Gestig
3 Mei 1897
Ring
Clanwilliam
Adres
Neethlingstraat, Nieuwoudtville
Sluit in
Nieuwoudtville en omgewing
Eerste predikant
C.A. Neethling (1898–1909)
Die NG Gemeente Nieuwoudtville ressorteer onder die Ring van Clanwilliam en het sy middelpunt op die gelyknamige dorp in die suidwestelike uithoek van die provinsie Noord-Kaap, sowat 70 km noordwes van Calvinia en 50 km noordoos van Vanrhynsdorp.
Nieuwoudtville en omgewing was van 1847 tot 1897 ’n wyk van die destyds uitgestrekte gemeente van die Hantam (Calvinia). In 1885 het die kerkraad, onder leiding van ds. William Robertson (predikant van 1883 tot sy demissie in 1889), besluit om ’n sogenaamde hulpkerk te bou op Willemsrivier, ’n plaas in die Bokkeveld.
Op 3 Mei 1897 het die Ringskommissie bymekaargekom en eenparig besluit op die afstigting van ’n gemeente wat die naam Nieuwoudtville sou dra omdat die grond wat die kerk vir dorpsaanleg gekoop het, aan broers Nieuwoudt behoort het. Van die plase aan die Groenrivier waarin dié Nieuwoudts gewoon het, staan vandag nog. Die omgewing van Nieuwoudtville word soms “die Boland van die Noordweste” genoem omdat die reënval opmerklik hoër is as in die res van die distrik Calvinia.
Met sy stigting het die gemeente uit 480 lede en 1 200 siele bestaan, vergeleke met 156 belydende en 28 dooplidmate in 2017 . Ds. C.A. Neethling is 25 April 1898, 22 dae ná sy 27ste verjaardag, tot leraar beroep, en op 17 September is hy hier in sy eerste gemeente bevestig. Daar was nog geen pastorie beskikbaar nie, maar die gemeente het vorentoe gebeur en in 1899 is die hoekklip van die ruim pastorie gelê wat vandag nog in gebruik is.
Tydens die Tweede Vryheidsoorlog moes ds. en mev. Neethling die pastorie van klip verlaat sodat dit as fort kon dien. Onder hierdie moeilike omstandighede het die gemeente hulle tog nog beywer vir die bou van ’n kerk, opgerig uit plaaslik gedresseerde Tafelberg-steenklip en in ’n Gotiese kruiskerkstyl. Binne-in die kerk is versierde traliewerk by die galerye wat van ingevoerde Skotse gietyster vervaardig is. Die kerkbanke is van eikehout, die preekstoel van Tafelberg-sandsteen en Bataafse teëls bedek die portaalplaveie. Die gebou bied sitplek aan altesaam 500 mense.
Toe die hoeksteen op 2 Februarie 1906 midde-in ’n knellende droogte gelê word, het die gemeente reeds £8 000 bymekaargebring vir die gebou wat £11 300 sou kos. In die naweek van 21 April 1907, twee weke ná ds. Neetling se 36ste verjaardag, is die nuwe kerk ingewy. Daarna het nog sewe jaar van teisterende droogte gevolg en ’n ramp die gemeente getref: “Door een bankrotschap verloor die gemeente £8 000” (Ons Kerk Album van 1917 verstrek nie nadere besonderhede nie, maar dit kom moontlik daarop neer dat die kerkraad die geld aan iemand geleen het of iemand hulle dié bedrag geskuld het). Boonop het ds. Neethling die beroep aangeneem as eerste leraar van die NG Gemeente Eloffsdal in Pretoria, waar hy op 25 September 1909 bevestig is en dit in die nag van 19 op 20 Desember 1920 sy taak was om Jopie Fourie sterwensbegeleiding te bied voor sy teregstelling.
