1. Die vestiging van die kerk in Suid-Afrika
Die bestaan van die Nederduitse Gereformeerde Kerk spruit uit die landing van Jan van Riebeeck en sy 90 mede-Nederlanders in April 1652 aan die Kaap. As lidmate van die Vaderlandse of Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) sou van hulle opgaan in die stigting van die eerste gemeente, Kaapstad, in 1665. Histories koppel “Nederduitse” die NGK aan die Nederlande, die laer Duitse of lage (neder) landen.
Bloot op grond van die vorming van die NG Kerk aan die Kaap sedert 1665, word die koppeling van die “Nederduitse” met Nederland as staatkundig en histories die bakermat van die NG Kerk, duidelik. Vanuit die Vaderlandse Gereformeerde Kerk as die bevoorregte kerk sover dit die Nederlandse staatsowerheid aangaan, sou die NG Kerk homself in die Dordtse tradisie bevind. Op die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 was daar immers ook Kommisarisse Politiek wat die State-Generaal of staatsregering verteenwoordig het. Die staatsbevoorregting van die NG Kerk aan die Kaap sou deur die Nederlandse goewerneurs en die Politieke Raad, deur die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, voortgesit word.
2. Die eerste kerk
Met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap word die Fort de Goede Hoop opgerig. Die “Kat” sou vir 13 jaar as die eerste gereformeerde kerk dien. Predikasie is voorgelees deur die sieketrooster of deur ‘n predikant aan boord van ‘n verbyvarende VOC skip. Later sou dienste ook gehou word in die skure op Coornhoop en De Schuer. In 1665 is daar begin met die oprig van ‘n nuwe fort en die houtloods is toe gebruik as vergaderplek van die gemeente. Ds Joannes van Arckel is op 23 Augustus 1665 aangestel as eerste predikant. Dit was die konstituering van die eerste Christelike gemeente aan die Kaap.
Sien die lys van besoekende predikante hier, en die van sieketroosters hier.
3. Die stigting van die eerste gemeentes
Kaapstad: Soos reeds genoem het die Kaapstadse gemeente in 1655 ontstaan. Die gedagte aan ‘n permanente plek van aanbidding het in 1674 ontstaan. Op 9 April 1678 is die hoeksteenlegging van die “proper kerckje” deur goewerneur Bax waargeneem. Die bouery is egter gestaak en in 1699 is die goewerneur weer genader. Die gebou is in 1704 ingewy. Die gebou is in 1779 vergroot, maar op 31 Oktober 1836 is besluit om die hele kerk, behalwe die toring en konsistorie te sloop. Daar is begin met die bou van die Groote Kerk en dit is op 31 Januarie 1843 ingewy.
Stellenbosch: 21 Jaar later is die gemeente op Stellenbosch gestig deur ds. Johannes Overney wat van Kaapstad af gekom het om die eerste diens te hou “in een der beste gelegene en bekwaamste Vrijmans Woningen” op Sondag 13 Oktober 1686. Die hoeksteen van die eerste gebou is gelê in Februarie 1687 en op 19 Oktober 1687 ingewy word deur ds. Johannes van Andel van Kaapstad. Die kerk is in 1689 vergroot, maar het in 1710 afgebrand in ’n brand wat die hele dorp op drie huise na in puin gelê het. Die nuwe kerk is eers in 1722 voltooi, maar moes sonder solder, vloer, orrel of konsistorie ingewy word. Die kerk is in 1814 verbou toe dit verlengde vleuels gekry het, al het die plan van die Griekse kruis dieselfde gebly. Die voorgewel se ontwerp is bygewerk, reglynig en met pilasters in ooreenstemming met die klassisistiese smaak van die dag. Op 31 Oktober 1863 is die huidige Carl Otto Hager kerkgebou ingewy.
Drakenstein: Die gemeente se ontstaan is ’n voortvloeisel van die koms van die Franse Hugenote na Suid-Afrika in 1688. Hulle het aanvanklik geressorteer onder die NG Gemeente Stellenbosch, maar in 1691 is hulle tot ‘n afsonderlike gemeente, destyds Drakenstein, gevorm. Die eerste plek van samekoms was iewers in die buurt van Simondium geleë in ’n geboutjie van hout en klei wat sommige beskryf het as ‘n “vuile hokje” of “‘n gevaarte.” In 1717 is tot die oprigting van ’n behoorlike kerkgebou oorgegaan. In 1805 is die huidige kerkgebou in die Paarl in ou Kaaps-Hollandse styl opgetrek, wat vandag nog as die Strooidakkerk bekend staan en die oudste kerkgebou in Suid-Afrika is wat steeds as sodanig gebruik word. Sedert hierdie datum is dit ook bekend as die NG Gemeente Die Paarl.
