Murray, Richard Barry

Ds RB Murray

gebore

23 Apr. 1916

OORLEDE

04 Apr. 2002

UNIVERSITEIT

BA BD (UP)

gelegitimeer

1941

ORDEN

1942

standplase

1942 Vergenoeg

1943 Potgietersrust

1948 Chrissiesmeer

1952 Brixton

1955 Bethal

1962 Swellendam

1962 Villieria

1971 PSD: Ampsbediening N.Tvl.

EMERITEER

1983

Ds. Richard Barry Murray (BA, BD) 23/04/1916 – 04/04/2002

Ds. Barry Murray is op 4 April 2002 in die Kronendal-huis vir bejaardes in Pretoria oorlede. Hy was 86 jaar oud. Richard Barry Murray is onder andere bekend omdat hy een van die eerste vyf predikante was wat in 1941 aan die Teologiese Fakulteit van Pretoria afstudeer het.

Die bekende dr Andrew Murray (snr) van Graaff-Reinet was sy oupagrootjie, sy oupa was ds. Charles Murray van Graaff-Reinet en sy vader was ds. Charles Murray (CD) van die Bosmanstraat-gemeente in Pretoria. Hy was tot sy dood erepresident van die Murray-familiebond. Sy moeder was ‘n onderwyseres, Elizabeth Wilhelmina Barry.

Nadat ds. Murray ‘n tyd lank afgelos het in die gemeente op Potgietersrus, is hy op 28 Maart 1942 in sy eerste gemeente, Vergenoeg in Kenia, bevestig. Daarna het hy nog ses ander gemeentes bedien: Piet Potgietersrus(1943); Chrissiesmeer (1948); Brixton (1952); Bethal (1955); Swellendam (1958) en Villieria (1962); Later in sy bediening was hy predikant in sinodale diens vir Ampsbediening en Evangelisasie in Noord-Transvaal (vanaf 1971).

In 1975 het hy ‘n oorsese studiereis oor evangelisasie onderneem. Hy het ook na sy aftrede in 1983 nog lank in Pretoria as hospitaalleraar gewerk en as hulpprediker in Port Shepstone gedien (1983 tot 1986).

Na sy finale emeritaat op 8 Maart 1989 het hy en sy vrou eers in Port Shepstone, toe Verwoerdburg en later in Kronendal (‘n groot aftreeoord) in Arcadia, Pretoria, gewoon.

Ds. Barry Murray is op 23 April 1916 op Parys in die Vrystaat gebore. Sy laerskoolonderrig het hy op Parys, en later Pretoria ontvang toe sy pa soontoe beroep is. Ds. Murray het in 1934 aan die Afrikaanse Hoërskool Pretoria gematrikuleer en hom in 1935 aan die Universiteit van Pretoria ingeskryf waar hy die graad BA behaal het.

In 1938 was hy een van die eerste vyf studente wat hulle ingeskryf het vir die teologiese kursusby die Teologiese Fakulteit (Afd B) in Pretoria. Hier het hy sy BD-graad in 1940 behaal en is hy op 5 Desember 1941 gelegitimeer.

Op 14 Maart 1942 is hy in die huwelik bevestig met Johanna Taillard. Hulle het drie kinders: Helen Lois (Groenewald); Andrew Charles Barry en Elna Reinet (van der Merwe).

Kenmerkend van Barry Murray was veral sy absolute toewyding aan sy roeping en sy ywer om deur die evangelie mense tot geesvervulde lewens in Christus te lei. Dit was ‘n passie wat geblyk het tydens preke in die dienste wat hy dwarsdeur die Transvaal gehou het in belang van ampsbediening en evangelisasie. Hy het ‘n visie gehad om gemeentes waarlik getuienisplekke vir Christuste maak. In sy gemeentes het hy baie getrou huisbesoek gedoen en het hy ‘n kerk en drie kerksale help bou. Hy het ook die woonstelblok Murrayhof in Villieria laat oprig en die eerste kerkraadskamp in die Transvaal gehou, wat later dikwels deur ander gemeentes nagevolg is.

By die kerk se kampterrein, Badseloop, het hy dikwels katkisasiekampe gehou. Tydens spesiale dienste (wat in sy tyd nog algemeen gehou is) het daar in vier gemeentes besondere herlewing gekom. Hy was ‘n ernstige man wat as profeet met sy hele lewe die Here gedien het.

Sy BD-skripsie het gehandel oor “Die beleid van president Kruger in die kerkstryd in Transvaal”. Sy proponentsverhandeling het gehandel oor “Die sendingwerk van die Transvaalse Ned Herv. of Geref. Kerk in Portugees-Oos Afrika”. Hy het ook ‘n skolingskursusvir die amp van gelowiges opgestel wat drie herdrukke beleef het en ‘n boek, Die doop en vervulling met die Heilige Gees, geskryf wat ook drie keer herdruk is.

Ds. Murray het ongeveer ‘n jaar voor sy dood simptome van Alzheimer-siekte gekry en was later van ‘n rolstoel afhanklik. Maar selfs dit het hom nie van kerkfunksies weggehou nie. Hy is oorlede terwyl hy een middag rustig in sy rolstoel gesit het.

‘n Roudiens is op 10 April in die Arcadia-gemeente gehou. Dit is gelei deur dr Andries Gous, wat hom in die verhouding van Timoteus teenoor Paulus gesien het ten opsigte van “Oom Barry” (soos hy later bekend was).

Sy eggenote is op 22 Junie 2001 oorlede weens die nagevolge van ‘n wrede ontvoering en aanval deur twee jong mans wat haar onder die indruk gebring het dat Barry in ‘n motorongeluk betrokke was. Sy is beroof en beseer.

Hy laat ‘n familie met meer as dertig lede agter.

(Dirk Viljoen, persoonlike vriend en kollega, aan die hand van sy biografiese Vorm wat hy op 26/1/1997 ingevul het en talle getuienisse oor hom onder andere van dr Andries Gous.)