NG Gemeente Swellendam

Die NG moederkerk op Swellendam is in 1910 opgerig.

Gestig

1798

Waarby ingelyf

Swellendam-Wes, 2008

Ring

Swellendam

Adres

Voortrekstraat, Swellendam

Sluit in

Swellendam en distrik

Eerste predikant

J.H. von Manger

Die NG Gemeente Swellendam is die enigste gemeente van die NG Kerk op die geskiedkundige Overbergse dorp met dieselfde naam.

Eers 53 jaar ná die proklamering van die distrik Swellendam en die aanlê van die drosdy en die dorp aan die voet van die Langeberge, het die stigting van die gemeente Swellendam in 1798 deur die opdrag van die goewerneur tydens die eerste Engelse besetting van die Kaap, lord George Macartney, plaasgevind.

Swellendam, met sy ryke tradisie en interessante verlede, is die sewende oudste gemeente van die NG Kerk. Binne die gebied van die oorspronklike gemeente is met die jare meer as 15 gemeentes gestig. Met die driehonderdjarige viering in 1952 van die volksplanting aan die Kaap het die gemeente geografies ’n gebied van 50 by 50 myl (80 x 80 km) beslaan, waarbinne sy 2 650 lidmate en 4 100 siele gewoon het, met gereelde kerkplekke in sale en selfs ’n kerkgebou in die buitewyke. Ondanks die inlywing van Swellendam-Wes by die moedergemeente, was dié se lidmaattal 1 184 en sy sieletal 1 451.

Die Swellendam kerkgebou wat van 1785 tot 1909 gebruik is.

Die eerste rietdak kruiskerk is in 1802 gebou met die heer Christoffel Koents, as bouheer. Hy het ook die preekstoel van stinkhout en geelhout met panele van kasuarishout-finering gebou.

Die eerste kerkgebou is in 1875 vergroot en was in gebruik  tot 1910, toe hy afgebreek is en plek gemaak het vir die nuwe met sy 1 200 sitplekke. Dit is in 1911 teen ʼn koste van 41,000 gulde of £7,500 voltooi is. Die argitekte was F.W. en F. Hesse van Kaapstad en die boumeesters, die firma Moon en Ledbury. Dit is op 10 Julie 1911, tydens die dienstyd van ds. A.G. du Toit, ingewy. Die eerste 43 jaar van sy bestaan het die gemeente gebuk gegaan onder ’n sware skuldelas wat deur die bou van die eerste kerk veroorsaak is.

Ds. J.H. von Manger was die eerste van die meer as 30 evangeliedienaars wat die gemeente benewens ’n hele paar hulppredikers bedien het. Vanaf 1908 is gebruik gemaak van ’n hulpleraar en sedert 1917 is die werksaamhede deur ’n eerste en tweede predikant behartig. Sedert 1944 het die gemeente twee medeleraars en tussen 1948 en 1950 was hier drie medeleraars.

Dr. William Robertson, na wie die dorp Robertson genoem is, het die langste dienstyd in die gemeente gehad, naamlik 38 jaar. Ds. D.J. Malan kon slegs 10 maande lank die gemeente bearbei voor sy vroeë dood (1905), hoewel sy geestelike spore dekades later nog waarneembaar was.

Tye van buitengewone geestelike seëninge en herlewings kenmerk die gemeentelike geskiedenis en het baie bygedra tot sy ryke verlede. In 1948 is die 150-jarige bestaan van die gemeente feestelik gevier en sy geskiedenis saamgevat in ’n gedenkboek onder die opskrif Een en ’n halwe Eeu van Genade.

Dr. Rossouw en gesin omstreeks 1944 toe hy predikant was van Swellendam. Elize Botha, later Suid-Afrika se presidentsvrou, is op die inlas.