Roodezand: Landdros Pieter Lourensz verkry in 1743 toestemming van die Politieke Raad om ’n geskikte perseel in Roodezand (later Tulbagh) te identifiseer vir die oprigting van ‘n kerk. Die kerkie is in 1748 voltooi en in 1793 vergroot tot die huidige Griekse kruiskerk. Dit is vandag nog die oudste bewaarde NG Kerkgebou en huisves nou die Oude Kerk Volksmuseum.
Zwartland: Die Zwartlandse gemeente (later Malmesbury) is op 27 Mei 1745 gestig en die plaas van die weduwee van Pieter van der Westhuyzen is deur ‘n ruiltransaksie bekom as kerkgrond. Die gebou is op 30 September 1860 ingewy, maar in 1862 het ‘n deel van die kerk ineengestort. Dit is van 1863 tot 1864 herbou an van 1897 tot 1899 is twee vleuels aangebou,
Winburg: Op 16 Januarie 1841 het die Natalse Volksraad die stigting van die dorp Waayfontein goedgekeur. Dit is verander na Wenburg en toe Winburg. Dit was egter eers met die besoek van eerwaarde Daniel Lindley in Maart 1842 dat paartjies getrou is, babas gedoop is en ‘n nuwe lidmate belydenis afgelê het.
Mooirivier: Eerwaarde Daniel Lindley kan beskou word as die grondlegger van die NG Kerk in die Transgariep. Hy het begin om die kerklike lewe in Natal, Vrystaat en Transvaal te organiseer. Op 26 Maart 1842 neem hy nuwe lidmate op Mooirivier (die latere Potchefstroom) aan en doop ‘n aantal babas die volgende dag. Hy lê dan ook ‘n behoorlike lidmaat- en doopregister aan.
Pietermaritzburg: Erasmus Smit is as predikant vir die Voortrekkers aangestel en op 3 Desember 1837 het hy vier kerkraadslede voorgestel. Op 10 Desember het hy die eerste kind wat in Natal gebore is, gedoop en die eerste kerkraadsvergadering gehou, wat ook deur Piet Retief (die goewerneur) as die kommissaris-politiek bygewoon is. Op Pietermaritzburg moes die eerste geboutjie, wat binne-in die beskermende laer opgerig is, primitief gewees het, want Susanna Smit maak in haar dagboek melding van die “Rietkerk” en ’n preekstoel waarvoor ’n paar goedgesindes betaal het. Op 28 April 1840 is begin met die oprigting van die geboutjie wat vandag nog as die Geloftekerk of Voortrekkerkerk bekendstaan.
4. Die naam van die kerk en vestiging van ‘n kerkverband
4.1 Kaapse Kerk
Die naam “gereformeerd” is die naam van hierdie kerk wat sedert 1665 vir die eerste gemeente naamlik Kaapstad gebruik is.
Ten opsigte van die NG Kerk in Suid-Afrika of Kaapse Kerk is die term “hervormd” as ‘n wisselterm vir “gereformeerd” na die voorbeeld van ontwikkelinge in Nederland, veral die eerste helfte van die 19e eeu (van ongeveer 1804-1842) gebruik. So is die “Provisioneele Kerken-ordre voor de Bataafsche Volksplanting aan de Kaap de Goede Hoop” van regeringskommissaris De Mist in 1804 deur hom aan die destydse goewerneur en Politieke Raad vir goedkeuring vir gebruik deur die staatserkende sogenaamde Hervormde en Lutherse Kerke, voorgelê. Die notule en reglement van die eerste Algemene Kerkvergadering van die NG Kerk in Suid-Afrika in 1824 praat ook van die “Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika.” Die besluit van die Kaapse Sinode op 14 November 1842 op die naam “Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika” én die ontstaan van die Hervormde Kerk in die ZAR in 1853 as ‘n afsonderlike kerk, sou die gebruik van “hervormd” vir die NG Kerk eventueel beëindig.
