NG Gemeente Calvinia

Die gemeente se tweede kerkgebou is in 1899 voltooi en in 1982 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die argitek was J.H. Gaisford (soms Gaysford gespel), van wie vandag niks bekend is nie, buiten dat hy dié kerk ontwerp het asook die NG kerke op Nieuwoudtville en Robertson.

GESTIG

5 April 1847

eers bekend as

NG Gemeente Hantam

Ring

Clanwilliam (voorheen Calvinia)

Adres

Dorpstraat, Calvinia

Sluit in

Calvinia en distrik

Waarby ingelyf

Calvinia-Hantam

Eerste predikant

N.J. Hofmeyr (1851–1859)


Die NG Gemeente Calvinia is die 35ste oudste gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die 33ste oudste in die destydse Kaapse Kerk met, soos die naam aandui, sy middelpunt op die Noord-Kaapse dorp Calvinia, hoewel die gemeente vir kerklike doeleindes ingedeel is in die Sinode van Wes-Kaapland.

Omdat dit die oudste gemeente in die omgewing is, het dit ook sy naam aan die Ring van Calvinia verleen tot die mees onlangse herindeling, toe Calvinia se gemeentes by die Ring van Clanwilliam ingeskakel het.

Die gemeente se Neogotiese kerkgebou is in 1899 voltooi en in 1982 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Naas die moedergemeente het tot 2016 op Calvinia ook die gemeente Calvinia-Hantam bestaan, wat in 1962 die laaste afstigting van die moedergemeente en die eerste op die dorp was.

Agtergrond

Die eerste veeboer-baanbrekers het die Hantam, soos die omgewing vandag bekendstaan, ’n Afrikaanse vervorming van die Khoi-samestelling !Han ‡ami wat “rooiuintjiesberg” beteken, omstreeks 1744 bereik toe hulle hierheen getrek het agter hul skape aan. Aanvanklik was die naaste kerke dié van Swartland (op Malmesbury) en Tulbagh. Die boere wat hulle in die omgewing kom vestig het, moes indertyd oor ’n afstand van meer as 300 km reis om Nagmaal- of doopgeleenthede by te woon. Dié afstand is in 1826 met amper 200 km verkort deur die stigting van die gemeente Clanwilliam.

Dr. William Robertson, ’n Skotse predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en een van die vroegste kerkleiers, wat van 1832 tot 1833 die eerste leraar van Clanwilliam was en na wie die dorp Robertson genoem is, het kort ná sy aankoms die eerste huisbesoek in die geskiedenis in die Berg- en Langvalleiwyk gehou. Daarna het die wyke Olifantsrivier (waar Citrusdal eers in 1916 as ’n afsonderlike gemeente sou afstig), Troe-Troe (Vanrhynsdorp, 1877), Hantam, Onder-Roggeveld en Bokkeveld gehou. Hoewel daar steeds die toegewydes was, het dr. Robertson dit betreur dat “die sedeloosheid in enige dele van die distrik sterk die oorhand geneem het, en dat ’n mens dus verplig sal wees om streng maatreëls daaromtrent te gebruik”.

Ds. E.F.H. de Roubaix, dr. Robertson se opvolger op Clanwilliam van 1833 tot 1843, het onvermoeid gepreek, siekes besoek, geskille uit die weg probeer ruim en ontsaglike opofferings gedoen en ontberings trotseer op sy baie en uitgebreide huisbesoekreise na die Sandveld (Graafwater, Leipoldtville), Benede-Olifantsrivier (Citrusdal), die Hardeveld (Nuwerus), Namakwaland (Garies, Springbok), Bokkeveld, Hantam en Onder-Roggeveld. Hy het honderde kinders gedoop, honderde jong mense en selfs bejaardes aangeneem, honderde pare in die huwelik bevestig en altyd die gemeentelede aangespoor om die sakramente liewer in die kerk op Clanwilliam te laat bedien. Op een so ’n besoek deur die Hantamwyk is 46 kinders gedoop, 11 lidmate aangeneem (onder wie ’n hoogs bejaarde) en ’n pragtige bedrag vir die uitbreiding van die Koninkryk ingesamel.

Omstreeks 1837 het die kerkraad die beleid om diens aan die lidmate op die uithoeke te lewer, wou omkeer sodat die lidmate self met hul behoeftes na die kerk moes kom. Vandaar die besluit dat die in die wyke Bo-Olifantsrivier, Berg- en Langvlei en Mond-van-Olifantsrivier geen kinders op huisbesoek gedoop sou word nie; en in die wyke Onder-Bokkeveld, Onder-Roggeveld, Kamiesberg, Namakwaland en Hardeveld net in die allerdringendste omstandighede lidmate aangeneem sou word. Dié beleid het ongetwyfeld die behoefte aan afstigting van nuwe gemeentes voelbaarder gemaak. Ds. De Roubaix het self by meer as een geleentheid die afstigting van die Hantamwyk as ’n dringende behoefte gestel.