Dr. Servaas Rossouw se bediening

Die bevestiging van dr. Servaas Rossouw (1890–1956) het einde Januarie 1930 plaasgevind. Op 10 Februarie 1930 het hy die eerste kerkraadsvergadering gelei. Die dienstyd van dr. Rossouw het groot verwagtings by die gemeente gewek en groot belangstelling gaande gemaak. ’n Besoeker aan Swellendam tydens die Oktober-Nagmaal van 1931, toe ook 108 lidmate voorgestel is, het in ’n berig aan Die Kerkbode meegedeel hoe diep hy getref is deur die eensgesindheid van die gemeente en die pragtige opkomste. “Lidmate getuig van hul ingenomenheid met hul beminlike en ywerige leraar.”

Kerksale word opgerig

Zuurbraak

Die behoefte aan ’n kerksaal op Zuurbraak is reeds lank gevoel. Met verloop van die jare het wit mense ál meer ingetrek in die dorp van hierdie ou sendinggemeente. Op die kerkraadsvergadering van 10 Februarie 1930 gee ouderling M.J. Crous kennis dat hy op die volgende vergadering die noodsaaklikheid van ’n kerksaal te Zuurbraak sal voordra. Genoemde vergadering op 19 April besluit toe tot die oprigting van ’n saal op Zuurbraak en benoem as kommissie om ’n geskikte erf vir die doel daar te kry, die broeders M. Crous, G. Linde, P. Badenhorst en P. van Niekerk. Feitlik eers ’n jaar later besluit die kerkraad tot die koop van die erf van mnr. H. de Bruyn en word die tender van mnr. H. Matthee vir £468 10s. vir die bou van die saal aangeneem. Op Donderdag, 22 April 1931, kon dr. Rossouw die hoeksteen lê, toe hy die woord gevoer het oor “Ebenhaeser”. Die inwyding van die saal op 29 Julie 1931 was ’n heuglike geleentheid!

Die Nuwe Bethelsaal, ingewy op 17 Julie 1935.

Nuwe Bethelsaal

Die plan van ’n nuwe saal meer sentraal in die dorp het nie ingang gevind nie. Op ’n vergadering van die kerkraad in Oktober 1929, toe ’n lang bespreking gevoer is in verband met die ou Bethelsaal, het dit sterk geblyk dat die broeders vir ’n nuwe saal voel, maar dan op dieselfde plek. In April 1930 benoem die kerkraad ’n kommissie om planne vir ’n nuwe saal in gereedheid te bring, op voorwaarde dat dit op dieselfde plek gebou word. Die kommissie het bestaan uit die voorsitter, en die broeders C.D. van Zyl, J.W. van Eeden, J.P.H. Vaughan en B.H. van der Westhuizen. Vier jaar het egter verloop voordat finaliteit in hierdie onderneming verkry is. Eers in Oktober 1934 aanvaar die kerkraad die tender van mnr. Karg vir £1 379 10s. wat ook die sloping van die ou saal ingesluit het, hoewel die koste op die ent op £1 400 te staan gekom het, behalwe nog die stoele. Op Woensdag, 6 Maart 1935, kon die hoeksteen van die nuwe Bethelsaal deur dr. Rossouw gelê word. Die inwyding van hierdie mooi en doeltreffende saal – sieraad van die onderdorp – was ’n dubbele geleentheid. Op die aand van Hemelvaartsdag 1935 het dr. Rossouw ’n wydingsrede gehou oor Jes. 54:2 : “Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.” Die feestelike inwyding het plaasgevind op Woensdag, 17 Julie 1935. Toesprake van gelukwensing is gehou deur ds. W.N. van der Merwe (Heidelberg), mnr. L.J. Vosloo (magistraat) en mnr. G.A. Scholtz namens die burgemeester. In sy gelukwense het ds. Van der Merwe onder meer hierdie stelling aangevoer: “As die saal die teken is van die afstigting van ’n nuwe gemeente,. dan is die bou van die saal stellig ’n stap in die regte rigting.” Oud-ouderling C.D. van Zyl het namens die onderdorp en ouderling J. Vaughan as Sondagskoolsuperintendent namens die kinders hul dank aan die kerkraad oorgedra. Die basaar met dieselfde geleentheid het £140 byeen-gebring.

Die Sofiasaal

Op ’n kerkraadsvergadering op 18 April 1932 het die broeder J.J. du Toit kennis gegee dat hy by die volgende vergadering oor die wenslikheid van ’n saal vir Kluitjieskraal-wyk sal spreek. Verder as hierdie kennisgewing het dit vereers nie gekom nie. Toe breek die geseënde Pinkstertyd van 1933 aan. Veral ook in die wyk Kluitjieskraal het baie bekeringe, plaasgevind. Met die vernuwing van hierdie seëninge in die Pinkster van 1934 het die begeerte by lede van daardie wyk baie sterk posgevat om ’n saal op te rig. Die groot opkomste na bidure het die behoefte aan so ’n saal diep ingeskerp. ’n Kommissie om leiding te neem in hierdie onderneming is toe in die lewe geroep. Hiervan het die kerkraad met dankbaarheid kennis geneem op sy vergadering” van 17 Julie 1934. Die morg grond vir die saal is geskenk deur die wed. Sofia van Dyk, na wie die saal vernoem is. Die saal is gebou deur die broeder J.J. Streicher, maar almal het so ver moontlik hand bygesit om die koste so laag as moontlik te hou. Die broeder D.C. van Dyk was aangestel om toesig te hou en die werksaamhede te reël. Die £500-koste van die saal is gevind deur vrywillige bydraes, ook van belangstellende vriende uit buurgemeentes. Op sy vergadering van 15 Julie 1935 het die kerkraad die kaart en transport van hierdie saal oorgeneem met innige dankbaarheid teenoor die biduurkring van Kluitjieskraal.

Malagassaal

Op sy vergadering van 15 Julie 1935 het die kerkraad opdrag gegee aan die voorsitter en die ouderling en diaken van Malagas-wyk om onder-soek in te stel na die moontlikhede van ’n saal op Malagas vir basaardoeleindes. Op 21 Oktober 1935 het die kerkraad die bou van ’n saal op Malagas finaal bekragtig. Die broeder H. Gildenhuys het die erf langs die kerkgebou vir die doel geskenk en sy seun, broeder C. Gildenhuys, het hom baie beywer om die geld daarvoor te kollekteer. Die saal van sink en hout is gebou deur die broeder A. Lourens.

BuffelsjagsSaal

Hierdie saal van sink en hout is oorspronklik opgerig deur die publiek van Buffeljags, maar in April 1940 aan die kerkraad oorgegee op sekere voorwaardes, wat vasgelê is in ’n geskrewe kontrak. Die beheer van die saal berus by ’n kommissie bestaande uit die voorsitter van die kerkraad, die ouderling en diaken van Buffeljags-wyk, en drie lede gekies deur die publiek van Buffeljags elke twee jaar.

Storms oor Stormsvlei

Hoewel die wyk Stormsvlei aanvanklik nie aan Riviersonderend afgestig wou word nie, het 153 lede uit daardie wyk tog in 1927 ’n petisie geteken en by die kerkraad van Riviersonderend ingedien met die versoek om voortaan onder daardie gemeente te sorteer. Weens die beperkte sitplekke in sy kerksaal moes die kerkraad die versoek van die hand wys. In Oktober 1929 verskyn twee broeders, Le Roux en Fourie, van Stormsvlei, voor die kerkraad van Swellendam met ’n petisie onderteken deur 114 lidmate, waarin hulle versoek om aan Riviersonderend afgesny te word saam met ’n skenking van £500 van Swellendam aan Riviersonderend. Op sy vergadering van 10 Februarie 1930 vaardig die kerkraad ’n kommissie af om ’n afvaardiging van Riviersonderend se kerkraad op Stormsvlei oor die versoek te spreek. Riviersonderend vind dit egter onmoontlik om aan die versoek toe te gee, omdat sy kerksaal nie ruimte vir ekstra lidmate kan bied nie. In 1933 ontmoet verteenwoordigers van Swellendam se kerkraad (dr. Rossouw, en die broeders M.J. Streicher, J.P. Joubert en Hans Cilliers) en van Riviersonderend se kerkraad mekaar weer op Stormsvlei. ’n Ooreenkoms vir die aansny van die wyk Stormsvlei aan Riviersonderend word getref, en die hele saak word verwys na die Ringskommissies van die Ringe van Stellenbosch en Swellendam. Op 22 Mei 1934 vergader die twee Ringskommissies op Stormsvlei, toe die broeders M.J. Streicher, J.P. Joubert en Hans Cilliers die kerkraad van Swellendam verteenwoordig het. Die Ringskommissies bekragtig die ooreenkoms wat reeds getref was vir die afsny van Stormsvlei, en hul scriba verwittig beide kerkrade van Swellendam en Riviersonderend dat die grenslyne vasgestel sal word vanaf die poort met die loop van Noukloof oor die plase Kleinfontein, Brakfontein, Leeukop en Hanskraal, met die verstandhouding dat die teenswoordige beswaarde grondbesitters van genoemde plase en hul eggenotes hul kerklike voorregte op Swellendam mag bly behou solank as wat hulle verkies. Alle ander bewoners van die plase sal ressorteer onder Riviersonderend. Die uitvoering van hierdie ooreenkoms het egter skipbreuk gely op ’n vergadering van Swellendam se kerkraad op 17 Julie 1934, toe eenparig besluit is dat die versoek om afstigting van Stormsvlei teruggetrek word. In Julie 1938 kom daar weer ’n petisie van Storms-vlei voor die kerkraad. Riviersonderend se nuwe kerk het toe voltooiing genader: daar sou meer sitplek-ruimte wees. Dit het die Stormsvleiers nog ’n keer laat dink aan die moontlikheid om by Riviersonderend ingelyf te word. Ons kerkraad dra toe hierdie versoek oor aan Riviersonderend se kerkraad, maar in die lig van 1934 se gebeurtenisse – toe die ooreenkoms tot afstigting by Swellendam se kerkraad skipbreuk gely het – het daardie kerkraad nie sy weg oopgesien om aan die versoek te voldoen nie.

Die Human-fonds

Onder die baie kosbare en histories waardevolle dokumente in besit van die kerkraad is die testament van wyle die heer Johan Zacharias Human, wat in 1867 die testament opgestel en in 1884 oorlede is. Volgens hierdie testament, wat die Eksekuteurskamer, Kaapstad, en die dienende kerkraad, Swellendam, as gesamentlike trustees aanwys, is oorspronklik £1 200 gelaat, wat bekend sal staan as die Human-armefonds en as volg beskikbaar sal wees: die rente op £1 000 moet aangewend word vir die opvoeding van behoeftige kinders en hulpverlening aan behoeftige, gebreklike of kranksinnige volwassenes in die nageslag van genoemde J.Z. Human; die rente op £100 moet die kerkraad ontvang as bydrae tot die salaris van die predikant; en die rente op die ander £100 moet deur die kerkraad gebruik word vir sending werk; alle ongebruikte rente moet by die kapitaal gevoeg word; en wanneer die kapitaal verdubbel het, moet die kerkraad rente ontvang op £400. Op 31 Desember 1902 het die kapitaal die som van £2 200 bereik en is sedertdien aan die kerkraad rente op £400 uitbetaal. In 1922 is die breë kerkraad deur die bemoeiinge van ds. Du Toit weer ingelig met al die inligting aangaande hierdie fonds. In 1932 het die kerkraad wetsadvies ingewin oor die moontlike opheffing van die fonds, omdat die administrasie daarvan vir die kerkraad heelwat moeite en verantwoordelikheid kos. Hierdie fonds mag egter nie opgehef word nie, omdat die doel van die testament nog nie tot niet is nie. Met die jare het die kapitaal van die Human-fonds deur ongebruikte rente so opgeloop dat dit in 1948 op £8,957 staan. Al wat ons gemeente hiervan kry, is tans £20 per jaar – die rente op £400 – verder behoort niks daarvan aan die kerkraad nie. As mense op grond van hierdie fonds te kenne gee dat Swellendam ’n ryk gemeente is, dan ontbreek dit sodanige bewering aan alle grond! In 1948 ontvang 34 nakomelinge van die Human-familie hulp uit die fonds teen ’n gesamentlike bedrag van £376 vir die jaar.