In die volgende eeu vorm daar in die NG Kerk ses afsonderlike sinodale verbande binne staatkundig-bepaalde grense: die Kaapse Kerk (NG Kerk in Suid-Afrika, 1824), die Vrystaatse Kerk (NG Kerk in die Oranje-Vrystaat, 1864), die Natalse Kerk (NG Kerk van Natal, 1864), die Transvaalse Kerk (eventueel die NG Kerk van Transvaal, 1866), die NG Kerk in Suidwes-Afrika (1957) en Midde-Afrika (1957). Die Kaapse en Transvaalse Kerke verdeel later in meer sinodale verbande, terwyl Midde-Afrika in 2004 by die Sinode van Noord-Transvaal (nou die Noordelike Sinode) ingetrek word. Hierdie verbande sou die Algemene Sinode van 1962 vorm en die omvattende sinodale verband van 1862 in die NG Kerk herstel. Klik hier vir Strauss se artikel oor die naam van die kerk.
4.2 Die Sinode van Wes-Kaapland
Die Kaapse Kerk soos hierbo beskryf sou sedert 1842 die naam van Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika behou. Dit is dan ook tot vandag toe nog die amptelike naam van die Sinode van Wes-Kaapland. Die Sinode bestaan uit 228 gemeentes wat in 25 ringe georganiseer is. UIt hierdie Sinode sou daar egter ook oor tyd twee ander Sinodale gebiede verrys.
4.2.1 Die Sinode van Oos-Kaapland
Tydens ‘n Buitengewone Sinodesitting van die NG Kerk van Suid-Afrika (Kaapland) wat vanaf 18 Oktober 1973 te Kaapstad gehou is, het die 111 gemeentes uit Oos-Kaapland amptelik besluit om af te stig. Op 22 Oktober 1973 vorm hierdie gemeentes die nuwe Sinode van Oos-Kaapland. Ds DT du P Moolman word as eerste moderator verkies.
4.1.2 Die Sinode van Noord-Kaapland
By die sinode van 1975 word ’n ad hoc-kommissie benoem om alle implikasies van ’n afsonderlike sinode vir Noord-Kaapland te ondersoek. Die volgende ringe is vir die doel van die ondersoek, as die gebied van die moontlik te stigte sinode vir Noord-Kaapland beskou, nl. Dutoitspan, Hopetown, Griekwastad, Calvinia, Kenhardt, Reivilo, Upington, Warrenton, Mafeking en Richmond. ’n Dagbestuur is op 3 November 1975 gekies met dr. JD Vorster as voorsitter en ds. GFJ van Rensburg as skriba. Baie werk moes afgehandel word, nl. ’n inligtingstuk moes opgestel word vir voorlegging aan gemeentes en ringe, gemeentes moes getoets word en die finale uitslag moes aan die sinode van 1979 voorgelê word. Op 27 Februarie 1979 kon al die betrokke gemeentes in kennis gestel word dat 65 uit 85 gemeentes wat getoets is, ten gunste van ’n eie sinode gestem het. Die vreugde en dankbaarheid was groot toe die verslag van die ad hoc-kommissie op Woensdag 17 Oktober 1979 voor die sinode kon dien en aanvaar is.
4.2 Die Vrystaatse Kerk
Die eerste sinode van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat wat van 10 – 13 Mei 1865 in Bloemfontein gehou is, was ook ‘n regstreeks uitvloeisel van die uitspraak in die Loedolff-saak. ‘n Kerkvergadering van al elf NG gemeentes in die Vrystaat het in September 1863 besluit om nie onmiddellik stappe vir die totstandkoming van ‘n eie sinodale verband te neem nie. Nadat die Kaapse Sinode geen stappe neem om die verband te herstel nie, besluit die Vrystaatse predikante en drie gekoöpteerde lede om die Kaapse Wette en Bepalinge te hersien. Daar word ‘n kerkkonferensie belê vir 10 – 15 November 1864 te Smithfield. Op 15 November vind die konstituering van die Vrystaatse Sinode plaas. Die eerste Sinodesitting van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat vind plaas op 10 Mei 1865 in Bloemfontein.
4.3 Die Natalse Kerk
Met die vestiging van die Voortrekkers in Natal na die Slag van Bloedrivier, is die eerste NG Gemeente noord van die Gariep in 1839 in Pietermaritzburg gestig. Daarna het die gemeentes in Ladysmith (1854), Weenen (1859) en Greytown (1859) gevolg. Aanvanklik was die Natalse Kerk volledig staatskerk. Die uitspraak van die Loedolff-saak in 1862 het NG Lidmate wat buite die Kaapkolonie gewoon het, wetlik verhoed om amptelik lidmate van die Kaapse Kerk te wees. Tot op daardie stadium was al die gemeentes noord van die Oranjerivier saamgebind in die Ring van Transgariep. Na die hofsaak het die ring verdeel in die ringe van die Oranje-Vrystaat en Natal. Die Natalse gemeentes het saam met die twee Transvaalse gemeentes die Natalse Ring gevorm. Die nuwe ring het op 30 April 1863 vir sy eerste sitting te Ladysmith vergader. Twee jaar later, op 7 Junie 1865, is die eerste Algemene Vergadering van die Sinode van Natal gekonstitueer, met ds John McCarter as voorsitter.