Met die oploop van rente het die skuld op die kerkgebou tot £12 500 gestyg. Nadat die gemeente 15 maande lank vakant was, het dr. W.P. Steenkamp die beroep op 25 Julie 1910 hierheen aangeneem nadat hy van 1905 tot 1907 predikant van Ermelo was, maar in laasgenoemde jaar demissie ontvang het om verder te studeer. Onder sy besieling het die gemeente aan die werk gespring en ná drie jaar is die groot bedrag ingesamel. Om dié mylpaal te vier, het ’n dankbare kerkraad ’n gedenkteken skuins voor die kerkgebou laat oprig, waarvan die bewoording onder meer lui “(T)er nagedachtenis aan de onvergetelyke jaren 1911–1913 waarin deze gemeente haar schuld van £11 000 grootendeels door een ongeluk ingekomen, afgeworsteld had”. Daarna volg die name van die kerkraadslede, die woorde van Ps. 50:15 en die datum 20 September 1913. In dieselfde naweek waarin die gedenksteen feestelik onthul is, het dr. Steenkamp aangekondig dat hy die gemeente sou verlaat om oorsee in die medisyne te studeer.
’n Veel langer vakature as dié voor die koms van dr. Steenkamp het gevolg, want eers byna sewe jaar later, op 31 Julie 1920, is prop. H.J. Potgieter hier bevestig.
In sy vyfjarige dienstyd, tot sy vertrek in die eerste kwartaal van 1925 na Keetmanshoop, is in die wyk Loeriesfontein ’n hulpkerk gebou. Op 10 Oktober 1925 het die amper 83-jarige prof. P.J.G. de Vos, wat einde 1919 sy emeritaat aan die Kweekskool aanvaar het, dr. G.T.T. Kikillus as Nieuwoudtville se vierde predikant in minder as 30 jaar bevestig.
In dié tyd het die gemeente in werklikheid uit twee dorpies bestaan, Nieuwoudtville en Loeriesfontein. Die droogte van 1927 tot 1928 het enorme skade aangerig en gelei tot ’n voedselskaarste. Ook het werkloosheid toegeneem weens die wêreldwye depressie (1929–’33). Aan die vooraand van die groot ekonomiese insinking het ds. Kikillus ’n beroep na Barrydale aangeneem en is hy op 26 April 1930 deur ds. Cornelis Muller van die gemeente Vandermerwe op Bonnievale opgevolg. Net twee jaar en tweede maande later het hy predikant van die moedergemeente, Calvinia, geword.
Ná ’n byna jaar lange vakature is prop. S.G. Basson op 8 April 1933 hier georden. Onder sy voorsitterskap het die kerkraadsvergadering van 26 Januarie 1935 verlof gegee dat die wyk Loeriesfontein as ’n selfstandige gemeente kon afstig. Daar is gevrees dat Nieuwoudtville hierdeur ’n hulpbehoewende gemeente sou word, “maar danksy onvermoeide ywer was dit nie die geval nie”, volgens die gemeente se medewerker aan Ons gemeentelike feesalbum (1952).
Ds. Basson het begin 1943 na Vredendal vertrek nadat hy die langste gedien het van die leraars tydens die eerste 50 jaar van die gemeente se bestaan . Ds. J.S. Loots, van Kamieskroon, het hom op 15 Mei 1943 opgevolg. Toe hy twee jaar later ’n beroep na Wolseley aanneem, was die gemeente weer byna ’n jaar lank vakant, tot die bevestiging van prop. J.M.N. Breedt op 3 Augustus 1946. Tydens sy amper vyf jaar lange bediening is ’n nuwe pastorie gebou.
Teen die tyd dat die gemeente in 1947 sy 50-jarige bestaan kon vier, het die belydende lidmate met nagenoeg 200 toegeneem, hoewel die sieletal dieselfde as by die stigting was weens die krimpende kindertal wat hom toe reeds hier laat geld het.
Predikante
- Christoffel Albertyn Neethling, 17 Sep. 1898 – 1909
- Dr. Willem Petrus Steenkamp, 1 Okt. 1910 – 1919
- Hermanus Jacobus Potgieter, 31 Jul. 1920 – 1925
- Gustav Theodore Tobias Kikillus, 10 Okt. 1925 – 1929
- Cornelis Muller, 26 Apr. 1930 – 1932
- Stephanus Gabriel Basson, 8 Apr. 1933 – 1943
- Johannes Samuel Loots, 15 Mei 1943 – 1945
- Johannes Marthinus Nicolaas Breedt, 3 Aug. 1946 – 1951
- Johannes Daniël Steenkamp, 28 Apr. 1951 –