NG Gemeente Hopefield

Die Hopefieldse NG kerkgebou. Die sentrale deel daarvan is in 1877 opgerig en die toring en vleuels in 1911. Folkert Wilko Hesse was verantwoordelik vir die ontwerp van die toring en vleuels.

GESTIG

13 Desember 1851

Ring

Piketberg

Adres

H.v. Voortrekker- en Markstraat, Hopefield

Sluit in

Hopefield en omgewing

Eerste predikant

J.H. Neethling (1854–1904)



Die NG Gemeente Hopefield se swaartepunt is op die Sandveldse dorp Hopefield. Dit is op 13 Desember 1851 van die NG Gemeente Swartland afgestig en is die 48ste oudste bestaande NG gemeente. In 1902 het Vredenburg van Hopefield afgestig, in 1957 Saldanha/Langebaanweg en in 1988 Langebaan.

Agtergrond

Voor die stigting van Hopefield in 1851, het die gemeente Swartland bestaan uit Moorreesburg, die Riebeekvallei, Darling, Hopefield, Vredenburg en Saldanha, ’n gebied waarin teen 2018 altesaam 11 gemeentes geleë was. Dit was ’n byna onbegonne taak vir een leraar om al die gemeentelede in dié uitgestrekte gebied te bedien. Lidmate het ook net die kerk op Malmesbury vir spesiale geleenthede besoek, soos troues, aanneming van lidmate en die bediening van die doop. Iemand wat aan die kus gewoon het, sou minstens twee weke uit en tuis met ’n ossewa moes reis. Met ’n perdekar het dit minstens ’n week geduur.

Op 26 September 1844 dien ’n memorandum van J. van Renen en 87 medeondertekenaars voor die Ring van Tulbagh waarin hulle vra vir die bou van ’n kerk “aan zogenaamde Uitspanplaats genaamd de Orangefontein”. Dié voorgestelde ligging vir ’n kerk was in die distrik Groenekloof en ’n gedeelte van “Zwartland en Saldanha Baai”, met ander woorde in die omgewing van die huidige Darling. Ds. Moorrees van Swartland het tydens die ringsitting verklaar daar bestaan geen rede om die versoek te weier nie. Die Ring sowel as die kerkraad het kommissies aangestel om die saak te ondersoek.

Toe dit bekend raak dat dié versoekskrif voor die Ring van Tulbagh dien, het ene H. Albertyn op 25 November 1844 namens die ingesetenes van Saldanhabaai by die skriba van die Ring beswaar gemaak teen die bou van ’n kerk op Groenekloof. Hy het beweer dat dit vir hulle ’n twee uur lange tog deur swaar sand na Malmesbury was, maar dat dit vier uur na Groenekloof sou duur. Hy beveel aan dat ’n kerk aan die Soutrivier, wat deur die huidige Hopefield loop, opgerig word. Nadat Van Renen van dié petisie te hore gekom het, het hy sy versoek teruggetrek, veral nadat van sy petisionarisse onttrek het.

Die Swartlandse kerkraad het op 5 Oktober 1850 ’n skrywe van enige ingesetenes van Saldanhabaai behandel waarin hulle versoek om afgeskei te word van die gemeente. Ds. Moorrees het self aan die Ring geskryf en gevra hulle moet die petisionarisse inlig oor die prosedure wat hulle vir afstigting moes volg. Die kerkraad het die afstigting heelhartig gesteun omdat dit hul en die predikant se werk aansienlik sou vergemaklik as ’n deel van die uitgestrekte gemeente sou afstig. Darling het twee jaar later, in 1853, aan die beurt gekom, Riebeek-Wes in 1858, Riebeek-Kasteel in 1863 en Moorreesburg in 1879.