4.4 Die Transvaalse Kerk
Wat in 1853 as ‘n NGK met net ‘n eie, selfstandige organisasie begin het, word na die aanvaarding van artikel 20 van die grondwet van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) sedert ongeveer 1858 die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK) genoem. Teenoor en naas die NHK sou die eerste algemene kerkvergadering van die NGK in die ZAR in 1866 op Utrecht bymekaar kom. Hierdie kerkverband, soos die NG Kerk in die Vrystaat en Natal, sou aansluiting soek by die Kaapse Sinode van die NG Kerk.
By die Algemene Vergadering van die Hervormde Kerk in die ZAR op 20 November 1865 in Pretoria gee ds Frans Lion-Cachet van die NGK Utrecht kennis dat hulle aansluiting by die Kaapse Sinode soek. Hy noem die keuse tussen gereformeerd of hervormd in die naam van die kerk ‘n ernstige saak en geen “woorden zifterij” nie. Hy verwerp die betoog in die Volksraad van die ZAR tydens ‘n debat van drie ure oor die naam van die, nou, staatskerk dat “hervormd” taalkundig ‘n suiwerder “Hollandsche uitdrukking” was. ‘n Grondwet wat volgens dieselfde woordvoerder “vreemde”, “bastaardwoorden” wil vermy. Die gebruik daarna deur ds Dirk van der Hoff van die naam NHK is volgens Cachet “een listig stukje.” Lees meer hier oor die Sinode van die ZAR.
In die grootliks mislukte vereniging tussen die NHK en die NGK in die ZAR in die 1880’s, word “gereformeerd” in die kompromisnaam “NH of G Kerk” gehandhaaf. By die gesamentlike konferensie wat die vereniging voorafgaan, is die steun vir beide “hervormd” en “gereformeerd” so groot dat ‘n stemming daaroor gelykop is. Die lot word gewerp en val op die naam NH of G Kerk in Suid-Afrika (soms ook die Verenigde Kerk genoem). Soos reeds aangedui, word hierdie kerk in die twintigste eeu die “NG Kerk van Transvaal.”
In 1954 het die Sinode van die NH of G Kerk van Transvaal besluit om in twee streke – ’n noordelike en ’n suidelike streek – te verdeel. Hoewel dit nie twee sinodes beteken het, soos ons dit nou ken nie, het elke streek sy eie moderatuur saamgestel wat oor sekere sake besluit het. In 1957 het die afsonderlike streke van die Sinode van die NG Kerk van Transvaal tydens die sinode afsonderlik vergader en is daar besluit dat die Sinode amptelik gaan verdeel, maar dat sekere sake nog steeds gesamentlik hanteer sal word.
Hier moet ook gewys word op die NG Kerk van Transvaal wat op 22 Desember 1903 op die plaas Vlaklaagte by Bethal gestig is. Hulle was die lidmate wat van die NH of G Kerk afgestig het. Hulle sou ook as die Scoutskerk bekend staan, verwysende na die stryd tussen die Bittereinders en Verraaiers (Scouts). Later sou hierdie gemeentes weer by die Gereformeerde Kerk inskakel.
4.4.1 Die Hoëveldse Sinode
In 1954 is die Sinode van die NG Kerk van Transvaal verdeel in twee streke. Die Suidelike deel sou sedert 1957 bekend staan as die Sinode van Suid-Transvaal. In 1972 word dit weer verdeel in ‘n Oostelike en Westelike deel en laasgenoemde word die Sinode van Wes-Transvaal. Die naam verander later na die Hoëveldse Sinode.
4.4.2 Die Sinode Goudland
Die Sinode van Wes Transvaal is in 1972 gevorm uit die verdeling van die Sinode van Suid-Transvaal in twee dele. Dit was alleen moontlik op grond van ‘n besluit van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Na die staatkundige herindeling van provinsies in 1994 bestaan die sinode nou uit die grootste deel van die oostelike helfte van Noordwes, en dele van die weste en suide van Gauteng (die Wesrand en die Vaaldriehoek) Die eerste sitting van die Sinode vind plaas op 25 April 1972. Die naam is later verander na Die Sinode Goudland.
