NG Gemeente Hermanus

NG Gemeente Hermanus

gestig

7 Desember 1934

 

 

Die eerste erwe word in 1855 in die vissersdorpie, in wat later Hermanus sou word, uitgemeet. Kort daarna het die Henn-familie van Hawston (toe Herriesbaai – enkele kilometer buite Hermanus aan die Kaapse kant), hierheen verskuif. Hermanus-hawe was veiliger as dié van Hawston, wat oop in die aanslag van die Noordwes-wind gelê het. Dit word vertel dat een van die meisies kort na hulle aankoms gestuur is om te gaan water haal. Met haar terugkeer vra haar Ma: “Waar het jy water gekry?” Sy antwoord: “By Hermanus Pieters se fontein.”. Hermanus Pieters was ‘n plaasskool-onderwyser vanuit die Caledondistrik. Wanneer hy vakansie gehad het, het hy met sy troppie vee hier teen die see kom uitkamp. Oor tyd het ‘sy’ fontein met naamskoppeling die nuwe nedersetting ‘Hermanuspietersfontein’ geword. Hierdie lang naam is gebruik tot die plaaslike posmeester op ‘n goeie dag in 1903 ‘ingegryp’ het. Hy het eenvoudig besluit om die naam tot ‘Hermanus’ te verkort. Volgens oorleweringwas hy moeg vir die lang naam wat hy telkens moes uitskryf. Die poskantoor het dus ‘n besondere rol gespeel in dit wat vandag kortweg as Hermanus bekend is.

Die nuwe gemeenskap het by die Caledonse gemeente ingeskakel. Vroeg reeds is daar egter begin om ook van tyd tot tyd dienste in Hermanus te hou. Die eerste baba is in 1858 hier gedoop. ‘n Groeiende behoefte aan kerk- en gemeentewees het daartoe gelei dat die eerste kerksaal, waar die Grobbelaarsaal tans is, in 1878 in gebruik geneem is. In 1926 is die huidige kerkgebou, wat later as die NG Kerk Hermanus bekend sou staan, deur Caledon se gemeente gebou en in gebruik geneem. Caledon-gemeente het sy Hermanus-wyk se groei en behoeftes raakgesien. In 1926 volg die KJV Zaal, wat vandag as Ertjiesvlei bekend staan. Hierdie historiese kleinhoewe en gebou wat steeds trots in besit van die gemeente is, is in die mooie Hemel-en-Aarde Vallei geleë – in die rigting van Caledon, en word vir allerhande gemeente- en privaatgeleenthede gebruik. In 1931 is ‘n kerksaal op Kleinmond, wat toe nog deel van Hermanus (as ‘n wyk van Caledon) was, gebou.

Hermanus-wyk het bly groei. Op 7 Desember 1934 het dit van Caledon afgestig om volwaardig as’n NG gemeente in Hermanus tot stand te kom, met ds Dirk van der Spuy as die eerste gemeenteleraar en mej McFarlane as orrelis. Die orrel, wat steeds in gebruik is en hoog aangeslaan word, is tweedehands in Engeland aangekoop. As gevolg van die Tweede Wêreld Oorlog is aflewering vertraag, maar dit kon op 18 Desember 1940 ingewy word. In 1980/81 is die orrel teen ‘n koste van R12 000 oorgedoen en grootliks vernuwe. Gedurende die dienstydperk van ds FR Grobbelaar, wat ds van der Spuy in 1948 opgevolg het is die Grobbelaarsaal gebou. Hierdie bekende saal lê as baken aan die onderkant van die gemeente se eiendom, aan die see-kant. Ds Grobbelaar is ongelukkig voor voltooiing onverwags oorlede.

