
GESTIG
1870
Ring
Ermelo
Adres
Kerkplein, Ermelo
Sluit in
Ermelo (deels)
Eerste predikant
P.W. Ennis (1886–1905)
Die NG Gemeente Ermelo is die vierde oudste gemeente in die Oostelike Sinode, die 13de oudste in die destydse Transvaal en een van die honderd oudste steeds bestaande NG gemeentes.
Stigting
Die gemeente is in die jaar 1870 gestig deur ds. Frans Lion Cachet en deur hom as konsulentsgemeente bedien tot sy vertrek uit Transvaal in 1873.
Gedurende die eerste 10 jaar van haar bestaan was daar nog geen dorp nie, maar is die dienste gehou op verskeie sentraal geleë plase, onder meer Kranspoort, Onverwacht en Oshoek. Ds. Cachet het na die gemeente verwys as “Ermelo aan de Vaalrivier”. Die dorp, wat nie aan die Vaalrivier geleë is nie, is in die jaar 1880 gestig. Soos op die meeste ou Transvaalse dorpe het hier ook ’n Hervormde gemeente bestaan wat in die jaar 1886 met die NG gemeente verenig het, maar later weer afsonderlik voortgegaan het.

Eerste drie leraars
Ná die vertrek van ds. Cachet tree as konsulent van die gemeente op di. H.L. Neethling, J.G. Kriel, D.F. Bosman en H.J. Neethling. Ds. P.W. Ennis is in 1886 as Ermelo se eerste herder en leraar bevestig en dien die gemeente tot in 1905, toe hy ’n beroep aanneem na die Hervormde gemeente op Klerksdorp. Gedurende sy bediening is die vorige kerkgebou opgerig.
Ds. W.P. Steenkamp het ds. Ennis opgevolg en sowat twee jaar met groot ywer gewerk tot hy na Europa vertrek om verder te leer. Hy het ’n “Christelijke Jongelingen Vereeniging” gestig en die CJV-geboue opgerig.
In 1907 is ds. Paul Nel bevestig wat hier gearbei het tot hy sy emeritaat in 1934 aanvaar het, net mooi 40 jaar nadat hy in sy eerste gemeente, Makwassie bevestig is. Voorheen was hy ook ’n jaar lank werksaam in die sendingveld van Masjonaland. Hy was skriba van die Transvaalse Sinode van 1904 tot 1912, assessor van 1919 tot 1923, questor van die Sinode van 1903 tot 1917 en van 1923 moderator, asook skriba van die Raad der Kerken (Federale Raad van NG Kerke) van 1907 tot 1909. Hy was een van die eerste pleitbesorgers vir die oprigting van die NG Kerk se Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria en dien later in die eerste Fakulteitskommissie. Dié gerespekteerde kerkleier is op 7 Oktober 1943 op Ermelo oorlede.

Onderwys en sending
Sowat ’n eeu gelede was die gemeente een van die grootste in Transvaal, hoewel verskeie gemeentes met die jare uit haar afgestig is. Destyds het ds. Nel in Ons Kerk Album berig: Die gemeente gaan veral vooruit wat haar skole betref. Daar is ’n allerdeeglike hoërskool, en laerskole is daar oral in die gemeente. Die koshuise op die dorp staan onder toesig van die kerkraad.”
In 1908 is ’n doelmatige pastorie gebou. Destyds reeds was hier ’n sendinggemeente wat toe onder die bearbeiding was van eerw. C.P. van der Merwe. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Pieter Willem Ennis, 1886 –1905 (na Hervormde Kerk)
- Willem Petrus Steenkamp, 1905 – 1907
- Paul Nel, 1907 – 1914
- Hendrik Jacobus Reyneke, 1914 – 1917
- Pieter du Toit, 15 Jun. 1919 – 1920
- Daniël Francois Marais, 1922 – 1927
- Nicolaas Jacobus Veltman, 1928 – 1935
- Michiel Hendrik Horak, 1935 – 1939
- Josua Joubert de Villiers, 1936 – 1937
- Petrus Jacobus Maritz, 1945 – 1960
- Dirk Johannes Viljoen, 1953 – 1955
- Eduard Christiaan Kriel, 1965 – 1971
- Gabriel Antonie Van der Westhuizen, 1971 – 1973
- Albertus Venter Strydom, 1973 – 1984
- Johannes Petrus du Preez, 1984 – 1989
- Weits Jacobus Beukes, 1968 – 1971
- Johanan Joubert Viljoen, 1972 – 1975
- Johannes Daniel Crafford, 1976 – 1979
- David Francois Theron, 1979 – 1986
- Gabriel Antonie Van der Westhuizen, 1988 – 1995
- Petrus Borchardus Grobler, 1976 – 1979
- Adriaan Smuts van Niekerk, 1980 – 1986
- Ernest Matthys Horn 1986 – 1990
- Frederick Foster du Toit 1990 – 1993
- Ockert Johannes Botha, 1989 – 1992
- J P Botes 1983 – 1998
- Francois Jacobus Retief 1998 – 2013
- Gert Hendrik Gerhardus Vosloo 2013 – 2018
- Petrus Jacobus Gerhardus van Niekerk 1990 – 2022
- Luné Dorfling, 2019 – hede
Predikantegalery