4.4.3 Die Oostelike Sinode
Op 24 Oktober 1979, tydens die agste gewone vergadering van die Sinode van Noord-Transvaal, is daar besluit om die Sinode in twee te verdeel, nl Noord- en Oos-Transvaal. Die nuwe Sinode van Oos-Transvaal het op 2 November 1979 gekonstitueer. Op 16 Oktober 2007 verander die naam na Oostelike Sinode.
4.4.4 Die Noordelike Sinode
Soos hierbo in 4.4.3 genoem is daar besluit om die Sinode van Noord-Transvaal te verdeel en het Oos-Transvaal op 2 November 1979 afgeskei. Die Sinode van Noord-Transvaal het 120 van die 201 gemeentes behou. Die Sinode se naam verander later na die Noordelike Sinode.
4.5 Die Sinode van Suidwes-Afrika/ Namibië
Op 5 Maart 1957 het 27 gemeentes in Suidwes-Afrika in Windhoek vergader. Deur ‘n verklaring van die Aktuaris van die Kaapse Sinode, dr JD Vorster, is hulle selfstandig verklaar. Hul naam sou later verander na die NG Sinode van Namibië.
4.6 Die Sinode van Midde-Afrika
Die Sinode van Midde-Afrika is in 1957 as streeksinode van Transvaal gestig. Dit was sedert 1962 ‘n deelnemende sinode van die Algemene Sinode en het aanvanklik 29 gemeentes gehad. Hierdie sinode sou later by Noordelike Sinode ingelyf word.
4.7 Die Algemene Sinode
Aanvanklik was die gemeentes aan die Kaap deel van die Klassis (ring) van Amsterdam voordat die eerste gekombineerde vergadering van gemeentes in die Kaap in 1746 plaasgevind het. Dit is egter in 1759 deur die owerheid aan die Kaap afgeskaf. In 1824 het die eerste sinode in die Kaap plaasgevind en is ’n kerkverband gevestig. Namate lidmate van die NG Kerk na die binneland gemigreer en daar gemeentes ontstaan het, is hulle saamgegroepeer in die Ring van die Trans-Gariep wat ook deel was van die Kaapse sinode. Hierdie verband is in 1862 deur die bekende Loedolff-saak verbreek toe gemeentes van buite die grense van die Kaap hulle sittingsreg op die sinode verbeur het. Dit het gelei tot die ontstaan van verskillende sinodes vir die Oranje-Vrystaat in 1864, Natal in 1865 en Transvaal in 1866.
Die besef dat die kerk een is en die verlange om hierdie eenheid weer te vergestalt, het nooit heeltemal vervaag nie. Die Anglo-Boereoorlog laat die drang na een sinodale verband egter sterk opleef. Na ‘n konferensie op Colesberg (9-10 Augustus 1905), waar die voorlopige beplanning gedoen is, kom 30 afgevaardigdes van die vier sinodes op 13 Maart 1907 in die Susannasaal in Pretoria byeen vir die konstituering van die Raad van die Kerke.
Die Raad van die Nederduitse Gereformeerde Kerke (1907-1962) kan tereg as ‘n unieke liggaam bestempel word. Dit was geen sinode wat bindende besluite kon neem nie en tog veel meer as ‘n blote advieskommissie. Vir 55 jaar het hierdie raad, wat in die omgang bekend gestaan het as “Die Raad van die Kerke” of “Die Federale Raad” groot invloed binne die Ned Geref Kerk uitgeoefen en op talle terreine leiding gegee en die koers waarin die kerk beweeg het, aangewys.
Die Algemene Sinode het op 12 Oktober 1962 tot stand gekom. Die tien sinodes soos hierbo genoem (Nege sinodes is in Suid-Afrika en die tiende sinode is in Namibië) vorm die Algemene Sinode van die NG Kerk. Sien hier ‘n lys van moderators sedert 1962.
5. Ander kerkverbande
5.1 Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika
Op 8 Augustus 1853 het die eerste Algemene Kerkvergadering in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) plaasgevind. Dit is byeengeroep deur die Rustenburgse krygsraad en die Kerkraad van Potchefstroom, met afgevaardigdes van die gemeentes Mooirivier, Rustenburg en Zoutpansberg. Vier sake het gedien:
- Ds Dirk van der Hoff is as herder en leraar van al die gemeentes in die ZAR erken.
- Inlywing by die Kaapse Kerk is nie goedgekeur nie.
- Geen ander kerke sou in die ZAR toegelaat word nie.
- Gesange sal by die erediens gesing word.