Op 22 November 1850 skryf J.J. Kotzé sr. van die plaas Lange Riet Vallei (later genoem Langrietvlei) en medekerkraadslede aan die gemeente Swartland dat hulle, omdat hulle baie daarna verlang het dat ’n kerk in hul nabyheid gebou word en omdat dit so moeilik is om die kerk op Malmesbury by te woon, ’n plaas op ’n openbare veiling gekoop het en wat hulle toe vir die helfte van die plaas “Lange Kuil aan Zout Rivier” van die heer Dirk Visser geruil het omdat dit beter geskik is vir die aanleg van ’n dorp. Kotzé lig die kerkraad in dat hulle van voorneme was om erwe daar te verkoop en die opbrengs daarvan te gebruik om ’n kerk te bou. Hulle was ook bereid om die hele eiendom aan die kerk af te staan sodat die kerk dit in die belang van die gemeente en die dorpelinge sou kon gebruik.

Stigting

Vanweë die voordele wat die nuwe gemeente sou geniet, het die Ring van Tulbagh op sy sitting van Oktober 1851 geredelik ingestem tot die stigting van die nuwe gemeente. ’n Kommissie is aangestel om toesig oor die nuwe gemeente te hou tot die goewerneur dr. John W. Louis Scholtz van Piketberg se aanstelling as konsulent kon bekragtig. Dié kommissie moes ok die grense van die gemeente vasstel.

Hulle het op Dinsdag 13 Desember 1851 op die plaas van die heer Dirk Visser vergader en die grense bepaal as: aan die noordekant, die Bergrivier, aan die westekant, die seekus, aan die suide- en oostekant, ’n lyn getrek van die seekant tot aan die Bergrivier met insluiting van die volgende plase: Buffelsfontein, Zwartwater, Schilpadfontein (Sonkwasfontein), Roodenpan, Koekjespan, Vogelstruisfontein, Visscherskraal, Zwartberg en Klipheuwel. Met die afstigting van Darling in 1853 het die plase Buffelsfontein, Zwartwater, Schilpadfontein, Roodenpan, Koekjespan en Uilenkraal na die nuwe gemeente gegaan terwyl die bewoners van Vogelstruisfontein em Zwartberg verkies het om onder Malmesbury te bly.

Intussen het die volgende plase noord van die Bergrivier versoek om by die Hopefieldse gemeente ingedeel te word omdat Hopefield baie nader aan hulle was as Piketberg: Klipheuwel, Dorreboom, Soutkloof, Kersefontein, Doornfontein en Melkplaas. Die gemeente het oor ’n reuse gebied gestrek, maar dit was yl bevolk en het daarom uit net sowat 1 000 siele en 500 lidmate bestaan. Dié syfers was egter waarskynlik onakkuraat omdat gesinne destyds groot was en die sieletal dus te laag geskat is of die lidmaattal te hoog.

Die koloniale sekretaris het dr. Scholtz op 8 Februarie 1852 in kennis gestel dat die goewerneur, sir Harry Smith, die voorgestelde grense van die nuwe gemeente Zoutrivier goedgekeur en die Piketbergse leraar se aanstelling as konsulent goedgekeur het teen die vergoeding wat gewoonlik met dié amp gepaard gegaan het. Intussen het die trustees van die plaas Lange Kuil by die luitenant-goewerneur aansoek gedoen dat die naam van die te stigte dorp verander word na Hopefield na aanleiding van mnre. Hope, “den vertegenwoordiger collecteur der Douane”, en Field, “den fungerenden Secretaris van het Gouvernement”.

Ná ’n skrywe van die koloniale sekretaris op 4 Mei 1853 aan die aktuarius van die Sinode word die naam van die nuwe gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aan die Zoute Rivier in die afdeling Malmesbury in die Staatskoerant van 8 Mei 1853 as Hopefield afgekondig. Terselfdertyd verskyn die volgende beriggie in die Kerkbode: “Het nieuwe dorp dat aan de Zouterivier naby Saldanhabaai sal word opgericht, zal de naam dragen van Hope-Field … Voor eenen leraar is van gouvernements wege toegekent £100 tot salaris.”

Die ringskommissie het die eerste kerksaadslede op 13 Desember 1851 aangestel, naamlik as ouderlinge J.J. Kotzé sr. van Lange Riet Vallei en Dirk Visser van die plaas Matjesfontein (wat die stigters van die dorp by hom geruil het vir Lange Kuil) en as diakens Constant Laubscher, J. Basson, Frederick Bester en W.E. Thuinsma. Blykbaar het Basson en Thuinsma nie die benoeming aanvaar nie, want diakens J. Albertyn en Alex van Breda is in hul plek benoem. Die eerste kerkraadsvergadering is eers in September 1853 gehou weens die bedanking van die benoemde kerkraadslede en die gevolglike gesloer met die voorstelling van die kerkraadslede. Die gebruik om kerkraadslede in September elke jaar te kies het jare lank in die gemeente bly voortbestaan. Hulle is dan gewoonlik in November voorgestel.

Die gemeente se kerksaal is in 1926 in die Kaaps-Hollandse herlewingstyl opgerig. Dié styl het in 1900 in Suid-Afrika posgevat en was veral ná 1920 baie gewild.

Eerste leraar

Weens die gedurige probleme om al die kerkraadslede teenwoordig te kry op ’n vergadering is die eerste beroep vir ’n leraar eers op 3 Augustus 1853 uitgebring word. Dit was ’n byna onmoontlike taak op ’n vergadering te belê. Dr. Scholtz het op Piketberg gewoon en hy en die skriba, Alex van Breda, moes per boodskap of brief kommunikeer. Daar was ook onduidelikheid of al die kerkraadslede wel bewus was daarvan dat ’n vergadering belê is. Nietemin het ses lede en die konsulent die vergadering in Augustus 1853 bygewoon toe die sewe teenwoordiges nege moontlike leraars benoem het. Eindelik is besluit hulle moes kies tussen di. J.H. Neethling, Philip Eduard Faure en J.W.L. Scholtz. Ná die stemmery is ds. Neethling beroep.

Die gemeente is dus amptelik gestig en ’n leraar beroep, maar ten spyte van die stigters se belofte dat hulle ’n kerk sou oprig, het die gemeente nog geen eiendom besit nie. Dienste moes in die waenhuis en graanskuur van die plaasopstal gehou word. Dis onduidelik waar dié gebou gestaan het, maar volgens oorlewering was dit die gebou op die hoek van Voortrekker- en Kerkstraat, teenoor die huidige Pep Stores, wat gesloop is toe Voortrekkerstraat verbreed is. Die kerkraad het besluit om die gebou voorlopig vir godsdiensoefeninge in orde te bring teen die begin van Desember 1853, maar die gemeente het geen geld gehad nie. Die opdrag is wel uitgevoer, maar dis nie meer bekend of daar van die kommissielede verwag is om die koste self te dra nie.

Ds. J.H. Neethling was van 1854 tot 1904 Hopefield se eerste leraar. Hy was een van drie Neethling-predikante in die NG Kerk wat hul loopbaan lank net een gemeente bedien het. Ds. Hendrik Johannes Neethling was leraar van die gemeente Lydenburg van 1881 tot sy aftrede in 1911 en ds. Hendrik Ludolph Neethling was leraar van die gemeente Utrecht van 1875 tot sy dood op 17 Augustus 1893.

Die eerste predikant, ds. J.H. Neethling, is op 15 Januarie 1854 bevestig. Die regering het nog voortgegaan om die bedrag van £100 aan die konsulent toegeken aan die gemeente te betaal sodat die gemeente sy predikant se salaris kon betaal. Dit was egter byna onmoontlik om die predikant se vergoeding getrou by te bring omdat die gemeente se uitgawes in die beginjare gereeld sy inkomste oortref het. Die probleme met sy geldsake het daartoe gelei dat die gemeente eers 25 jaar ná sy stigting ’n kerkgebou kon oprig waarop skuld van £430 gerus het. Die besluit om ’n kerk op te rig is op 3 Julie 1876 geneem en die hoeksteen daarvan is op 3 Februarie 1877 gelê. Die inwyding het op 3 September 1879 plaasgevind waarna die ou kerk in ’n skoolkoshuis omskep is.

Ds. Neethling sou die gemeente 50 jaar en ses maande bedien tot hy hom genoodsaak voel om die tuig neer te lê weens hoë ouderdom. Hy sterf in Januarie 1917 in die ouderdom van 89 jaar waarna sy weduwee op die dorp aangebly en nog gereeld “de voorhoven des Heren” (die kerk) besoek het.

Vroeë jare

Die gemeente se jaarlikse basaar dateer van die vroegste jare. Die eerste basaar is in 1861 in ds. Neethling se tyd gehou. Dit was waarskynlik in September omdat melding gemaak word dat die manslidmate op 3 Augustus 1861 ’n vergadering gehou het om beslag aan die voorgestelde basaar te gee. Die basaar het £1 100 ingebring. Hierna het dit gebruik geword om die basaar jaarliks in September te hou. Dit was en is vandag nog die beste tyd vir die gemeente omdat die boere dan klaar is met ploeg en saai en die oestyd eers in November begin. Ondanks die goeie inkomste van die gereelde basaars moes die kerkraad in 1875 aan die Ring rapporteer dat daar ’n groot som op die leraar se salaris agterstallig was.

Hopefield se NG kerk is vergroot en opnuut ingewy op 20 Desember 1911. Die inwydingsrede is uitgespreek deur ds. B.P.J. Marchand, saakgelastigde van die Kaapse Kerk.

Die lidmate was onverskillig jeens hul predikant se salaris, blykbaar omdat hulle gemeen het dit kon uit die erfbelasting betaal word, maar dié belasting is self baie ongereeld betaal. In 1877 het die kerkraad besluit om maandeliks ’n kollekte in die Langebaan-, Baai- en Hopefield-wyke tydens die erediens op te neem ter aanvulling van die leraar se salaris. Ná die basaar van 1882 wat sowat £465 ingebring het, het die gemeente reeds meer as £1 050 aan die agterstallige salaris van die predikant geskuld. Hulle kon toe sowat £560 aan hom betaal. Dis dus geen wonder nie dat ds. Neethling hom op die boerdery moes toelê om sy inkomste aan te vul.

In dié tyd het die vraag na woonerwe op die dorpie begin toeneem sodat die dorp wat aan die gemeente geskenk is, ’n bate pleks van ’n las begin word het namate ál meer mense erwe gekoop en hulle op die dorp kom vestig het. Die predikant het gereeld buitedienste in die wyke Langebaan en Vredenburg gehou, maar daar was nog geen kerklike geboue nie. Vredenburg, wat toe as die Baai-wyk bekendgestaan het, se dienste is op die plaas Heuningklip gehou, maar dis onbekend waar Langebaan s’n gehou is. Dié wyk was gelukkig om in 1872 ’n kerkgebou as geskenk van Willem van der Bijl te kry. Ná lang onderhandelinge en dwarstrekkery het die Baai-wyk in 1875 ’n kerkgebou op die plaas Procesfontein, die latere Vredenburg, gekry.

Vredenburg stig af

Die Baai-wyk het die kerkraad baie hoofbrekens besorg omdat ’n gedeelte van die lidmate daar as selfstandige gemeente wou afstig. Sowat twee derdes van die lidmate was egter daarteen gekant omdat hulle nie kans gesien het om ’n leraar se salaris by te bring en ’n pastorie te bou nie. Tog het die voorstanders van afstigting die lewe vir ds. Neethling en sy kerkraad moeilik gemaak deur vertoë tot die Ring en selfs ander leraars te rig sodat dat hulle die Hopefieldse kerkraad in die saak geken het. Hulle het daarop aangedring dat hulle kinders op Vredenburg gekatkiseer en as lidmate voorgestel word en nie op Hopefield nie. Die gevoelens tussen die kerkraad en dié lidmate het so versleg dat die Baai-wyk nie meer wou werk om geld vir die gemeente in te bring nie en hulle het selfs so ver gegaan om te weier om die £30 per jaar tot die leraar se vervoerkoste by te dra. Dié onenigheid is beëindig met die goedkeuring van Vredenburg se afstigting op die kerkraadsvergadering van 7 Julie 1902. Daarna het ’n gemeentevergadering die voorgestelde afstigting by die Ring aanbeveel.

Langebaanweg stig af

Die weermag wou in 1943, midde-in die Tweede Wêreldoorlog, ’n gedeelte van die plaas Theewatervlei naby Hopefield hê vir die oprigting van ’n lugmagbasis, wat toe later gebou is op Langebaanweg, sowat 25 km wesnoordwes van Hopefield af. Die munisipale raad onder voorsitterskap van H.G. Greeff was gekant teen die bou van ’n basis so na aan die dorp omdat dit sou veroorsaak dat “die vyand bomme op Hopefield sal gooi”. Al sou die personeel ’n paar kilometer van Hopefield af woon, sou die dorp se skole, kerk, sakeondernemings, sport en nog meer daarby baat gevind het. Nadat Langebaanweg toe heelwat nader aan Vredenburg as aan Hopefield gebou is, het dié basis sy eie NG gemeente en laerskool gekry. Saldanha en Langebaanweg het in 1957 as een gemeente van Hopefield afgestig. Uit dié gekombineerde gemeente het Langebaanweg in November 1967 afgestig. In 1959 het die gemeente Hopefield, wat bestaan het uit die dorp en Langebaan, 965 belydende lidmate gehad, vergeleke met Saldanha se 284. Teen 1971 in die moedergemeente 725 belydende lidmate oorgebly, terwyl die getal van Langebaanweg 260 was en Saldanha 130 plus 258 studente en dienspligtiges. Saldanha-Noord, wat Saldanha geword het toe die militêre gemeente op Saldanha se naam verander is na Saldanha-Militêr,is in 1966 van Saldanha afgestig en Langebaanweg in 1967. Langebaanweg se getal het tot die veranderinge in die samestelling van die Lugmag se personeelkorps ná 1994 redelik bestendig gebly. Teen 2000 het dit teruggesak tot sowat 180 en in daardie jaar is Langebaanweg by Langebaan ingelyf as wyksgemeente, en nie by Hopefield nie.

Langebaan stig af

Nadat Vredenburg van Hopefield afgestig is, het Langebaan-wyk as deel van die moedergemeente bly voortbestaan. Daar was reeds ’n kerk terwyl ’n strandhuis later opgerig is waarin die predikant van Hopefield kon tuisgaan. Daar het net enkele NG lidmate op Langebaan gewoon; die meeste lidmate was saamgetrek op die omliggende plase. Ook het daar nie ontevredenheid geheers soos op Vredenburg nie en was daar dus nie ’n drang na afstigting nie. Die dienste is eers twee maal per jaar op die kusdorpie gehou en teen die helfte van ds. C.W. Alheit se bediening (1927–1941) en nadat die motor gekom het, is dienste kwartaalliks gehou. Vanaf omstreeks 1970 het Hopefield se predikant al om die tweede week ’n diens op Langebaan gaan waarneem.

Die kerkraadslede van Langebaan het hulle omstreeks 1980 begin beywer vir weeklikse dienste en ’n medeleraar vir daardie deel van die Hopefieldse gemeente. Die leraar, ds. G.P. Stoffberg, het hulle gesteun omdat die dorp uitgebrei het en dit vir hom moeilik was om die lidmate aan die kus behoorlik te bearbei. Soos dikwels in die verlede was die gemeente se geldsake ’n struikelblok, veral aangesien Langebaan se lidmate nie hul kant behoorlik gebring het nie. Daarom is besluit om ’n hulpleraar, pleks van ’n medeleraar, vir Langebaan aan te stel. Die eerste en enigste ampsbekleër was prop. Hennie J. Loubser, wat ná enkele maande ’n beroep aanvaar het. Langebaan se kerkraadslede het nou weer ’n kans gesien vir afstigting of die verkryging van ’n medeleraar, wat hulle ook gekry het ná baie ontevredenheid in die Hopefieldse gedeelte van die gemeente wat die geldelike las moes help dra. Die eerste medeleraar, ds. D.J. de Kock, het aan die begin van 1985 diens aanvaar.

