NG Gemeente Die Strand

NG Gemeente Die Strand (Foto: Ed Malan)

GESTIG

22 Augustus 1912

ring

Ring van Somerset-Wes

adres

Birkenheadstraat 40, Strand

eerste predikant

ds NHC de J Theunissen

Die NG Gemeente Die Strand is ‘n gemeente in die Sinode van Wes-Kaapland.

Eerste stigting

In 1904 het ds. W.J. Conradie ‘n beroep aanvaar as tweede predikant van die toe reeds 85 jaar oue NG gemeente Somerset-Wes met werkkring Somerset-Strand, soos die later kusdorp destyds bekendgestaan het. Onder sy bearbeiding het die gemeentewyk gou in die rigting van ‘n afsonderlike eenheid beweeg en reeds in Mei 1906 rig ds. Conradie namens die belanghebbendes en met die toestemming van die moedergemeente ‘n versoek aan die Ringskommissie om ‘n nuwe gemeente daar te stig. Op 12 Junie 1906 is die nuwe gemeente toe gestig, maar weens ‘n foutiewe prosedure met die stigting moes dit later gekanselleer word. Met die Ringsitting van 1907 het ds. Conradie ‘n memorie van belanghebbendes ingedien, waarin die stigting as ongewens verklaar word en ‘n spesiale Ringskommissie het in dieselfde jaar gerapporteer dat, hoewel die stigting wenslik was, dit onder die omstandighede nie aanbeveel kon word nie. Ds. Conradie was terloops ook verantwoordelik vir die aanvoorwerk wat sou aanleiding gee tot die stigting van die Strand se Sendinggemeente in 1908. Hy het die werk begin op 30 April 1905 en hou dit vol tot Oktober 1907 toe eerw. J.J. van Zyl as eerste leraar vir die Sendinggemeente aankom.

Die NG Gemeente Die Stand voor die toring aangebou is.
Die NG Gemeente Die Strand se eerste kerkgebou

Tweede stigting

Die gemeente “Het Strand” is daarna eers op 22 Augustus 1912 met 200 lidmate en ‘n sieletal van 450 gestig. Die Strand sou egter wat sy bevolking betref, in die daaropvolgende jare vir Somerset-Wes verbysteek, want in die sensus van 1936, byvoorbeeld, was Die Strand se blanke bevolking, waaruit die NG lidmate noodwendig destyds gekom het, reeds 3 367 vergeleke met Somerset-Wes se 1 777. Dat die gemeentelike grense nie met die munisipale ooreengestem het nie, blyk daaruit dat Somerset-Wes se NG gemeente in 1933 1 281 lidmate gehad het, maar Die Strand net 535.

In die begin is die geestelike bearbeiding van die gemeente toevertrou aan eerw. A.F. Weich. Die eerste beroep op ‘n leraar is in Maart 1913 uitgebring, maar eers op 29 Junie 1914 kon die jong gemeente ds. N. Theunissen as sy eerste predikant ontvang. Hy bedien die gemeente tot 2 Oktober 1916.

Die kerksaal het aanvanklik as kerkgebou gedien, maar ‘n veel ruimer kerkgebou moes later opgerig word, veral om ook die groot aantal strandbesoekers te kon ontvang. In September 1930 het prof. Adriaan Moorrees die rede by die inwyding van die kerkgebou met sy sitplek vir 1 200 kerkgangers gelewer. Dié gebou is ontwerp deur die vermaarde Suid-Afrikaanse kerkargitek Wynand Louw en die hoeksteen op 1 Maart 1930 gelê deur ds. J.C. Truter. Die jaar vantevore is die NG gemeente “Het Strand” herdoop en word hy die teenswoordige “Strand”. In 1937 is ‘n nuwe kerksaal gebou en in 1950 kon die gemeente ‘n pragtige nuwe orrel in die kerk aan die diens van die Here wy. (Geskryf deur Morne van Rooyen).

Dogtergemeentes

Predikante