Hiermee was die Kaapse Kerk nie tevrede nie en stuur ‘n herderlike skrywe aan die Transvalers. Die AKV beantwoord dit ook met ‘n herderlike skrywe waarin die redes vir hul besluit uiteen gesit word. Die staatkundige werklikhede van die tyd word dus gesien in die stigting van ‘n vry en onafhanklike kerk in die ZAR. Die eerste gemeente is in 1855 in Pretoria gestig,
5.2 Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
Teen die begin van die negentiende eeu het veeboere in die noordoostelike distrikte in verset gekom teen die liberale tydsgees. Met die aankoms van ds Dirk Postma in 1858 in Transvaal het hy bewus geraak van die kerkstryd oor die sing van gesange. In 1814 het die Kaapse Kerk Evangeliese Gesange vir gebruik in die kerk ingevoer. Die Kerkraad van Cradock het reeds in 1833 die Ring van Graaff-Reinet vir advies genader oor lidmate wat geweier het om dit te sing. By die eerste Algemene Kerkvergadering van die Hervormde Kerk in die ZAR in 1853 is die versoek van die beswaardes ook geweier. By die Algemene Kerkvergadering van 10 – 12 Januarie 1859 in Pretoria is die aangeleentheid weer deur ds van der Hoff geopper. Dit is egter ook hier verpligtend gemaak. Dit lei tot die stigting van die Gereformeerde Kerk op 11 Februarie 1859 by Rustenburg.
5.3 Die NG Sendingkerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika
Die Kaapse Kerk het geen georganiseerde sendingaktiwiteite gehad nie, met die gevolg dat die doop van slawe aan hul meesters oorgelaat is. Gedoopte slawe het ook nie noodwendig lidmate van die kerk geword nie. In 1737 het Georg Schmidt van die Morawiese Kerk na Kaapstad gekom om onder die Khoikhoi van die Overberg te werk. Hy is egter onder druk van die Kaapse Kerk gedwing om na sewe jaar weer na Duitsland te vertrek. Mettertyd het verskillende sendingorganisasies van oorsee in Suid-Afrika begin werk (bv Londonse Sendinggenootskap en die Berlynse Sendingegnootskap), wat gelei het tot die vorming van ‘n aantal denominasies onder diegene wat andersins uitgesluit sou wees van die kerk.
Hierdie proses het die NG Kerk gemotiveer om met sy eie onafhanklike sendingwerk te begin. Hierdie nuwe ontwikkeling het begin by die kerk se eerste sinode van 1824, toe daar besluit is om sendelinge binne eie geledere toe te laat. Die NG Kerk se sinode se besluit van 1857 oor afsonderlike dienste vir bruin lede “as gevolg van sommige se swakheid” het berug geword. Die volgende logiese stap was die vorming van ‘n aparte kerk. Op 5 Oktober 1881 het verteenwoordigers van vyf sendinggemeentes in Wellington vergader vir die eerste vergadering van die NG Sendingkerk. In elke provinsie word aparte kerke vir swart- en bruinmense gevorm.
In die Kaap is in 1951 die afsonderlike NG Kerk in Afrika vir swartmense gestig. Al die Bruin gemeentes het uiteindelik by die NG Sendingkerk en die swart gemeentes by die NG Kerk in Afrika aangesluit. In 1974 besluit die sinode van die NG Kerk in Afrika ten gunste van kerklike eenheid en dit word in 1978 gevolg met ‘n soortgelyke besluit deur die NG Sendingkerk. Dit ideaal het nog 16 jaar geneem om vervul te word. In die proses is die Belhar-belydenis met sy sterk klem op eenheid, versoening en geregtigheid in 1986 geformuleer en aanvaar. In 1994 het die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk verenig om die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika (URCSA) te vorm.
5.4 Die NG Kerk in Afrika
Gemeentes wat hoofsaaklik toegespits was op swart lidmate, aangevul deur gemeentes wat vroeër deur ander sendinggenootskappe gestig is, sou in 1881 in die sinode van die NG Sendingkerk saamgevoeg word. Plaaslike sendingwerk sou later in die verskillende provinsies van die land ook swart gemeentes (en sinodes) tot stand bring. In 1963 het die vier Sinodes van die NG Sendingkerke vir swart mense van die OVS, Transvaal. Kaapland en Natal verenig tot een kerk, nl die NG Kerk in Afrika.
5.5 Reformed Church in Africa
Die verskillende Indiër-gemeentes het in 1968 saamgekom in die Indian Reformed Church. Dit het later verander na die Reformed Church in Africa, RCA.
