Van Wyk, Roelof Rudolf

Ds. Van wyk Roelof

gebore

08 Feb. 1925

OORLEDE

25 Okt. 2006

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1950

ORDEN

1950

standplase

1950 Witfield

1961 Springs

1964 Ogies

1969 Witfield-Wes

1978 Lambton

EMERITEER

1990

Roelof Rudolf van Wyk is op 8 Februarie 1925 op die plaas Jakkalsfontein in die distrik Viljoenskroon gebore, in die kliphuis wat sy pa, Pieter Hendrik van Wyk, self gebou het. Dit was moeilike jare op die plaas, die 1933-droogte het armoede gebring, maar met die Here se genade kon hulle oorleef. In 1931 het Roelof aan die plaasskool op Cyferfontein begin skoolgaan en met ʼn donkie skool toe gery, totdat hy ʼn leerling aan die Hoërskool Viljoenskroon geword het, waar hy in 1943 gematrikuleer het.

Roelof wou medies studeer, maar kon nie studiegeld bekom nie. In die tyd het hy onder die prediking en gesprekke met ds. Dirk de Vos geroepe gevoel om predikant te word. Die destydse Reddingsdaadbond en ʼn paar vermoënde boere het hom ʼn lening gegee, en in 1944 het hy aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf, waar hy die BA-graad verwerf het. Hierna was hy ʼn student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy aan die einde van 1950 as proponent gelegitimeer is.

Op 28 April 1951 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Witfield by Germiston ontvang en bevestig, waar hy ʼn dekade lank met groot seën gewerk het voordat hy in 1961 leraar van die NG Gemeente Springs geword het. In 1964 het sy pad na die NG Gemeente Ogies, ʼn pragtige gemeenskap tussen Delmas en Witbank, geloop. Navier jaar het hy na Witfield teruggekeer as die leraar van die NG Gemeente Witfield-Wes. Daarna het hy leraar van die NG Gemeente Lambton in Germiston geword, waar hy goeie werk gedoen het tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 29 April 1990.

Roelof is in 1952 met Hester Steyn, ʼn bibliotekaris en ʼn “studente kys”, op Stellenbosch getroud. Uit die huwelik is vier kinders gebore, twee seuns en twee dogters. Na Roelof se dood het Hester na die aftree-oord Huis Eikelaan op Potchefstroom verhuis, waar sy tans nog woon. -Dr Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek 2007).