GEBORE
9 Aug. 1936
OORLEDE
1 Mrt. 2020
UNIVERSITEIT
BA (US)
gelegitimeer
1962
ORDEN
1963
standplase
1963 Westonaria
1968 Coligny-Oos
1974 Fichardtpark
1981 Fairland
1982 Weltevreden
1987 Bredasdorp
EMERITEER
13 Apr. 1997
DS LOFFIE ELOFF (BA) 9 Augustus 1936 —1 Maart 2020
Petrus Johannes Eloff is op 9 Augustus 1936 gebore op Bredasdorp. Een van sy voorsate is PJ Eloff, ‘n bekende baanbreker wat hom in die vroeë dae op die Voortrekkerdorp Schoemansdal in die Soutpansberg vestig. Hy het ses seuns, drie trek na die ontruiming van Schoemansdal na die Vrystaat en Kaapkolonie, die ander drie bly agter in die Soutpansberg. Een van hulle is Hans Eloff, wat onder leiding van eerw Stephanus Hofmeyr tot bekering kom en ‘n groot kerklike figuur in die Transvaalse Kerk by Soutpansberg word. Hy vergesel die jong ds. Andrew Murray op sy reise in die noordelike deel van ons land. Hierdie Hans Eloff het twee seuns, Petrus Johannes Eloff (oom Peet) en Johannes Zacharias Eloff. Albei ds. Loffie se grootouers was boere. PJ (Peet) Eloff is gebore op die plaas Klapperbos in die distrik Pietersburg en JC (Jan) was van die plaas Jagerskraal by Prince Alfred’s Hamlet.
Loffie se vader is ds. JZ Eloff, wat Lof genoem word. Sy moeder is Cienie Goosen en uit die huwelik is vier kinders gebore. Ds. Lof en Cienie Eloff is die leraarspaar van die NG Gemeentes Bredasdorp (1933-1946), Kenhardt (1946-1952), Kriel (1952-1962) en Louis Trichardt (1962-1971). Hier loop hy op die spore van sy voorgeslag en na sy emeritaat op 25 Julie 1971 vestig die gesin hulle aan die Wes-Rand, waar hy twee jaar lank in diens staan van die NG pastorale spreekkamer in Johannesburg. Hy sterf in 1983 en word langs sy vrou in Northcliff, Johannes-burg begrawe.
Loffie begin sy skooljare op Bredasdorp en in 1946 neem sy pa ‘n beroep aan na Kenhardt, waar hy ‘n leerling is tot die gesin in 1952 na die Transvaal verhuis en hy leerling word aan die Hoërskool Florida waar hy in 1954 matrikuleer. Loffie neem deel aan tennis, rugby en atletiek waar hy uitblink in hekkies. Loffie voel geroepe om predikant te word en volg in die voetspoor van sy vader en vertrek na Stellenbosch vir sy studies. Hy ontvang die BA (Admissie) in 1955 en word student aan die Teologie Seminarium in die Eikestad waar hy op 6 Desember 1962 as proponent gelegitimeer word.
Prop Loffie Eloff ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Westonaria, waar hy op 9 Februarie 1963 bevestig word. Hy skryf in sy herinnerings: “Toe ek op Westonaria bevestig is het my vader ds. JZ Eloff die bevestigingsrede gehou. My oupa Peet Eloff (87) was ook daar. Op jeugdige ouderdom het hy die roeping ontvang om predikant te word. Toe hy gereed maak om die lang tog na die Kaap aan te pak, word sy moeder ernstig siek. Die huisarts het hom meegedeel dat indien hy sou ver-trek, hy sy moeder nooit weer sou sien nie omdat sy sou sterf. Hy het toe die veld ingestap en die hele dag voor die Here geworstel oor wat hy moes doen. Teen die aand is hy huis toe, uitgeput, maar met vrede in sy hart. Hy het ‘n ooreenkoms met die Here gemaak: Hy sou bly, maar dan moet die Here vir hom ‘n seun gee wat in sy plek sal gaan. Op 9 Februarie 1963 het hy in Westonaria my voor die kansel gelukgewens. Hy het toe sy verhaal en ooreenkoms met die Here aan die gemeente vertel. Sy beker was vol. ‘n PJ Eloff is in die bediening bevestig en die Here het hom gespaar om dit te beleef. Die Here het sy kant dubbeld nagekom. En hiermee het hy sy hande na Bo uitgesteek en gesê: `Nou is u kontrak met my, Here, afgehandel. Nou kan ek in vrede gaan.’ Oor die 700 mense in die kerk het in doodse stilte trane afgevee.”
Die eerste jare op Westonaria het vir die jong ds. Loffie Eloff ‘n besonderse leerskool gebied omdat hy in die myngemeenskap die ware lewe op voetsoolvlak beleef het. Op 20 Februarie 1968 word hy bevestig in die NG Gemeente Coligny in die Wes-Trans vaal, waar die NG Gemeente Coligny-Oos op 15 September 1968 afstig en hy die eerste leraar van die gemeente word. In sy dienstyd word ‘n nuwe kerkgebou opgerig en daar ontstaan ‘n besonderse verhouding tussen die jong leraar en die mielieboere. In dié tyd is ds. Loffie ook kapelaan in die Coligny-kommando.
Hy neem ‘n beroep aan na die NG Ge-meente Fichardtpark in Bloemfontein, waar hy op 26 Januarie 1974 ontvang en bevestig word en ook verantwoordelik is vir die bou van ‘n nuwe kerkgebou. Die lidmate was baie jonk en daar is gewoonlik tot vyftien babas op ‘n keer gedoop, daarom kry die gemeente die bynaam “Nappy-valley”. Hier beleef ds. Loffie en sy kollegas wonderlike geestelike groei en dit is ‘n hoogtepunt in sy bediening.
Op 6 Februarie 1981 word hy leraar van die NG Gemeente Fairland in die groter Johannesburg, waar hy na ‘n jaar weer betrokke is by die afstigting van ‘n nuwe gemeente, die NG Kerk Weltevreden. Ds. Loffie Eloff word op 17 Oktober 1982 in hierdie nuwe gemeente bevestig en hy is weer betrokke met die bou van ‘n nuwe kerkgebou en pastorie op ‘n massiewe kleinhoewe. Pragtige tuine is uitgelê en dit is tot vandag toe nog ‘n sieraad aan die Wes-Rand. Dit was ‘n besonderse plek om te woon en die gemeente het in daardie tyd werklik na die Here en mekaar toe gegroei.
‘n Beroep kom na sy geboorteplek Bredasdorp in sy geliefde Rûens, waar hy op 27 Februarie 1987 bevestig word. Sy pa ds. Lof Eloff se eerste gemeente word ds. Loffie Eloffse laaste gemeente. Dit was ‘n ongelooflike ervaring om op dieselfde kansel te staan waar sy pa vir dertien jaar gestaan het, ook die pastoriebank te sien waar hy as sesjarige seuntjie vorentoe gestap het tydens ‘n spesiale erediens om sy hart vir die Here te gee. Hier werk hy tien jaar lank en aanvaar op 13 April 1997 sy emeritaat. So word ‘n wonderlike kringloop voltooi van geboorte tot die einde van sy bediening, sy hartsplek. Hier woon hy tevrede en gelukkig tussen die mense wat hy liefhet, ook na sy aftrede. Hy was sterk en gesond, vaardig met sy hande, speel gholf en kuier heerlik saam met vriende, kinders en tien kleinkinders!
Loffie trou op 13 April 1963 met Maritha Mey op Stellenbosch, ‘n onderwyseres van beroep. Uit die huwelik is drie kinders gebore: dr Johan Eloff, ‘n mediese dokter in Bloemfontein en sy vrou Alet, ‘n arbeidsterapeut; ds. Andri Eloff, predikant by die De la Bat-gemeente vir Dowes op Worcester en sy vrou, ‘n mediese dokter. Corné Retief, ‘n fisioterapeut en getroud met MüIler Retief, skoolhoof by Hoërskool Bredasdorp.
Op Sondag 1 Maart 2020 sterf ds. Loffie Eloff skielik en so eindig ‘n lewe propvol seën. Op 6 Maart 2020 vind ‘n herinneringsdiens plaas wat gelei word deur ds. Andri Eloff, terwyl ds. Braam Coetzee en Johan, Andri en Corné huldeblyke lewer. Die Here is groot, want ds. Loffie Eloff kon net soos sy pa en oupa Peet, sy “predikant-nageslag” in die Wingerd van die Here sien werk. Sy seun ds. Andri Eloff en Lettie Eloff se seun, ds. Hanri Joubert van Gansbaai, sit die goeie werk voor wat die voorgeslag in die NG Kerk begin het. —Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 367)
Ds Eloff is die seun van ds JZ Eloff en vader van ds Andrie Eloff.