6. Teologiese opleiding
6.1 Die eerste predikante
Reeds voor ds van Arckel in 1665 bevestig is, het 41 leraars aan die Kaap gepreek of aangedoen op pad na of van die Patria. Hy was op sy beurt die voorganger van 44 predikante wat tydens die VOC era (1652-1795) die gemeentes aan die Kaap bedien het. Die Klassis van Amsterdam was verantwoordelik om dominees vir die Kaap te eksamineer en te voorsien. Lees meer oor hul opleiding hier.
6.2 Vroeëre opleiding
Die voorlopers tot teologiese opleiding begin reeds in 1791 toe die Kaapse Kerk predikante, di Fleck en Serrurier, die behoefte na beter skoolopleiding uitspreek. In September 1831 word Tot Nut van het Algemeen in Kaapstad geopen. Die meeste predikante en godsdiensonderwysers kry dus hul eerste opleiding hier. Gelyktydig is ook die Zuid Afrikaansch Athenaum opgerig (die voorloper van SACS en die Universiteit van Kaapstad). Nou word ‘n kommissie aangewys om ook ‘n seminarium op te rig.
6.3 Die Skotse predikante
Die Engelse bewind het politieke bande met Nederland verbreek, maar nie die geestelike band nie. Tussen 1806 en 1824 is net twee Nederlandse predikante, nl di JWL Gebhard en J Spijker na die Kaap gestuur. Onder Lord Charles Somerset se bewind het die Londense Sendinggenootskap in 1818 die Skotse sendelinge, dr G Thom, dr J Evans en ds J Taylor, na die Kaap gestuur. Hulle sou gevolg word deur di Andrew Murray sr, Colin Fraser, George Morgan, Henry Sutherland en A Smith.
6.4 Die Teologiese Seminarium
Vir meer as honderd jaar na die ontstaan van die Kaapse Kerk moes predikante van elders gewerf word. Voornemende Kaapse teologiese studente moes teen groot koste en baie opofferings oorsese opleiding ondergaan. Die eerste Sinode van 1824 het reeds ‘n ontwerpplan vir ‘n Seminarium op die agenda gehad. Die Sinode van 1857 sou die oprigting van ‘n teologiese seminarium finaliseer. Op 1 November 1859 is die Seminarium in die ou Drosdy op Stellenbosch geopen. Die eerste hoogleraars was ds John Murray en ds NJ Hofmeyr. Klik hier vir ‘n kort opsomming van die geskiedenis van die terrein.
6.5 Die Kweekskool en Teologiese Fakulteit
Die Victoria Kollege het in 1918 universitêre status gekry. In Augustus 1919 het proff du Plessis en Moorrees ‘n verslag gelewer oor verdere studie van studente. Dit het daartoe gelei dat BD-grade deur die US, in samewerking met die professore aan die Kweekskool toegeken word. In 1963 word die Seminarium ‘n Fakulteit van die Universiteit van Stellenbosch.
6.6 Wellington
6.6.1 Die Sending Instituut
Die opleiding van Sendelinge het begin toe ds GR Ferguson in 1876 spesiaal vir hierdie doel uit die VSA in Wellington aangekom het. Op 10 Junie 1876 stel dr Andrew Murray die oprigting van die Sendinginstituut in De Kerkbode bekend. Die hoeksteen van die nuwe gebou is op 18 Mei 1882 deur prof NJ Hofmeyr gelê. Op 14 Mei 1883 het prof JI Marais die inwydingsrede gelewer. Die ruim en sierlike Murray Jubileumsaal is op 9 Mei 1905 ingewy. Klik hier vir die lys van studente wat hier opgelei is.
6.6.2 Die Hugenote Seminarie
Dr Andrew Murray het in 1872 diep onder die indruk gekom van Mary Lyon se opvoedkundige metodes by Mount Holyoke Seminary in Massachusetts. Hierin vind hy die antwoord vir die intellektuele, morele en geestelike ontwikkeling van jong meisies in Suid-Afrika. Die Hugenote Seminarie is op 19 Januarie 1874 op Wellington geopen met mejj Abbie P Ferguson en Anna E Bliss as leerkragte.
Tesame met die Seminarie het Friedenheim ontwikkel. Dit was ‘n sendingopleidingskool vir dames onder die vleuels van die NG Kerk se Vrouesendingbond en het kursusse in sendingwerk, maatskaplike werk en Bybelstudie aangebied.
6.6.3 Die Hugenote Kollege en Universiteitskollege
Die Seminarie is mettertyd verdeel in ‘n junior afdeling as die Hugenote Meisieskool en die senior afdeling as die Hugenote Kollege waar grade verwerf kon word. In 1916 word dit ‘n konstitusionele kollege van UNISA. In 1920 is die naam verander na Hugenote Universiteitskollege. Nadat die voortbestaan van die Kollege gedurig bedreig is het die Kaapse Kerk die eiendomme oorgeneem.
