Steenkamp, Willem Petrus

Dr WP Steenkamp

gebore

14 Feb. 1879

OORLEDE

16 Jul. 1956

UNIVERSITEIT

US; Amsterdam;

gelegitimeer

1902

ORDEN

1903

standplase

Dutoitspan (Hpr.)

1903 Pretoria (Hpr.)

1906 Ermelo

1910 Nieuwoudtville

1919 Namakwaland

EMERITEER

1926

Dr. Willem Petrus Steenkamp is op 14 Februarie 1879 in die distrik Calvinia gebore. Na sy legitimasie in 1902 was hy tyd lank hulpleraar op Dutoitspan en daarna hulp-leraar in Pretoria. Vervolgens was hy predikant van Ermelo (1906-1910); Nieuwoudtville (1910 – 1919) en Namakwaland (1919 – 23); Hy was die eerste persoon om die doktorsgraad in die Godgeleerdheid met ‘n Afrikaanse proefskrif te behaal (1909); In 1923 is hy weer oorsee om hom in die medisyne te bekwaam, en het in 1928 as gekwalifiseerde geneesheer teruggekeer. Daarna het hy ‘n jaar in die gemeente Parow gearbei. In 1929 het hy tot die politiek toegetreë eers as Volksraadslid, later as lid van die Senaat. Intussen het hy nog tot sy dood toe as geneesheer gepraktiseer. Hy is op 16 Julie 1956 skielik oorlede. (Jaarboek)

Dr WP Steenkamp

Dr. Willem Petrus Steenkamp (distrik Calvinia 14 Februarie 1879; Kaapstad, 16 Julie 1956) was ‘n Suid-Afrikaanse politikus en ‘n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Agtergrond: Steenkamp het arm grootgeword en was lewenslank ‘n kampvegter teen armoede. Hy voltooi sy teologiese studie aan die Kweekskool van die Universiteit Stellenbosch en behaal in 1910 sy doktorsgraad aan die Vrije Universiteit in Amsterdam oor die agnostisisme van Herbert Spencer met die eerste proefskrif in Afrikaans. Met sy terugkeer na Suid-Afrika is hy ‘n jaar lank in die Fort in Johannesburg aangehou omdat hy tydens die 1914-Rebellie van sameswering verdink is.

Predikant: Hy is in 1903 georden. Sy eerste amp in die Kerk was dié van hulpprediker in die NG gemeente Dutoitspan op Kimberley. Daarna tree hy ook op as hulpprediker in die NG gemeente Pretoria voor hy sy eerste vaste aanstelling kry as leraar van die NG gemeente Ermelo. Hy aanvaar op 25 Julie 1910 ‘n beroep na Nieuwoudtville, wat 15 maande lank vakant was in ‘n tyd toe leraars skaars was. Onder sy besielende leiding samel die gemeente binne drie jaar £12 500 in om die skuld op hul kerkgebou af te betaal. Steenkamp arbei hier tot hy in Januarie 1919 bevestig word as leraar van die NG gemeente Namakwaland op Springbok. Hier raak hy hy ‘n legendariese figuur danksy sy kerklike werksaamhede en politieke betrokkenheid. Onder sy leiding kon die gemeente spoedig genoeg geld insamel om die sierlik klipkerk van die gemeente te laat oprig. Hy was ook verantwoordelik vir of behulpsaam met die oprigting van talle ander kerkgeboue, onder andere die Volkshospitaal in Kaapstad.

Uit die bediening: Nadat hy uit die bediening getree het, het Steenkamp saam met sy seun medies in die VSA en Nederland gestudeer en hulle het gelyktydig hul studie voltooi. Steenkamp het belanggestel in die evolusieteorie en skryf die ongepubliseerde manuskrip The instinct of animals and evolution. Reeds op vroeë ouderdom raak hy betrokke by die partypolitiek en wen die kiesafdeling Namakwaland in die tussenverkiesing van 1929 as onafhanklike kandidaat met 1 258 stemme teen die Nasionale Party se J.P. Mostert, wat net 502 stemme op hom kon verenig en nog twee onafhanklikes, A.M. Roux (391 stemme) en W.P. Thom (agt stemme); In die verkiesing van 1933, waarin die Suid-Afrikaanse Party en die Nasionale Party ‘n koalisie vorm en 136 van die 150 setels wen, klop Steenkamp, steeds as onafhanklike, vir dr. A.J.R. (Albertus) van Rhijn, wat in 1948 sukses behaal in Bethlehem, in 1953 in ‘n tussenverkiesing in Vasco en in 1958 in Windhoek en minister van ekonomiese sake was, met 326 stemme. Sy vrou, A.C.S. Steenkamp, in die eerste verkiesing waarin vroue kon stem en as kandidaat staan (1933); was minder gelukkig as onafhanklike in Calvinia teen dr. D.F. Malan van die Nasionale Party, die latere eerste minister, waar sy met 621 stemme verloor.

Steenkamp bly net aan as Namakwaland se LV tot 11 April 1938 en in die daaropvolgende verkiesing op 18 Mei wen hy naelskraaps met ‘n meerderheid van 112 stemme in die kiesafdeling Calvinia vir die Verenigde Party teen die kandidaat van die Nasionale Party, A.E. Erlank. In 1939 kan Steenkamp nie vir genl. J.B.M. Hertzog steun in sy mosie om neutraal te bly in die Tweede Wêreldoorlog nie. Dit was die einde van hul jare lange vriendskap.

Steenkamp bly LV vir Calvinia tot en met die ontbinding van die Volksraad op 31 Mei 1943, kort voor die algemene verkiesing op 7 Julie daardie jaar. Van 1946 tot 1948 dien hy as senator van die Verenigde Party. In dié tyd skryf hy ook sy outobiografie, I conclude: Convictions of a free-thinking doctor and hunter (1947). (Geskryf deur Morne van Rooyen).

Mev ds WP Steenkamp