy 39ste verjaardag, 11 Julie 1928, die beroep na die gemeente Namakwaland gekry, en dit aangeneem.

Mettertyd het die gemeente stadig maar seker gegroei sodat die sendinggemeente in 1912 gestig en die kerksaal se hoeksteen op 2 Oktober 1915 gelê kon word. Die lidmaattal kon omstreeks die middel van die 20ste eeu toeneem omdat heelwat meer wetenskaplik geboer is as in die beginjare.  Die gronde is omhein, die jakkalse is uitgeroei, kampe is kleiner gemaak om uittrapping van die veld teen te werk en boorgate het watervoorsiening doeltreffender gemaak. Plase was gevolglik baie kleiner as in die stigtingsjare. In die tweede halfeeu van die gemeente se bestaan het die ontvolking van die platteland egter ’n nadelige uitwerking op die lidmaattal. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante