![](https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/wp-content/uploads/2020/04/Cachet-MvR-616x1024.jpg)
gestig
28 Mei 1919
Ring
Ring van Germiston
Adres
Thistleweg, Primrose
Eerste predikant
Ds. P. S. Venter
Ingelyf
30 Junie 2020
Ingelyf by
Die NG Gemeente Cachet was ‘n gemeente in die Hoëveld Sinode.
Stigting
Die stigting van die NG Gemeente Cachet gaan so ver terug as ‘n kerkraads-vergadering van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk Germiston op 17 Maart 1919 toe die twee wyke Edenvale en Modderfontein ‘n voorstel ingedien het om af te stig.
Bykans twee maande later, op 24 Mei 1919, versoek die “kerkraad” van die wyke Primrose, May Consolidated en Simmer&Jack om saam met Edenvale af te stig.
Op 28 Mei 1919 het die Ringskommissie in opdrag van die Ring van Johannesburg in die kerksaal te Edenvale saam met belangstellende gemeentelede vergader. By hierdie geleentheid is genoemde wyke, tesame met omliggende streke, as ‘n aparte gemeente – wat die naam Cachet sou dra – in die lewe geroep.
Die rede waarom dié nuwe gemeente se naam nie soos normaalweg verwys na ‘n geografiese gebied (byvoorbeeld NG Gemeente Primrose-Edenvale) nie, maar ‘n persoon se naam uit die kerkgeskiedenis, naamlik Cachet, is baie interessant.
In die NG Gemeente Cachet se Gedenkboek 1919-1944 (25 jaar) lees ons die volgende: Die voorsitter van die Ringskommissie het by hierdie geleentheid (Stigtingsvergadering) een en ander uit die lewensgeskiedenis van wyle ds Frans Lion Cachet meegedeel, en dit het aanleiding daartoe gegee dat besluit was om die nuwe gemeente na hierdie kerkvader te vernoem, wat soveel vir ons kerk in Transvaal beteken het gedurende die tydperk van storm en stryd in die sesde dekade van die vorige eeu (1860’s). Die volgende hoofstuk gee meer agtergrond oor ds Frans Lion Cachet.
Edenvale, wat destyds uit ‘n paar honderd wonings bestaan het, het die hoofdeel van die gemeente geword. Die kerksaal daar was dan ook vir ‘n tydlank die enigste vergaderplek van die gemeente.
Hierdie bepaling, naamlik dat Edenvale as hoofdeel van die gemeente geag sou word, het in die volgende paar jare redelike woordestryd uitgelok. Kerkraadslede het selfs gedreig om te bedank! Vanaf 1924 was die moontlikheid van die verdeling van die gemeente in twee gemeentes naamlik Cachet en Primrose, gereeld op die sakelys van kerkraadsvergaderings.
Die ongelukkigheid oor moontlike verdeling is verder verhoog met die dat ds PS van der Westhuizen openlik in ‘n kerkraadsvergadering verklaar het dat hy verkies om in Primrose te woon.
Vroeg in 1938 het die “stryd” om verdeling weer sterk begin opvlam. Op versoek van die leraar, ds Van der Westhuizen, is die hulp van die Sinodale Kommissie ingeroep om die netelige saak te fasiliteer.
Die geweldige uitbreiding van die destydse NG Gemeente Cachet het die versoek tot verdeling versterk. By ds Van der Westhuizen se aankoms in die gemeente in 1929 het die lidmaattal op 700 gestaan en in November 1937 op 1, 572!
Verdeling van die gemeente was onafwendbaar en 1 Mei 1939 is die nuwe gemeente NG Gemeente Edenvale gestig. (Geskryf deur Tonie Viljoen).
Leraars
In Oktober 1942 is ds. C.J.P. Bornman as eerste hulpprediker hier bevestig en in 1944 tot medeleraar verhef. Intussen is geld vir ‘n nuwe kerkgebou ingesamel, en die bydraes het so goed ingekom dat ‘n sierlike en ruim kerkgebou op 8 April 1944 sonder ‘n pennie skuld ingewy kon word. Ds. C.J.P. Bornmanm wat so baie daartoe bygedra het om die nuwe kerkgebou tot stand te bring, is in die jaar 1945 na Naboomspruit beroep en is toe in 1946. deur ds. M.J.P. Olivier opgevolg. ‘n Tweede pastorie is in Primrose-Oos aangekoop met die oog op huisvesting vir die medeleraar en ook om voorsiening te maak vir die afstigting van Primrose-Oos, wat dan ook op 8 Februarie 1947 plaasgevind het.
Op 1 Mei 1947 is ds. J.E. van Heerden, voorheen van Pietermaritzburg, as tydelike hulp vir ds. P.S. van der. Westhuizen aangestel. Aan die end van Julie 1948 het ds. P.S. van der Westhuizen ná 20 jaar getroue diens sy emeritaat aanvaar. Hierdie vakature is eers in Julie 1949 deur ds. S.W. Naudé, voorheen van Potgietersrus en daarna parlementslid, gevul. Sy dienstyd was egter van korte duur, want op Sondag 23 April 1950, nadat hy die oggenddiens waargeneem het, is hy dieselfde middag heel onverwags tot hoër diens opgeroep.
Vanaf 2 Desember 1950 was ds. M.S. Joubert die herder en leraar van die gemeente. Die gemeente was al weer te groot vir een leraar, en planne is toe beraam vir die afstigting van nog ‘n gemeente in die weste. Eindelik was die dogtergemeentes in Primrose: Primroseheuwel (nou Omnia) in 1952, Primrose-Môrewag in 1956 en Primrose-Oos in 1947. (Geskryf deur Morne van Rooyen).
Predikante
- Paul Stefanus Venter, 1919 – 1924
- Hendrik Rudolph Christiaan Barrish, 1926 – 1928
- Pieter Stefanus van der Westhuizen, 1929 – 1948
- Christoffel Johannes Petrus Bornman, 1942 – 1945
- Mieder Johannes Palm Olivier, 1946 – 1947
- J E van Heerden, 1947 – 1949
- Schalk Willem Naude, 1949 – 1950
- Marthinus Stephanus Joubert, 1950 – 1959
- Johannes Hendrik Lategan Wannenburg, 1956 – 1958
- Willie Johannes Bruwer, 1959 – 1962
- Johannes Gerhard Moolman, 1960 – 1963
- Roelof Johannes Jansen van Vuuren, 1962 – 1965
- Eugene Olivier, 1964 – 1968
- Carel Stefanus Hattingh, 1968 – 1974
- Carl Phillippus du Plessis, 1965 – 1976
- Christo Daeraad Koen, 1976 – 1979
- Alewyn Petrus Burger, 1970 – 1975
- Pieter Johannes van der Merwe, 1975 – 1980
- Johannes Schabort du Plessis, 1980 – 1989
- Deon Kitching, 1985 -1989
- Karel Petrus Jacobus Fourie, 1989 – 2005
- Clifford Frank Weinmann, 1982 – 1999
- Antonie Phillippus Viljoen, 2007 –