gebore
19 Des. 1909
OORLEDE
17 Jul. 1985
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1939
ORDEN
1940
standplase
1940 Swellendam
1942 Stanford
1945 Loxton
1948 Middelburg, K.P.
1959 Caledon
EMERITEER
–
Ds. Pieter Francois De Vos Muller (19.12.1909 – 17.7.1985) is op Die Hoop in die Klein-Roggeveldse gedeelte van die distrik Sutherland gebore. Hy geniet sy skoolopleiding op Laingsburg en gaan toe na die Sendinginstituut op Wellington waar hy einde 1933 die kursusvoltooi en as sendeling toegelaat word. Gedurende 1934 doen hy sendingwerk onder die Bruinmense langs die Olifantsrivier by Citrusdal en verder wes wat onder die sendinggemeente Elandskloof val. Ook help hy tydens ‘n vakature ses maande lank in die moedergemeente Citrusdal. Die jaar daarna gaan hy Stellenbosch- toe waar hy einde 1939 die proponentseksamen aflê. Sedert sy bevestiging op 27.4.1940 as hulpprediker in Swellendam, verwerf hy deur sy beskeie optrede, sy innemende persoonlikheid en sy ernstige boodskappe die gemeente se agting en liefde. Dieselfde dag waarop die kerkraad hom as tweede predikant beroep, ontvang hy ook ‘n beroep na Stanford en daarheen gaan hy in Februarie 1942. Voorts staan hy in die gemeentes Loxton (Julie 1945); Middelburg (K) (Augustus 1948); Caledon (Oktober 1959) en, eindelik Merweville (November 1971); waar hy op 19.12.1974 sy emeritaat aanvaar. Hy en mev. Muller gaan woon op die mooi dorp Robertson en daar sterf hy skielik nadat sy gesondheid verswak het, toe hulle juis op die punt staan om na die nuwe tehuis vir bejaardes op Laingsburg te vertrek.