NG Gemeente Witfield

NG Gemeente Witfield (Foto: Morne van Rooyen)

gestig

11 Oktober 1945

Ring

Ring van Boksburg

adres

Lowtherstraat 65, Witfield

Eerste predikant

Ds S.J. Henrico

Die NG Gemeente Witfield is ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode.

Stigting

Die gemeente is op 11 Oktober 1945 as die jongste dogter van die moedergemeente Boksburg afgestig. Dit was presies ‘n jaar na die jubileumfeesvierings met Boksburg se vyftigjarige bestaan. Die aand is daar ‘n gemeentevergadering, wat onder die voorsitterskap van die konsulent, ds. J.H. Roos van Boksburg-Noord, gehou is, die eerste 14 kerkraadslede van Witfield verkies. ‘n Rapsie minder as vyf maande lank moes die gemeente vakant bly, totdat die eerste herder ontvang is: ds. S.J. Henrico, wat op 4 April 1946 hier bevestig is. Hier kon die leraar en sy eggenote vier jaar lank staan en hier is ook hulle twee kinders gebore. Die pastoriepaar het hulle werk met groot welslae verrig, totdat ds. Henrico ‘n beroep na Messina aangeneem het. Op 9 April 1950 moes die gemeente met leedwese van sy eerste herderspaar afskeid neem.

Tweede leraar

Hierdie keer moes Witfield langer wag voordat die vakature gevul is. ‘n Volle jaar het verloop voordat daar weer ‘n leraar verwelkom kon word. Gedurende dié periode het die kerkraad, met ds. W.P. Roux as konsulent, sewe beroepe sonder enige welslae uitgebring. Eers die agtste beroep het ‘n geslaagde reaksie gehad, toe dit deur prop. R.R. van Wyk aangeneem is. Prop. Van Wyk het sy studies pas die vorige jaar aan die Kweekskool op  Stellenbosch voltooi en het trouens vantevore in die gemeente gearbei. Op 28 April 1951 is ds. Van Wyk georden en kon hy sy werksaamhede as evangeliedienaar aanpak. Vir die gemeente sowel as die leraar was die ordening ‘n besondere geleentheid: dit was die gemeente se tweede predikant en die leraar se eerste gemeente.

Vooruitgang

Die gemeente self het egter ook in die ses jaar van sy bestaan ‘n geweldige vooruitgang ondergaan. Tydens die afstigting in 1945 het die gemeente ‘n ledetal van 500 gehad. Dit het tot ongeveer 650 in 1951 gestyg. Waar die kerkraad aanvanklik uit slegs 14 lede bestaan het, het toe 34 kerkraadslede gedien. Die gemeente se materiële besit het eweneens toegeneem: behalwe die kerksaal wat in 1945 as geskenk van Boksburg ontvang is, het die gemeente toe ook ‘n ruim pastorie gehad. ‘n Kerkboufonds is in die lewe geroep en die erf wat vir die godshuis bedoel is, is net langs die pastorie geleë.

Predikante