Gestig
22 Januarie 1944
Ring
Sentraalmoot (vroeër Villieria)
Adres
24ste Laan 571, Villieria, Pretoria
Facebook-groep
Sluit in
Villieria
Eerste predikant
L.L.N. Botha (1945-1952)
Die NG Gemeente Villieria is ’n gemeente die sogenaamde Moot van Pretoria.
Stigting
Die gemeente is op 22 Januarie 1944 van die gemeente Eloffsdal met ’n ledetal van ongeveer 1 000 afgestig. Die jaar 1944 was ’n tydperk van geweldige uitbreidings in die getal NG gemeentes in die destydse Transvaal. In dieselfde jaar is in en om Johannesburg die NG Gemeentes Bezuidenhoutsvallei, Kriel (Maraisburg), Ferndale (later Randburg) en Parkhurst afgestig. In Pretoria is ook Onderstepoort, Quaggapoort en Lyttelton afgestig en elders in die provinsie Krugersdorp-Noord, Sanddrif, Rustenburg-Oos, Bremersdorp, Albertyn en Vereeniging-Wes.
Ds. L.L.N. Botha is op 10 Februarie 1945 as eerste leraar van die gemeente bevestig. Heersende oorlogsomstandighede het die uitbreiding sodanig gestrem dat die leraar meer as ’n jaar in ’n tydelike pastorie gehuisves moes word alvorens die permanente een voltooi en bewoon kon word, terwyl die kerksaal wat tot beskikking van die gemeente was en wat slegs akkommodasie vir ongeveer 250 lidmate gebied het, weens gebrek aan die nodige boupermit, nie vergroot kon word nie.
Kerkbou
Agttien maande ná die stigting van die gemeente is die kerkboufonds van stapel gestuur en twee jaar later is ’n aanvang gemaak, met die bou van die kerk. Desember 1948 was ’n groot maand vir hierdie gemeente, want toe is die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê, is ’n medeleraar beroep en is ’n aanvang gemaak met die bou van ’n tweede pastorie. Laasgemelde is einde Maart 1949 voltooi en ’n week later is die medeleraar, naamlik ds. H.J.C. Reyneke, in die gemeente ontvang en bevestig. Vyf maande later is die kerkgebou en teen die einde van daardie jaar die vergrote en verboude kerksaal ingewy.
Afstigtings
Die verstedeliking van Afrikaners het hom in hierdie gemeente besonder laat geld en die uitbreiding was fenomenaal sodat die ledetal ná twee jaar byna verdubbel het, met die gevolg dat afstigting onvermydelik was. In Augustus 1946 het die eerste afstigting, naamlik die gemeente Derdepoort, met 750 lidmate plaasgevind. Op 30 September 1950 is die gemeente Pierneef met ’n ledetal van 425 afgestig en kort daarna het die medeleraar, ds. Reyneke, die beroep daarheen aangeneem.
In 1951 berig Ons gemeentelike feesalbum: “In sy korte bestaan van slegs sewe jaar het die gemeente sodanig uitgebrei dat twee gemeentes afgestig en ’n bouprogram van ongeveer £36 000 uitgevoer is.” Gedurende Mei 1951 het die kerkraad besluit om weer ’n medeleraar te beroep en is ook op ’n verdere bouprogram ten bedrae van ongeveer £12 000 besluit in daardie gedeeltes waar toekomstige afstigtings moet plaasvind.
Op 24 Augustus 1951 is ds. G.F.K. Carstens as medeleraar ontvang en bevestig. Destyds was die gemeente se kerkraad seker een van die grootste in die land: in 1951 het dit uit 102 lede bestaan, terwyl dit voor die jongste afstigting 116 was.
Die gemeente se medewerker skryf in Ons gemeentelike feesalbum: “Om so ’n groot kerkraad op volle sterkte te hou, is voorwaar nie ’n gemaklike taak nie, in besonder waar dit stedelike gebiede geld waar lidmate kom en gaan; dog in hierdie geval moet met dankbaarheid teenoor die Meester gekonstateer word dat daar altyd manne gevind kon word wat na vore gekom het in antwoord op die roepstem van die gemeente om ons Here Jesus hier te dien.”
Predikante
- Louis Lawrence Nel Botha, 10 Feb. 1945 – 1952
- Hendrik Johannes Carel Reyneke, 1949 – 1951 (waarna eerste leraar van dogtergemeente Pierneef tot 1954)
- George Frederik Kellerman Carstens, 1951 – 1953
- Willem Johannes Lubbe, 1952 – 1955
- Wilhelm Marthinus Strydom, 1954 – 1956
- Pieter Nicolaas Viljoen de Lange, 1955 – 1958
- Jozua Johannes Georg Loots, 1956 – 1958 (waarna eerste leraar van dogtergemeente Villieria-Oos)
- Pierre Rossouw, 1958 – 1962
- Richard Barry Murray, 1963 –
- Carel van der Merwe Du Toit, 1975 – 1979
- Gert Johannes Cloete, 1976 – 1992
- Jan Lion-Cachet Pienaar, 1983 – 1985
- Christoffel Johannes Swarts, 1986 – 1988
- Jacobus Johannes Gerber, 1988 – 1996
- Johannes Adolf Cronje, 1992 – hede (Kpln)
- Erich Dürr Botha, 1993 – 1995 (Kpln)
- Benjamin Powell, 1996 – 2006
- Jacobus Strydom, 2001 – hede
- Rehan Rheeder, 2003 – hede
- Frederick Foster du Toit, 2006 – hede
- Yvette Bosman, 2017 – hede (Echo Jeugontwikkeling)