Hulp aan Noodlydendes

Tydens die droogte van 1933, wat sy verwoestende kloue so diep ingeslaan het in groot gedeeltes van Suid-Afrika, het ons kerkraad en gemeente ook sover moontlik die helpende hand gebied. Geld, meel en ander produkte is na geteisterde gebiede gestuur.

Ontvangs van die Afrikaanse Bybel

Op Sondag, 27 Augustus 1933, is die oggenddiens spesiaal ingerig met die oog op die ingebruikneming van die Bybel in ons moedertaal. Terwyl die gemeente reeds die kerk gevul het, het Elize Rossouw (later mev. P. W. Botha), vergesel van Ria Tomlinson (later onderwyseres op Stellenbosch), en nog ’n dogtertjie, almal in wit geklee, die Afrikaanse Bybel op ’n kussing die kerk ingedra. 158 Voor die kansel het dr. Rossouw dit in ontvangs geneem. In die loop van sy boodskap het hy die ver-lange van die kerkraad te kenne gegee, dat nie een huis in die gemeente sonder ’n Afrikaanse Bybel moet wees nie, en ’n oproep gedoen vir skenkinge. Onmiddellik na die diens het mnr. L.L. Tomlinson 40 Bybels geskenk vir verspreiding onder behoeftiges ’n voorbeeld wat deur ander gevolg is. Verbeteringe. In 1932 is die verligting van die kerktoring in die aande aangebring. In 1933 is die kerk voorsien van Psalm- en Gesangbordjies, weerskante van die kansel — ’n geskenk van mev. G. van Dyk. In 1939 het die kerkraad besluit tot die verfraaiing van die kerkgronde. In 1940 is die ou korrespondensie en ander waardevolle stukke mooi netjies en stewig ingebind om as gemeentelike argiefstukke beter bewaar te word. Aan die stigting van ’n fonds vir ’n nuwe orrel het die kerkraad in 1939 sterk gedink, maar in 1940 daarvan afgesien met die oog op die oorlogsomstandighede. In 1940 is egter ’n nuwe elektriese blaser, ’n “tremulo” en ander verbeteringe aan die orrel aangebring teen ’n koste van £125.

Hulpdienste

Dit was vir dr. Rossouw ’n onmoontlike taak om die groot gemeente alleen te behartig. Van Desember 1930 tot Mei 1931 het die kerkraad gebruik gemaak van die hulpdienste van prop. C.C. van Dyk, wat daarna georden is as predikant van Marchand, vanwaar hy in 1941 na Krugersdorp is. Van Junie 1931 tot Desember 1933 is hulpdiens in die gemeente verrig deur ds. P.J.J. Boshof, wat in 1931 in Bloemfontein sy emeritaat aanvaar het. Blyke van waardering van sy geseënde dienste is meermale deur die kerkraad aan hom te kenne gegee. Toe hy in die begin van 1933 — dit was in die begin van die jare toe die beskikbare arbeidskragte die arbeidsaanvraag in ons kerk oortref het — wou plek maak vir ’n proponent, het die kerkraad hom versoek om nog tot die einde van daardie jaar met die gemeentelike werksaamhede te help. Ds. Boshof is oorlede op 14 April 1944.

In 1944 het dr. Rossouw ’n beroep aangeneem na sy laaste gemeente, Maitland, in Kaapstad. Daar het hy gebly tot in die vyftigerjare. (Geskryf deur Morne van Rooyen).

Virtuele toer

Doen gerus ‘n virtuele toer van die gebou hier.

Predikante