Die Hugenote-kollege van die NG Kerk is op 28 Februarie 1951 amptelik geopen in die geboue wat voorheen die Hugenote-universiteitskollege gehuisves het. Teen 1961 was die fokus van die opleiding gerig op die wetenskaplike en geestelike vorming van Christelik-maatskaplike werkers, sendingwerkers, evangelisasiewerkers en inrigtingspersoneel. Die NG Kerk het die kollege bestuur en was in die 1960’s volledig verantwoordelik vir die finansiering van die werksaamhede. Unisa het in die 1970’s en 1980’s samewerkingsooreenkomste met die kollege gesluit. Dit het in 2011-2012 drasties verander. Die Hugenote-kollege het sy verbintenis met Unisa verloor en kon nie met ’n ander universiteit ’n werkbare ooreenkoms sluit nie. Uiteindelik is dit as ’n “private instelling vir voortgesette onderwys en opleiding” geregistreer met as lede die NG Kerk (Algemene Sinode), die Verenigende Geref Kerk in Suider-Afrika (VGKSA: Algemene Sinode), die NG Kerk Wes-en-Suid-Kaap, die NG Kerk Wellington en die VGKSA Wellington. Die “nuwe” Hugenote-kollege is op 23 Oktober 2012 ingewy.
6.7 Die Universiteit van Pretoria
Die eerste pleidooie vir selfstandige opleiding van NG predikante in die Noorde is al in 1916 gehoor. Die alombekende du Plessis-saak het egter ‘n negatiewe uitwerking op die vestiging van ‘n Kweekskool in die Noorde gehad. By die Transvaalse Sinode van 1934 is die saak weer geopper. Op 16 Maart 1938 is die eerste vier teologiese hoogleraars aan die Universiteit van Pretoria bevestig. Die Kweekskool sou bekend staan as Afdeling B.
6.8 Die Universiteit van die Oranje-Vrystaat
Die eerste saak op die agenda van die Algemene Sinode se sitting in Bloemfontein op 26 Oktober 1978 was die daarstelling van teologiese fakulteit in die Vrystaat. Die eerste professore is op 17 Augustus 1980 bevestig en die opening van die nuwe Fakulteit het op 4 Februarie 1981 plaasgevind.
6.9 Ander
Het Boeren Zending School te Worcester word in 1902 geopen onder aanvuring van Dr Andrew Murray. Dit was gemik op ABO-krygsgevangenes wat as sendelinge opgelei wou word.
Na ‘n vergadering in Bloemfontein op 13 November 1907 is daar ‘n poging aangewend om evangeliste op te lei. Hieruit spruit die oprigting van die Stofberg-Gedenkskool te Heilbron. In Februarie 1909 is ook begin met die opleiding van onderwysers. Uit hierdie gedenkskool sou ook die Teologiese skole te Turffloop, Witsieshoek, Decoligny en Dingaatstat vloei.
Die Teologiese Skool vir die NG Sendingkerk is in 1929 te Welliington begin. In 1954 betrek hulle die gebou in Markstraat 24 en vanaf 23 Augustus 1958 die nuwe doelmatige gebou.
7. Die kerk reik uit in Afrika
Die Kaapse Sinode besluit in 1857 dat buitelandse sendingwerk so spoedig en wyd moontlik onderneem moet word. Gemeentlike herlewings gedurende 1860 het tot die eerste buitelandse sendingwerk in die Transvaalse Soutpansberg gelei. Die aanvang van sendingwerk buite die grense van die huidige Suid-Afrika word gesien as 1877 toe daar ‘n beskeie begin gemaak is in Botswana. Die stigting van die Predikanten Zending Vereniging op 11 November 1886 op inisiatief van dr Andrew Murray het buitelandse sending verder aangevuur. Klik hier vir ‘n artikel oor die onderskeie sendinginisiatiewe en hier vir die name en kaarte van al die sendingstasies.
Klik ook hier vir meer inligting oor die verskillende Sendinggenootskappe wat in Suid-Afrika gewerk het.
Bronne
Strauss, P.J. 2016. Die naam “Nederduitse Gereformeerde Kerk.” Acta Theologica, vol.36 n.1 [Intyds beskikbaar]: http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i1.12
Hofmeyr, G. (Red). 2002. NG Kerk 350. Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk: 1652 – 2002. Lux Verbi: Kaapstad
Anon. 1890. Het Zendingwerk der Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika.