gestig
1905
ring
Ring van Oos-Londen
Adres
H/v Patersonstraat en Lambertweg, Arcadia, Oos-Londen
eerste predikant
Ds
Die NG Gemeente Oos-Londen is ‘n gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland.
Agtergrond
Anders as die twee ander hawestede van die destydse Kaapprovinsie, Kaapstad en Port Elizabeth, wat albei vir groot dele van hulle bestaan meerendeels Engels was, maar nietemin ‘n Afrikaanse hinterland gehad het, was Oos-Londen uit die staanspoor Engels in ‘n grotendeels Engelse omgewing. Die stad het sy ontstaan te danke aan die oorloë met die Xhosas aan die Oosgrens. In 1855 is ‘n militêre kamp aan die mond van die Buffelsrivier aangelê. Aan die einde van die militêre optrede is ‘n aansienlike aantal Britse en Duitse soldate diep in die binneland gevestig om te dien as hulp as daar weer moeilikheid met die inboorlinge sou ontstaan.
Aan die stigting en ontwikkeling van dié hinterland het Afrikaners weinig aandeel gehad. Die stad het daarom in ‘n suiwer Britse rigting ontwikkel. In later jare het Afrikanerboere egter toenemend die oostelike deel van die destydse Kaapkolonie beset en toe droogtes en swaarkry kom, het sommige van die besitlose landelinge ook na Oos-Londen afgesak. Die stad was egter klein en daar het min fabrieke ontwikkel, dus was die stroom daarheen ook gering van omvang.
Eerste Afrikaanse kerk
Die eerste Afrikaanse gemeente in Oos-Londen was nie ‘n NG gemeente nie, maar wel die “Vrije Hollandse Gemeente van Oost-Londen”, ook gewoonweg genoem die Independente Gemeente, wat deur ds. Jooste van Transvaal gestig is en sy eerste kerkraadsvergadering op 6 April 1896 gehou het. Die gemeente het ‘n sinkkerkie in St. Paulweg opgerig waar die lekkergoedfabriek van Wilsons later jare sou staan. Die laaste kerkraadsvergadering van hierdie gemeente is op 21 November 1904 gehou.
Toe het die NG kerk oorgeneem, onder leiding van die moedergemeente Komga en die eerste NG kerkraadsvergadering is op 1 Mei 1905 gehou. Ds. Andrew Murray McGregor word op 9 September 1905 bevestig en vertrek weer in 1909. Die tweede leraar, ds. J.P. van Huyssteen, is op 9 Julie 1910 bevestig. Ná 1905 het die Afrikaners in die nuwe fabrieke, spoorweg- en hawewerke egter snel toegeneem en kry die gemeenskap onder andere op 29 Januarie 1934 sy eie, Afrikaanse Hoërskool Grens. In 1945 het hier reeds 5 191 siele van die NG Kerk gewoon, nog 1 755 van die Nederduitsch Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerk en ‘n paar honderd ander Afrikaanssprekendes. Volgens die sensus van 1946 het Afrikaanssprekendes dus 18,5 persent van die blanke inwoners van Oos-Londen gevorm, vergeleke met 15,5 persent volgens die sensus van 1936, toe daar 3 240 siele van die NG Kerk was.
Uitbreidings
Op 5 Oktober 1915 koop die kerk ‘n erf grensende aan die hoofstraat aan vir die bou van ‘n nuwe kerkgebou. Ds. Van Huyssteen, wat intussen na Riebeek-Wes vertrek het, gaan op versoek van die gemeente op reis deur die Vrystaat om by NG gemeentes geld vir die bou van die kerkgebou in te samel. Die gebou is op 8 April 1922, in die dienstyd van ds. B.J. Wessels, ingewy deur ds. A.J. Pienaar, moderator.
Huidige stand
Vanweë die snelle uitbreiding van die stad, is die Wes-gemeente in 1941 afgestig en die Noord-gemeente in 1946. Met die jare is vele ander gemeentes gestig, maar ‘n paar is mettertyd weer by ander ingelyf of het saamgesmelt. In 2010 was daar: Buffelsrivier (1962), Cambridge (1952), De Brug (1993), Gonubie (1986), Nahoon (1960), die moedergemeente, Oos-Londen-Noord (1946) en Oos-Londen-Wesheuwels (1971). Die ring van Oos-Londen, wat die NG gemeente King William’s Town insluit, het in 2010 meer as duisend belydende (volwasse) lidmate minder as in 1990 gehad.
In 2010 het die getal gemeentes met een afgeneem: De Brug, wat in 1993 ontstaan het uit die samesmelting van Oos-Londen-Suid en –Wes, is ingelyf by Buffelsrivier.
Die NG Sendinggemeente Oos-Londen is in 1976 gestig, asook etlike gemeentes van die eertydse NG Kerk in Afrika, wat vandag almal onder die VGK val.
Predikante
- Andrew Murray McGregor, 1905 – 1909
- Jacobus Petrus Johannes Wentzel van Huyssteen, 1910 – 1911
- Barend Johannes Wessels, 1912 – 1929
- Jacobus Petrus Johannes Wentzel van Huyssteen, 1930 – 1938
- Jacobus Wilhelmus Snyman, 1938 – 1946
- Jean Prieur du Plessis, 1941 – 1944
- Paul Marais van Heerden, 1946 – 1950
- Louis Jacobus Heyns, 1947 – 1949
- Johannes Albertus Hurter, 1950 – 1952
- Johannes Marthinus Nicolaas Breedt, 1951 – 1952
- Jacobus Claasen, 1958 – 1961
- Stephanus Albertus Opperman, 1961 – 1966
- Hendrik Jacobus Greeff, 1966 – 1971
- Adriaan Lodewikus Smit, 1972 – 1976
- Marthinus Stephanus van Zyl, 1973 – 1977
- Gert Jeremiah Daniel Els, 1977 – 1978
- Joachim Hendrik Maartens, 1978-1981
- Evert Gerhard Johannes De Graaff Schutte, 1979 – 1983
- Louis Cyril Henry Fourie, 1983 – 1994
- Floris J P Knouwds, 1984 – 1991
- Nico Wilhelm Bezuidenhout, 1995
- Eljam Vosloo, 1985 – 1998
- Cornelius Wilhelm Greeff, 1998 – 2000
- Johan Labuschagne, 2000 – hede