gebore
09 Apr. 1932
OORLEDE
11 Jan. 1992
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1958
ORDEN
1959
standplase
1959 De Aar
1963 Rossville
1966 Oos-Londen
1971 Sondagsrivier-Suid
1975 Algoapark-Noord
1978 Namakwaland
EMERITEER
20 Jan 1984
Ds Hendrik Jacobus Greeff, BA, (09.04.1932-11.01.1992); Hy was ‘n seun van die gemeente Oudtshoorn, waar hy op 9 April 1932 die eerste lewenslig aanskou het op ‘n plaas in daardie distrik. Sy onderwys ontvang hy aan die Sekondêre Skool Volmoed en die Hoër Seunskool Oudtshoorn. Nadat hy in 1949 gematrikuleer het, gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch vir sy graadkursus, en daarna na die Teologiese Kweekskool aldaar vir sy vierjarige teologiese studiekursus. Toegelaat tot die bediening aan die einde van 1958, neem hy enige maande daarna ‘n beroep aan na De Aar, waar hy op 4 April 1959 met oplegging van hande bevestig word. Onder die medeleraarskap van hom en ds H R Cilliers, word die herstel en redekorasie van die kerk en kerksaal aangepak en deurgevoer. Na die gemeente De Aar was hy ook predikant in die volgende gemeentes: Rossville (14.09.1963- 30.07.1966); Oos-Londen (1966-30.07.1971); Sondagsrivier-Suid (1971-12.04.1975); Algoapark-Noord, Port Elizabeth (12.4.1975-21.07.1978); en Namakwaland (21.7.1978-20.01.1984); In 1984 aanvaar hy sy emeritaat na 26 jaar diens.
Hy is in 1959 getroud met Elsa Smit. Ds Hendrik Jacobus Greeff, leraar van die gemeente Namakwaland, is op Saterdag, 11 Januarie 1992, onder operasie in ‘n Kaapstadse hospitaal oorlede. Gedurende die laaste jare van sy bediening was sy gesondheid nie aldag na wense nie en was hy twee keer onder operasie. Ten spyte daarvan het sy spontane en vriendelike laggie nooit gekwyn nie. Hy het dit geniet om ander te begelei, en het in sy bediening ‘n besondere liefde vir die bejaarde gehad. Sy skrifgetroue prediking was vir almal ‘n aansporing. Ons eer die nagedagtenis van ‘n besondere kind van die Here en bid sy eggenote en kinders, Johan en Kobus, die vertroosting van die Here toe. (- Ds Steyn McCarthy)