Malan, Pieter Cillie

Ds PC Malan

GEBORE

20 Mrt. 1919

OORLEDE

06 Jul. 2006

UNIVERSITEIT

BA (UP); Teol (US)

GELEGITIMEER

1948

ORDEN

1949

STANDPLASE

1949 Bezuidenhoutsvallei

1953 Hermanus

1956 Brixton

1958 Memel

1962 Barkly-Oos

1966 Vanderbijlpark-Wes

1970 Noordwesrand

EMERITEER

9 Mei 1984

Pieter Cillié Malan is op 20 Maart 1919 in die pastorie van Umtali in die destydse Rhodesië, waar sy vader ds. WC Malan die herder en leraar was, gebore. Hy word een van die oudste predikante in die NG Kerk en sterf op 6 Julie 2006. Cillié, ook PC soos sommige hom noem, is vernoem na sy oupa aan moederskant, Pieter Cillié, destyds parlementslid vir Wagenmakersvallei (Wellington).

Pieter Cillié Malan matrikuleer aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria, waar hy as uitstaande atleet ‘n reeks rekords opstel en as kaptein van die rugbyspan die Affies tot hulle eerste oorwinning van die Administrateursbeker lei. Hy voel geroepe om predikant te word en studeer in Pretoria waar hy die BA (Admissie) -graad aan Tukkies behaal. Hierna loop sy pad na Stellenbosch waar hy in 1948 as proponent aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch afstudeer. Hy word op 23 April 1949 met handoplegging in die NG Gemeente Bezuidenhoutsvallei ontvang en bevestig, waarna hy op 14 Maart 1953 na die NG Gemeente Hermanus vertrek. Op 21 Januarie 1956 word hy leraar van die NG Gemeente Brixton in die hart van die Goudstad. Na twee jaar word hy in 1958 leraar van die NG Gemeente Memel in die Oos-Vrystaat, waarna hy in 1962 vertrek na die NG Gemeente Barkly-Oos in die bergwêreld van Noordoos-Kaapland. In 1966 word hy leraar van die NG Gemeente Vanderbijlpark-Wes en in 1970 na die NG Gemeente Noordwesrand, waar hy op 9 Mei 1984 sy emeritaat aanvaar. Hierna is hy as pastorale hulp werksaam in die NG Gemeentes Margate en Waterberg-Noord. Hy sterf op 6 Julie 2006 en leef steeds voort in baie harte.

Hy tree in 1952 in die huwelik met Joey Odendaal, plaasdogter en onderwyseres van Memel in die Oos-Vrystaat. Uit die huwelik word twee seuns, Jacques en Albertus, en ‘n dogter, Sarie, gebore. Joey sterf in 1991 en mettertyd gee hy ook al drie sy kinders aan die dood af, so bly hy alleen agter en verwerk die situasie baie moeilik. Hy verhuis van ‘n aftree-oord in Pretoria na die PAM Brink Tehuis vir Bejaardes in die Strand, waar hy in die nabyheid van sy broer Awie is en hulle die laaste genadejare intens mekaar se lief en leed deel. Ds. Cillié Malan sterf in die aand van sy lewe op 6 Julie 2006 en word oorleef deur sy broer ds. Awie Malan van Gordonsbaai. (Jaarboek 2007).