GEBORE
18 Jan. 1937
OORLEDE
13 Jul. 2012
UNIVERSITEIT
Sending Inst.; US
gelegitimeer
1962
ORDEN
1963
standplase
1963 Prieska
1964 Brandvlei
1969 Heidelberg (KP)
1974 Krygskool (Kpln)
Emeritus
10 Mei 1998
Daniël Benjamin Pienaar is op 18 Januarie 1937 op Darling gebore, die derde seun van sy ouers. Sy oupa is ‘n boorling van Darling en ‘n boer, en sy ouma word groot op die plaas Goedemanskraal aan die voet van die Piekenierskloof naby Eendekuil. Ben was in murg en been ‘n boerseun wat nooit sy liefde vir die grond en die platteland verloor het nie – daar was by hom altyd ‘n hunkering na die plaas. Sy vader is Daniël Benjamin Pienaar en sy moeder Jacoba Martha Maria du Toit. Ben se vrou, Susan, skryf: “Sy ouers het ‘n groot invloed op sy lewe gehad en hy het dikwels in sy boodskappe verwys na die skoonheid en vrede van die plaas. Hy het altyd met groot liefde en waardering verwys na sy ouers se voorbeeld en liefde.”
Ben begin sy skoolloopbaan aan die Laerskool Moorreesburg; aanvanklik moes hy met ‘n perdekar skool toe ry, en later met ‘n bus. Nog later is hy ‘n leerling aan die bekende Hoërskool Swartland op Malmesbury, waar hy matrikuleer en uitblink in rugby en selfs vir Boland uitdraf.
Hy voel vroeg reeds geroepe om vir die Here te werk en hy begin sy studie aan die destydse Sendinginstituut op Wellington. Hy is een van die laaste elf studente wat hier afstudeer, voordat alle opleiding na die Kweekskool op Stellenbosch verskuif. Tydens vakansies werk hy as graanwaardeerder, en dit bring hom in aanraking met boere in die Swartland – en die geld help om sy studie te finansier.
Na Ben se legitimasie op 28 November 1962 ontvang hy beroepe na Noordhoek en Prieska; hy aanvaar laasgenoemde en word op 9 Maart 1963 deur ds Kobie Swart op Prieska bevestig. Op 23 Maart 1965 word hy op Brandvlei bevestig en arbei daar tot 29 November 1969. Dit is goeie jare. Na vyf beroepe vertrek hy op 7 Desember 1969 na die NG Gemeente Heidelberg in die Kaap waar ‘n besonderse verhouding tussen hom en sy medeleraar, ds Bert Struwig, ontwikkel. In diê tyd word hy ook kapelaan van Riversdal se kommando, en na drie beroepe word hy op 3 Augustus1974 kapelaan by die Krygskool in Kimberley. Hy doen dikwels grensdiens.
Na agt beroepe keer hy op 2 Julie 1983 terug na die gemeentebediening as leraar by die NG Gemeente Port Elizabeth-Hoogland. Hier werk hy totdat hy op 10 Mei 1998 sy emeritaat aanvaar. Hy was die eerste leraar hier en het deur die jare heen ‘n ereplekverwerf as ‘n vader in die gemeente – iemand wat met oorgawe kon huisbesoek doen.
Na sy emeritaat help ds Ben Pienaar in die NG Gemeente Walmer, en later ook in die APK-gemeente Lorraine in Port Elizabeth. Na sy tweede hartomleidingsoperasie in 2008 tree hy finaal af; hy preek nog op versoek, omdat dit vir hom ‘n groot vreugde bly.
Op 20 Julie 1963 het Ben met Susan Botha getrou, ‘n maatskaplike werker op Darling. Uit die huwelik is daar drie kinders gebore: Twee dogters – Phile, ‘n onderwyseres, wat met Otto Knoesen trou, en Jacoba Martha San-Mari, ‘n fisioterapeut, wat met Pieter Burger trou – en ‘n seun, Daniel Johannes Benjamin Pienaar, wat aan die Royal Academy of Music in Londen studeer en ‘n konsertpianis word.
Susan Pienaar skryf: “Wat my altyd sal bybly oor Ben se lewe en bediening is die ems en totale toewyding waarmee hy gewerk het. Hy was ‘n liefdevolle en geduldige mens, baie slim, met ‘n absolute dors na kennis oor alles denkbaar. Sy wonderlike gawe om met mense te kommunikeer was merkwaardig en baie deure na mense in die bediening word oopgemaak. Ben het nooit na eer en belangrikheid gesoek nie, maar het stil sy gang gegaan en gedoen waarin hy geglo het.”
Ben Pienaar sterf op 13 Julie 2012. Die begrafnisdiens word deur ds Lee Greyling gehou, terwyl ds Basie Fourie ‘n huldeblyk lewer. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM