Bruwer, Willie Johannes

Ds WJ Bruwer

Gebore

5 Sept. 1932

OORLEDE

11 Jun. 2005

UNIVERSITEIT

BA; MA; BD (US); D Litt et Phil (PU vir CHO)

gelegitimeer

1958

ORDEN

1959

STANDPLASE

1959 Cachet

1962 Sinoia (Rhodesië)

1969 Swartruggens

1974 Pastorale Raadgewer Pastorale Sentrum Johannesburg

1976 Kempton-Kruin

EMIRITEER

 1 Apr 1998

Willie Johannes Bruwer is op 5 September 1932 te Middelburg in Transvaal gebore. Sy oupa was Gert Johannes Bruwer en sy vader Willem Schalk Bruwer (1887-1970) wie sedert 1915 sendeling op Middelburg wat tot met die aanvaarding van sy emeritaat diep spore in die omgewing trap. Hy (WS) doen groot werk in die onderwys en kry die nodige erkenning deur as senator aangestel te word na sy aftrede en bly diensbaar in die hoedanigheid tot in 1965.

Die jong Willie wat in ‘n sendingpastorie opgroei voel van kleins af geroepe vir die Evangeliebediening. Willie begin sy eerste skoolopleiding van 1939-1945 aan die Laerskool in Middelburg en van 1946-1950 aan die Hoërskool Middelburg waar hy in die eerste klas matrikuleer. Hy blink uit as ‘n langafstand atleet en dien ook in die Voortrekkers. Na skool werk hy in 1951 as ‘n kooperasieklerk voordat hy na die Boland vertrek vir sy teologiese opleiding.

In 1952 vertrek Willie na die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1954 die BA (Admissie) ontvang en dit in 1957 opvolg met ‘n MA in Sielkunde oor “Studiehouding en Studiemetodes”. Hy is die primarius van Huis Marais en dien ook op die studenteraad. Willie is vanaf 1955 tot 1958 student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch waar hy die BD-graad in 1958 behaal oor “Die Spiritisme.” Al sy grade ontvang hy cum laude. Willie word op 4 Desember 1958 in die Moederkerk op Stellenbosch as proponent gelegitimeer. ‘n Groot eer val die jong proponent te beurt toe die Abe Baily Stipendium Studiebeurs vir voortreflike akademiese prestasie aan hom toegeken word vir studie aan die Cambridge Universiteit in Engeland, maar prop Willie wys dit van die hand omdat hy reeds ‘n pos aanvaar het as herder en leraar van die NG Gemeente Cachet. Dit was ‘n plegtige oomblik toe sy vader, senator Willie Bruwer, die bevestigingsrede lewer en hy op 27 Junie 1959 met handoplegging tot die bediening toegelaat word. Dr Willie skryf: “Daar het ons geleer om hard te werk. Die gemeente het destyds 1484 belydende lidmate gehad en net een predikant. Na ‘n jaar het daar genadiglik ‘n medeleraar gekom in die persoon van ‘n geliefde studentevriend, wyle ds. Gerhard Moolman. By hom het ek geleer wat werklike broerskap beteken”.

Ds. Willie Bruwer trou op 20 Desember 1958 met Coenie Roux ‘n onderwyseres, iemand wat hom tot met sy dood met liefde bystaan. Uit die huwelik is twee kinders gebore: Gerda is ‘n rekenaarkonsultant en toer operateur en is getroud met Rob Wilkin en hulle woon op Plettenbergbaai. Susan is ‘n rekenaarprogrammeerder en is getroud met Dawie Steenkamp, die egpaar woon in Pretoria en hulle het twee kinders Larissa en Johan.

In die lente van 1962 kom ‘n roepstem na die NG Gemeente Sinoia in die verre Rhodesië, waar hy op 1 September 1962 ontvang en bevestig word. Dit was ‘n krisistyd vir die Afrikaner en tydens sy dienstyd word Rhodesië onder eerste minister Ian Smith in 1965 eensydig onafhanklik. Tydens ds. Willie se dienstyd word ‘n nuwe kerksaal in 1962 gebou. Ds. Willie skryf: “Daar het ek seker my waardevolste ondervinding opgedoen. Omdat die Sinode van Midde-Afrika klein is in vergelyking met Sinodes in Suid-Afrika, moes ek as jong predikant verpligtinge op my neem wat in Suid-Afrika ondenkbaar sou wees. Maar ek het oneindig baie geleer”.

Op 4 Januarie 1969 is ds. Willie Bruwer en sy gesin terug in die Republiek van Suid-Afrika as die nuwe leraarspaar van die NG Gemeente Swartruggens. In hierdie pragtige dorpie tussen Zeerust en Rustenburg beleef die gesin vyf baie gelukkige jare, waar hy geleentheid kry om verder te studeer en in 1973 sy doktorsgraad in Sielkunde aan die PU vir CHO op Potchefstroom verwerf. Dr Willie skryf: “In Swartruggens met sy ouer lidmate het ons geleer om deernis te hê vir senior mense en om waardering te hê vir hulle meerdere ervaring”.

In 1974 registreer dr Willie Bruwer as Sielkundige by SA Geneeskundige Raad. Dit open die deur dat hy as fyn mensekenner en pastor gedurende 1974-1975 onder leiding van die Sinode van Suid-Transvaal die kerklike sielkundige word aan die Pastorale Sentrum in Johannesburg. Hy is baie eerlik as hy later skryf dat hy in daardie spreekkamer die lewe eers werklik leer ken het.

Op 10 Januarie 1976 word hy herder en leraar van die NG Gemeente Kempton-Kruin ‘n jong gemeente in Kemptonpark wat vyf maande vroeër gestig is. Hier sou dr Willie Bruwer 22 jaar lank werk en die gemeente sien groei van een tot vyf leraars en van ongeveer 570 lidmate tot oor die 2 000 met die aanvaarding van sy emeritaat. Dr Willie skryf: “Ons sal altyd daardie eerste tyd met dankbaarheid onthou. Die offervaardigheid, hulpvaardigheid en liefdevolle bystand was besielend. Daar was meer as genoeg hande en harte”. Oor sy prioriteite in die bediening skryf hy: “Prediking en pastoraat, met name getroue huisbesoek. Ek het gevind dat hierdie aspekte van die bediening enorme resultate lewer as dit toegewyd behartig word”. In sy dienstyd word ‘n nuwe kerksentrum in gebruik geneem en inisieer hy ‘n muur van herinnering. Op die breë kerklike terrein lewer hy as leier Koninkryksdiens van hoë gehalte. Dr Willie Bruwer se aktiewe bydrae as lid van die dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie en as aktuarius, assessor en moderator van die Sinode van Suid-Transvaal sal lank onthou word.

Op 15 Februarie 1998 lewer dr Willie Bruwer sy afskeidspreek in die kerkgebou van Kempton-Kruin met Openbaring 5 vers 1 tot 14 as teksvers. Sy emeritaat begin op 1 April 1998 en hy en sy vrou Coenie neem swaar afskeid na 22 jaar se intense lief en leed. Getrou het dr Willie as uiters georganiseerde mens boek gehou van alles, soos blyk uit die volgende: Tydens sy bediening as leraar van die NG Kerk het hy 1 943 keer in ‘n erediens gepreek, 869 persone gedoop, 494 huwelike bevestig, 281 mense begrawe, 838 kinders en volwassenes gehelp tot belydenisaflegging en 513 bidure gelei. In die tydperk van 1959 tot 1998 het hy 1 139 096 kilometer per motor afgelê. Die egpaar vestig hulle op Glen Marais in Kemptonpark waar hy op 11 Junie 2005 sterf na ‘n lang lyding en siekbed.

Dr Willie Bruwer se begrafnisdiens vind op 14 Junie 2005 uit die NG Kerk Kempton-Kruin plaas en word gelei deur ds. Fanie du Toit, 21 jaar lank sy kollega in die gemeente. Die treffende diens met 2 Tim. 4:7 as teksvers het diep geraak, die hele diens is op CD gesny met ‘n pragtige omslag vol foto’s. By die diens het dr Danie Malan die verwelkoming en dr Dolf de Beer die gebed gedoen. Huldeblyke is ook gelewer deur dr Willie Goosen (oud-moderator); dr Nelus Niemandt (Sinode van Suid-Transvaal) en dr Danie Malan (Kempton-Kruin gemeente en Ring van Kemptonpark); Die lewe van dr Willie Bruwer word saamgevat in die woorde op sy sterfbed: “Al wat regtig vir my waarde het, is die paar mense wat ek aan die Here Jesus kon voorstel”. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2006/361).