Hierna het die Langebaanse lidmate begin aandring, nes die Vredenburgers laat in die 19de eeu, dat hul kerkraadslede en nuwe lidmate op Langebaan voorgestel word en nie op Hopefield nie, hoewel laasgenoemde die setel van die gemeente was. Ook het Langebaan se lidmate na ds. De Kock begin verwys as hulle predikant en nie van Hopefield se predikant nie.

Reeds in 1981, toe daar die eerste keer sprake was van afstigting, het die kerkraad ’n kommissie benoem om die saak te ondersoek, maar hul gevolgtrekking was dat die wyk nie geldelik die mas alleen sou kon opkom nie. In 1986 was afstigting weer ter sprake en weer is ’n kommissie benoem om dit te ondersoek. In 1981 het daar maar sowat 200 lidmate in die Langebaanse wyk gewoon, wat teen 1986 tot skaars 300 toegeneem het. Destyds was die probleem dat Langebaan ’n vakansiedorp was waar baie mense vakansiehuise gebou het wat net vir ’n deel van die jaar benut is. Dié mense was lidmate van die gemeente waar hulle voltyds gewoon het. Selfs die boere wat daar gaan aftree het, het hul dankoffers steeds gegee aan die gemeente waarin hul plaas geleë was.

Nog ’n probleem met die te stigte gemeente was dat amper al die plase wat eers deel was van Langebaan-wyk deur Yskor of grondspekulante opgekoop is en onbewoon gelê het. Kort voor afstigting was dié onbewoonde plase: Panorama, Oosterwal, Mooimaak, Septembersklip, Meeuklip, Soutpan, Waschklip, Olifantskop, Tibosklip en die Kleinbergplase van die De Jonghs en Rabes. Tot die middel 1940’s het oorkant die strandmeer teen die Posberg 10 tot 12 gesinne gewoon, terwyl die plaas Geelbek, wat later deel sou word van die Nasionale Weskuspark, ook bewoon was. Teen 1987 het daar geen meer lidmate van die Hopefieldse gemeente gewoon nie. Boonop het boere in die omgewing van die Lugmagbasis Langebaanweg te kenne gegee dat hulle sou verkies om by Hopefield te bly wanneer Langebaan moontlik afstig. Dié plase sou nodig wees om die nuwe gemeente lewenskragtig te help maak.

Ten spyte van al dié probleme het die NG gemeente Langebaan op 23 November 1988 van Hopefield afgestig. In 1985 het Hopefield 660 belydende lidmate gehad. In 1990 was dit 454, terwyl Langebaan se lidmate 336 getel het. In die daaropvolgende amper 30 jaar tot 2014 het Hopefield se lidmate afgeneem tot 252, maar Langebaan s’n het toegeneem tot 1 809 (die syfer in die NG Kerk Jaarboek is laas in 2011 bygewerk). Hopefield se afname was dus 44,5%, terwyl Langebaan se toename 438,4% was. Hopefield het in 2011 930 wit inwoners gehad (syfers van 2001 kan nie vergelyk word nie omdat die sensusgebiede destyds nie met die dorpsgrense ooreengestem het nie), terwyl Langebaan se wit inwoners toegeneem het van 1 770 tot 4 648.

Kerktoring herstel

Die kerktoring moes in 2014 teen ’n koste van R500 000 herstel en verstewig word om te keer dat dit, soos die NG gemeentes George, Uniondale en Heidelberg, Gauteng se kerktoring sowat ’n eeu gelede, ineenstort. Die ineentsorting van die NG gemeente Middelburg, Kaap, se toring in 1967 het sulke groot skade aangerig dat die hele gebou gesloop is. (Geskryf deur Morne van Rooyen)

Predikante