NG Gemeente De Aar

NG Gemeente De Aar

gestig

1913

AFGESTIG VAN

Hanover, Philipstown en Britstown

waarby ingelyf

Ng Gemeente De Aar-Suid

RING

Hanover

ADRES

Kerkstraat

De Aar

SLUIT IN

De Aar

EERSTE PREDIKANT

Ds AA van Schalkwijk

 

Beginjare

Die dorp Philipstown is in 1865, kort na die afskeiding van die Gereformeerde Kerk te Colesberg, aangelê en wel “als een kerkdorp van de Gereformeerden.” Die dorp is na die goewerneur Sir Philip Wodehouse vernoem. Die Ned. Geref. Gemeente het op 8 Februarie 1873 van die moedergemeente Colesberg afgestig. In 1904 het die kerkraad die plaas Rietfontein aangekoop om ’n dorp aan te lê. In 1912 is die kerk met ’n sierlike traliewerk omhein en is dit van gasligte voorsien. In 1913 is die gemeente De Aar gestig – dit het grootliks uit Philipstown se gemeente bestaan.

In 1902 het die “Israelietische Broeders Friedlander,” wat die dorp De Aar aangelê het, 8 erwe vir ’n plein bewillig om daarop ’n Ned. Geref. Kerk en pastorie te bou. Behalwe die 8 erwe het hulle ook nog 26 ander erwe geskenk waarop hereregte van £78 per jaar betaalbaar was. Die hereregte moes gebruik word as salaris vir ’n predikant en die geld verkry uit die verkoop van die erwe moes gebruik word om ’n kerk te bou.

Die gemeente is op 13 Augustus 1913 gestig. Die gemeente het uit gedeeltes van die volgende gemeentes bestaan, nl. Hanover, Philipstown en Britstown. Die kerkgebou is in 1907 deur die kerkraad van Hanover voltooi. Die plaaslike sendeling, bygestaan deur ’n direksie, het in die beginjare die bediening behartig. Eers in 1914 kon die gemeente haar eerste leraar verwelkom en op 16 September van daardie jaar is ds. AA van Schalkwijk bevestig.

Tydens sy bediening word die pastorie in Kerkstraat (1916) en die huidige kerk (1924) in gebruik geneem. In die beginjare het bykans die helfte van die gemeente bestaan uit mense wat op die Spoorweë gewerk het. “En bestaat de welgegronde verwachting, dat het dorp zich snel in de toekomst uitbreiden zal en dat de gemeente alhier een bloeiende worden zal”.

Ds. Van Schalkwyk is opgevolg deur ds. PJ du Plessis (1929-1946). Die lidmate neem so toe dat die kerkraad besluit om ’n medeleraar te beroep, nl. ds. J Visser (1942-1945).

In 1941 is die skoolkoshuis in gebruik geneem. Die erwe waarop die koshuis gebou is, is deur die gemeente geskenk, maar met ’n voorwaarde, nl. dat sodra die munisipaliteit ’n nuwe uitbreiding van die dorp sou beplan, grond van die NG Kerk De Aar beskikbaar gestel sou word. Met die uitbreiding van De Aar-Wes in 1946, verkoop die raad 12 erwe aan die kerkraad vir die nominale bedrag van een sjieling

Op 1 November 1947 dien ’n verslag om fondse in te samel vir die oprigting van ’n tweede kerkgebou. Gedurende Julie 1951 het die kerkraad die argiteksplanne gereed gehad van ’n kerkgebou met sitplek vir 900 mense.

Op 13 Junie 1953 dien die volgende verslag: “’n derde van die gemeente sal afstig, d.w.s. 666 lidmate, twee-derdes sal agterbly met twee leraars, alle boufondsgelde saam met die 12 erwe in De Aar-Wes uitbreiding sal as bruidskat na die te afgestigte gemeente gaan”.

Die ring van Colesberg hou op 25 Augustus 1953 ’n spesiale vergadering waartydens die stigting van ’n De Aar-Noord gemeente goedgekeur word. Ds. HF Cilliers van De Aar (moedergemeente) is die eerste konsulent. Ds. C van der Merwe is op 10 Junie 1954 as eerste leraar bevestig.

Die Ned. Geref. Kerk De Aar-Suid het op 1 September 2011 een geword met die Ned. Geref. Kerk De Aar.

Dogtergemeentes:

  • De-Aar-Wes
  • De Aar-Noord (1953)
  • De Aar-Suid

 

Predikante:

AA van Schalkwyk 1916 – 1929

PJ du Plessis 1929 – 1946

J Visser 1942 – 1945

 

Bronne

Ons Kerk Album, bladsy 103 en 116
Ned. Geref. Gemeente De Aar-Noord 1953-1978
Smit, AP. 1963. Gedenkboek by die Goue Jubileum van die Ned. Geref. Kerk De Aar 1913-1963