Ds Grobbelaar is deur die jonge ds PC Malan in Maart 1953 opgevolg. Die Malans wat in Desember die vorige jaar getroud is het in Maart in Hermanus aangekom vir ‘n dienstydperk van bykans 3 jaar. Gedurende sy dienstyd is daar vir die eerste keer middagdienste in die aangrensende dorpie Onrusrivier gehou – wat in die omgangstaal as Onrus bekend geword het. Soos die geval met Hermanus, het Onrus ook in later jare ‘n eie munisipaliteit en dorpsraad verkry. Sedert 1994, met die groepering van munisipaliteite, is Onrus saam met Hermanus en aangrensende dorpe in die oorkoepelende Overstrand Munisipaliteit gevoeg. Weens ‘n groeiende inwonertal sou ‘n eie gemeente weldra volg.

Na vertrek van die Malans is ds EJ (Elias) Matthee beroep. Met viering van die gemeente se kwarteeufees oor 4-6 Desember 1959, was Hermanus-gemeente reeds sodanig uitgebrei dat die Ring van Caledon van mening was dat die bediening deur een leraar nie aan die behoefte kon voldoen nie. Gevolglik is op 24 Mei 1960 besluit om eerwaarde Theunissen as ‘n hulpleraar vir Kleinmond aan te stel.  1)

Gedurende 1958 – 1959 is die voorportaal van die kerk aangebou. Nuwe banke is onder ingesit en ‘n   preekstoel gebou. Sapelehout is hiervoor gebruik, terwyl die banke op die gallery, wat reeds in 1948 vervang is, uit akkerhout gemaak is. Nuwe matte, ‘n nagmaaltafel en doopbak was ook op die lysie. Teen ₤6 150 was die uiteindelike koste bykans net soveel as die boukoste van die kerk in 1926. Die nuut oorgedoende kerk is op 8 Desember 1960 ingebruik geneem. Na hierdie vreugdes ervaar die gemeente egter droewigheid toe ds Matthee op 2 Junie 1963 die tweede leraar geword het om hier in die tuig te sterf. Ds JO de Waal word as leraar beroep. Hy aanvaar diens in 1964 en bedien die gemeente tot 1969. Gedurende hierdie tyd word ‘n Kantoor vir Maatskaplike Dienste ingestel en in 1966 het die eerste maatskaplike werker, mej Gerber, diens aanvaar. Die kantore vir die Maatskaplike Dienste word sedert 1970 aan die voorkant van die Grobbelaarsaal gehuisves.

Groeiende getalle het die kerkraadgedwing om vir beter bedieningsopsies the te kyk. Kort na die aankoms van ds Mike Müller (1970 – 1973), is besluit om Kleinmond af te stig. Ten spyte van die 350 volwassenes en 92 kinders wat met afstigting op 21 September 1971 na die nuwe Kleinmond-gemeente oorgeskuif het, was die gemeente nog so groot dat ook ‘n tweede leraarspos geskep is. In 1972 kry die gemeente ‘n eerste tweemanspan toe ds Willie Alheit (1972 – 1975) beroep is om saam met ds Müller in die gemeente te dien.  2)  ‘n Tweede pastorie, die ‘Mussonstraatpastorie’, is aangekoop.

Die volgende tweemanspan is gevorm toe ds Gert Lambrecht (1974 – 1978) by ds Alheit aangesluit het. In hulle tyd is Huis Lettie Theron gebou en ingewy. Die eerste verkennende gesprekke vir ‘n eie ouetehuis is al in 1966 met die toenmalige Departement Volkswelsyn en die Sinodale Kommissie vir Barmhartigheid gevoer. In Maart 1974 is tenders vir die projek aangevra. Bouwerk het in Augustus 1974 begin en is in September 1976 voltooi. Alhoewel die eerste inwoners reeds in Oktober ingetrek het, is die tehuis eers in April 1977 ingewy. Na ‘n skenking van R25000 deur mev. Theron, (van Zeerust die grootste deur ‘n enkele donateur), is besluit om die tehuis na mev Lettie Theron te vernoem. Die uiteindelike koste het R426 000 beloop. Die Sinodale Kommissie vir Barmhartigheid, wat vandag as Badisa bekend is, is steeds die eienaar van die tehuis.

Di Lambrecht en Alheit is onderskeidelik deur ds Jan Oosthuizen (1975 – 1991) en ds Chris Liebenberg (1979 – 1982) opgevolg. Gedurende hierdie jare ontvang die gemeente die eerste stel

  1. ‘n Eerwaarde is ‘n persoon wat spesifiek vir diens in die sendingveld opgelei word.
  2. Die stelsel van dankofferkoevertjies wat tans nog in gebruik is, is deur ds Alheit ingestel.

kanselklede wat deur Inneke McClauglin gemaak is, en gebruik word soos die kerkjaar verander. Hierdie kanselklede het vir bykans twintig jaar diens gedoen. Die kanselklede wat tans in gebruik is, is in 2003 deur Suzette Lötter geskenk.

Na die vertrek van ds Liebenberg in 1982, het ds Jasper Swart (1982 – 1989) by ds Oosthuizen aangesluit. In Desember 1984 het die gemeente ‘n vyftigjarige fees gevier. Die kerkraad het ‘n feesbundel goedgekeur en die skryf en samestelling daarvan aan ds Willie Alheit, wat in die gemeente kom aftree het, opgedra. In hierdie periode is die Mussonstraatpastorie verkoop,  die pastorie in Hoofweg vergroot en die Kerkstraatpastorie gebou.

Die gemeente het intussen bo verwagting uitgebrei. ‘n Direkte gevolg was ’n kerk wat so vol gepak is dat die kerkraad genoodsaak was om in 1985 bordjies op die kerkraadsbanke aan te bring om sitplek vir die kerkraad te verseker. Gedurende vakansietye het die probleem sodanig vererger dat die kerkraad besluit het om gedurende die vakansieseisoen twee dienste op ‘n Sondag te hou. Teen 1986 het die kerkraad egter besef dat ‘n permanente oplossing vir die probleem gevind sal moet word. ‘n Derde leraar moes beroep word of ‘n deel van die gemeente moes afstig. Laasgenoemde was nie net as die meer ideale oplossing gesien nie, maar dit was reeds druk onder bespreking in die gemeente. Die meeste lidmate wat in Onrus gewoon het was sterk ten gunste van afstigting.

Daar is besluit om afstigting te ondersoek en in 1987 uitvoering daaraan te gee. Die aanvanklike plan was om Onrus en Sandbaai vir nuwe gemeentevorming saam te voeg. ‘n Referendum onder die betrokke lidmate het uitgewys dat slegs twee Sandbaaiers ten gunste van afstigting gestem het teenoor die verre meerderheid in Onrus wat ten gunste was. ‘n Kinkel het egter gekom toe die ring die aansoek om afstiging afgewys het. Daar is toe besluit om ‘n derde leraar te beroep. Ds Michiel de Kock, wat as student hier werksaam was, is in 1988 beroep. Aangesien hy hoofsaaklik in Onrus diens gedoen het, en as troos vir die teleurgestelde lidmate van Onrus, is die derde pastorie daar gebou. Voltooiing daarvan was in Junie 1989, en word steeds deur ds de Kock bewoon.

Die driemanspan (di Oosthuizen, Swart en De Kock) het in 1989 verander met die vertrek van ds Swart en die beroeping van ds Pierre Bosman. Na die aftrede van ds Oosthuizen in 1991 is hy opgevolg deur ds Charel Nel (tans dienend). Vier van die leraars, Chris Liebenberg, Jasper Swart, Pierre Bosman & Charel Nel was klasmaats op Stellenbosch.

