Faasen, Jakob Stephanus

 

GEBORE

18 Sep. 1913

OORLEDE

24 Jun. 1999

UNIVERSITEIT

GELEGITIMEER

1938

ORDEN

1940

STANDPLASE

1940 Hopefield

1941 Mariental

1942 Vredendal

1943 Willowmore/Rietbron

1944 Vredendal (werkkring)

1947 Vredendal

1948 Porterville

1953 Riviersonderend

1962 Die Strand

EMERITEER

Jacob Faasen is gebore te Dal Josefat, Wellington op 18 September 1913. Sy vader Pieter Jeremias Faasen was ‘n boer en sy moeder was Elizabeth Margaretha Gerber. Hulle was ‘n huisgesin van sewe broers en een suster. Kort na sy sterwe, is die suster en die laaste broer ook oorlede, sodat nie een van die gesin tans nog lewe nie.

Jacob was eers by die Oudepont plaasskool vanaf 1928 waarna hy die Wellingtonse Hoër-Jongenskool vanaf 1929 bygewoon het. Daarna het hy na die Hoërskool Tulbagh gegaan waar hy in 1934 matriek geslaag het. Van jongs af het hy die begeerte gehad om vir predikant te studeer met die oog op sendingwerk. Daarom het hy vanaf 1935 tot 1938 na die Sendinginstituut op Wellington gegaan. Op 29 November 1938 is hy gelegitimeer en op 22 Maart 1940 is hy in sy eerste NG Sending-werkkring te Hopefield georden.

Vanaf 1941 word hy hulpleraar in die NG Gemeente Mariental met opdrag die bediening van Kleurlinge. Op 4 Julie 1942 is hy bevestig in die werkkring van die NG Sendinggemeente Vredendal. In 1943 (13/ 11/1943) skuif hy na die Gemeente Willowmore-Rietbron van die NG Sendingkerk (NGSK) en in 1944 gaan hy weer terug na Vredendal, eers na die Werkkring van die Sendinggemeente, en, na gemeentestigting in 1947, word hy predikant van die NGSK-gemeente Vredendal. Op 25/ 09/1948 is hy in die Gemeente Porterville van die NG Sendingkerk bevestig waar hy vyf jaar arbei. Op 1 Augustus 1953 het na die NG Sendingkerk-gemeente Riviersonderend verskuif. Uiteindelik het hy op 10 Februarie 1962 leraar van die NG Sendinggemeente die Strand geword. Hier het hy altesame sestien jaar gearbei tot sy aftrede op 10 Desember 1978.

Hy het in die huwelik getree met Maria Magdalena Kotzé van Moorreesburg en hulle het drie kinders gehad, Pieter Jeremias (gebore 27/08/1947 en oorlede op 12/06/1969); Dirk Johannes Albertus (gebore 21/08/1952) en Jacob Stephanus(gebore 23/03/1958); Daar is reeds ses kleinkinders. Hy was ‘n pa wat die belange van sy kinders altyd op die hart gedra het, al het hy dit nie altyd demonstratief gewys nie.

Wat sy bediening betref, meld hy dat hy telkens in jong werkkringe gestaan het en dusdie voorreg gehad het om die verandering in mense se lewens te sien. Veral in sy laaste gemeente, die Strand, waar daar genoegsame geriewe vir gemeenteaksies was, het hy hom baie toegespits op die jeug. Onder sy leiding is twee kerkgeboue opgerig, sowel as enkele skole.

Sy eerste prioriteit in sy bediening was om die evangelie van Jesus Christus suiwer volgens God se Woord te verkondig en siele na Jesuste lei. Ook die opvoeding van die kinders was virhom baie belangrik.

Hy het deel gehad aan belangrike kommissie werk in die kerk, soos die Sinodale Sendingkommissie en die Regskommissie, terwyl hy in die besture van die Skool vir Dowes en die Steinthal-Weeshuis gedien het.

Met die 75ste bestaansjaar van die NGSK-gemeente die Strand, het hy die geskiedenis van die gemeente te boek gestel.

Na sy aftrede het hulle in die Strand gaan woon in Huis Jan Swart waar hy nog afloswerk in verskeie gemeentes, soos Sutherland, Beaufort-Wes en Vredendal, gedoen het. Hy was ook vir ‘n tyd lank hulpprediker in die Strand-moedergemeente.

In 1988 het hy ‘n hartomleidingsoperasie gehad waarvan hy goed herstel het. Hy is egter op 85-jarige ouderdom oorlede in die Strand. Nadat bloeding skielik ontwikkel het, is hy na die Hottentots Holland-hospitaal geneem, waar hy gesterf het. Sy eggenote is reeds ‘n jaar voor hom oorlede op 12 Junie 1998.

As leraar, was hy gewild – ook onder die lidmate van die meestal bruin-gemeentes wat hy bedien het. In ‘n stadium het hy egter baie swaargekry aangesien daar ‘n beweging ontstaan het wat hulle daarvoor beywer het om soveel as moontlik wit leraars uit die Sendingkerk te ban. Hy het egter volhard en later hartlik saamgewerk met ‘n bruin-medeleraar. Hy was dan ook iemand wat goed klaargekom het met almal. Hy het bekend gestaan as die “vredemaker”. Sy prediking was Bybels en volgens die reëls. So was sy hele lewe ook: volgens die voorskrifte van die Bybel en die Kerkwet – ‘n besonder geordende en gedissiplineerde man, soveel so dat hy selfs sy eie begrafnis haarfyn gereël het en sy kinders net sy dokumente na die betrokke instansies kon neem. Dirk Viljoen na aanleiding van sy biografiese vorm wat hy op 03/02/1997 ingevul het en ‘n gesprek met sy seun, Dirk.