Visser, Barend Willem

Ds. Visser Barend

gebore

13 Jun. 1933

OORLEDE

25 Apr. 2004

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1957

ORDEN

1958

standplase

1958 Swartland

1961 Noupoort

1963 Middelburg-Uitsig

14 Jan. 1969 Algoapark- Noord

2 Jul. 1974 Windhoek-Wes

1996 Alberton-Wes

EMERITEER

2000

Barend Willem Visser is op 13 Junie 1933 – tydens die groot depressie en droogte – op Kenhardt gebore. Sy vader was Hendrik Johannes Visser, ʼn boer, en sy moeder was Magrietha Vermeulen. Ben het sy skoolopleiding aan die Laerskool Kenhardt (*1940-1946) en aan die Hoërskool Kenhardt (*1947-1950) ontvang. Hy het in 1950 met onderskeidings in Wiskunde en Geskiedenis gematrikuleer. Vier seuns uit die gemeente van Kenhardt het min of meer in dieselfde tyd na die Suide gegaan vir hulle teologiese opleiding. Gideon Pieterse het na die Sending-instituut op Wellington vertrek, terwyl die ander drie, Barend Visser, Joos Nel en Nathan Wilson op Stellenbosch gestudeer het.

Ben het in 1953 die BA-Admissiegraad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en daarna aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch gestudeer. N vier wonderlike jare is hy op 7 Desember 1957 as proponent gelegitimeer. Hy het spoedig ʼn beroep na die NG Gemeente Swartland op Malmesbury ontvang, waar hy op 14 Maart 1958 met handoplegging ontvang en bevestig is. In die Kaapse Sinode het hy van 1962 tot 1970 in die SKDB gedien. Na drie jaar het hy ʼn beroep na die nuutgestigte NG Gemeente Middelburg-Uitsig aanvaar, waar hy op 17 November 1963 as eerste herder en leraar bevestig is. In 1966 is ʼn eie kerkgebou in gebruik geneem, ʼn groot oomblik vir die jong leraar en gemeente.

Op 14 Januarie 1969 het Ben predikant geword van die gemeente Algoapark- Noord. Hier het hy in 1974 weer met die bou van ʼn nuwe kerkgebou gehelp. Hy het ook in die ad hoc-kommissie gedien toe die Sinode van Oos-Kaap van Wes-en-Suid-Kaap afgestig het.

Ds. Ben is op 2 Julie 1974 bevestig nadat hy ʼn beroep na die NG Gemeente Windhoek-Wes aanvaar het. Daar het hy in 1976 ook gehelp met die bou van ʼn kerkgebou. Hy het ook van 1978 tot 1981 in die Algemene Sinode se kommissie vir fondse gedien.

Ben is op 8 Desember 1958 in sy voorlaaste Kweekskooljaar getroud met Lettie de Villiers. Uit die huwelik is twee kinders gebore. Op 15 Februarie 1981 het hy die bediening van die NG Kerk verlaat en op 20 Augustus 1982 met Carina Willer getrou, met wie hy 21 jaar lank gelukkig saamgeleef het. Op 4 Mei 1994 is Ben Visser weer gelegitimeer na Colloquium doctum. Hy was van 1996 tot met sy emeritaat op 16 April 2000 werksaam in die NG Gemeente Alberton-Wes as pastorale hulp met besondere opdrag bejaardesorg. Hierna het die egpaar hulle op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gevestig, waar hy op 25 April 2003 oorlede is. Slegs elf maande later, op 29 Maart 2004, het Carina ook gesterf. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2005).