Die negentigs en die eerste dekade van die nuwe millenium was die tyd van strategiese beplanning vir gemeentewees in Hermanus. Rondom 1993/94, maar veral gedurende 1995, het Hermanus ‘n sterk toename van intrekkers beleef. Ons gemeente het ook hierby gebaat. Groei bring egter uitdagings waarvoor beplan moes word. Die eerste van hierdie beplanningsessies was in 1993–1994. Onder andere het die volgende voortgevloei uit die besluite wat geneem is: die aanstelling van prop Corné Kemp (tans dienend) en sy opvolgende beroep as voltydse leraar in 1994, verkleining van die kerkraad, die instelling van die dienswerkerstelsel, asook die begin van Onrus as ‘n wyksgemeente. In 1999 is prop (Dr) Liesel Joubert as pastorale hulp aangestel om ds de Kock in Onrus by te staan. Bediening van hierdie vyftal in die gemeente het geduur tot afstigting van Onrus in 2001 toe beide ds de Kock en Dr Joubert daar diens aanvaar het.

In 1998 het die tweede strategiese beplanning gevolg. Die gemeente begin op die basis van blokkerkrade funksioneer met ‘n verkleinde sentrale kerkraad. Daarna volg ‘n omvangryke derde beplanning wat uiteindelik as ‘Overmaakt’ bekend geword het vanaf 2003–2005. Met die hulp van Buvton, die latere Communitas, is groot aanpassings gemaak. Met die afstigting van Onrus was aanpassing in die bedryf en bestuur van die gemeente natuurlik baie nodig. Die visie van die gemeente – “Ons leef as God se mense tussen berg en see”, is in hierdie tyd aanvaar, en onder andere is die volgende aanpassings gemaak: die kerkraad is aansienlik verklein, blokkerkrade vervang, diakens verminder en die wyke deur ouderlinge sonder kerkraadsverpligtinge bedien. Verskillende bedieninge is volgens die onderskeie bedieningsareas van die gemeente ingestel. Van die drie predikante het net ds Kemp sy eie huis besit. Die kerkraad het besluit om die ander predikante die geleentheid te bied om eie huise aan te koop, en die pastorieë is verkoop. ‘n Nuwe kantoorblok, die binnehof, die Hermann Swartsaal ens is aangebou.

‘n Hoogtepunt in die gemeente was die viering van haar 75’e bestaansjaar in Augustus 2009.

Soos dit egter soms met veranderings is wys die praktyk dat nie alles wat ingestel word noodwendig aan die vereistes of verwagtinge voldoen nie. Die kerk is nie hiervan gevrywaar nie. Gedurende die winter van 2010 is daar tydens ‘n gemeentevergadering verskeie menings aan die kerkraad aangebied wat daartoe gelei het dat sommige van die ‘Overmaakt-besluite’ herroep is. Ondere andere is ‘n volle kerkraad met ouderlinge en diakens weer ingestel.

In 2013 het die driemanskap van predikante met die aftrede van ds Bosman tot ‘n einde gekom. Sy pos is nie weer gevul nie. Tans is di Nel en Kemp die predikantespan van die gemeente.

Die doel en aard van gemeentewees, besig met Koninkrykswerk, vereis dat besinning en aanpassing ‘n voortdurende proses moet wees om volhoubaar doeltreffend te wees. As voortvloeisel van die kerkraad se verbintenis hiertoe is inisiatiewe in 2014 geneem om die bestuur van die gemeente aan te pas, insluitend kommunikasie tussen die onderskeie bedieninge en na en van die gemeente. Die bedieninge is gekategoriseer. Aanpassings is in die algemene bestuur van die gemeente gemaak. ‘n Bestuurspan, as permanente taakspan van die kerkraad, asook ‘n Bedieningsforum, onder voorsitterskap van die kerkraad, waarop die voorsitters van die onderskeie bedieninge en die predikante sitting het, is ingestel. Na ‘n jaar van suksesvolle inwerkingstelling van hierdie aksiestappe het die gemeente in Augustus 2015 dank aan God gebring deur ‘n gemeentefees te hou.

Ons kyk vorentoe met vertroue. God wat ons gemeente deur soveel wonderlike jare gelei het, sal dit steeds doen. In Hom is ons vertroue. ‘n Nuwe tydvlak lê voor. Ds Nel emeriteer in April 2019. Bron: http://www.ngkerkhermanus.co.za/geskiedenis/