Nadat ds. De Roubaix Clanwilliam in 1843 verlaat het weens vier ernstige klagtes deur twee kerkraadslede, onder meer van drankmisbruik, die mishandeling van sy vrou en owerspel, is ds. P.K. Albertyn in Mei 1844 aangestel as tydelike leraar. Hy was net vier maande daar werksaam, maar het hom tog in dié kort tyd bemind gemaak. ’n Blywende verandering uit sy kort dienstyd, was dat Sondag as troudag vervang is deur Maandag.

Stigting

Ná ds. Albertyn se vertrek is ds. H.L. de Villiers op 23  Februarie 1845 in die gemeente bevestig. Sy taak is enigsins vergemaklik deur die stigting van Clanwilliam se eerste dogtergemeente, naamlik Hantam, op 5 April 1847. Dit was die verwesenliking van die ideaal waarvoor ds. De Roubaix hom sedert 1837 beywer het en herhaaldelik by die Ring gepleit het.

Die stigtingsvergadering is op 19 Januarie 1847 op die plaas Tygerhoek gehou onder voorsitterskap van ds. J.C. Le Febre Moorrees, die vader van prof. Adriaan Moorrees van die Stellenbosse Kweekskool en die man na wie Moorreesburg genoem is omdat die gemeente tydens sy land dienstyd op Malmesbury van Swartland afgestig is. Ook die afgestigte gemeente was ontsaglike groot; daarom het in later jare die gemeentes Nieuwoudtville, Brandvlei (albei 1897), Loeriesfontein (1935) en Calvinia-Hantam (1962, ingelyf by die moedergemeente in 2016) afgestig.

Eerste treë

Die nuwe gemeente was nog herderloos, maar die twee ouderlinge en vier diakens, wat deur die Ringskommissie benoem is, is op 12 Desember 1847 voorgestel en kon met die aanvoorwerk begin. ’n Stuk grond van 1 200 ha is aangekoop van die eienaar van Hoogekraal, veldk. Abraham van Wyk, ’n grootjie van ’n latere moderator van die NG Kerk, dr. Abraham van der Merwe, wat in 1897 in die distrik gebore is. Op dié stuk grond is die dorp aangelê en die kerk, wat op 7 September 1849 ingewy is, gebou. Omdat Hantam sowat vier jaar herderloos sou bly, moes ds. De Villiers van die moedergemeente, wat die dogter se konsulent was, verantwoordelikheid vir die fondamentlegging aanvaar, tesame met die verantwoordelikhede in sy eie, reusagtige gemeente, wat darem in 1850 nog ietwat verklein is deur die afstigting van Namakwaland.

Die kerkraad se volgende taak was die bou van ’n pastorie, maar toe die eerste leraar, ds. N.J. Hofmeyr, later een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool, op 12 September 1851 verwelkom is, was dié pastorie met sy uitsonderlike drie gewels aan die voorkant onvoltooid. Dit sou Calvinia eindelik 99 jaar as pastorie dien en is later gesloop.

Die ou pastorie met sy kenmerkende drie gewels is omstreeks 1852 voltooi, maar is, nadat dit die gemeente 99 jaar gedien het, in die tweede helfte van die 20ste eeu gesloop. Dié foto is waarskynlik kort na die voltooiing van die kerkgebou vanuit die toring geneem. Die ry huisies op die agtergrond was tuishuise, ‘n noodsaaklikheid in ‘n uitgestrekte gemeente soos Calvinia, waarin kerkgangers oor naweke tuisgegaan het.

Nuwe naam

Op die eerste gewone kerkraadsvergadering het ds. Hofmeyr voorgestel dat die nuwe kerkdorp herdoop moes word ter ere van die kerkhervormer Johannes Calvyn. Dit is eenparig goedgekeur. Sedert die publikasie van die goewermentskennisgewing in die Staatskoerant van 30 Oktober 1851 staan die dorp as Calvinia bekend.

Ná ds. Hofmeyr se vertrek in 1858 na Stellenbosch was die gemeente vyf jaar lank vakant. Die tweede predikant, ds. Thomas McCarter, se dienstyd op Calvinia was minder geseënd. Hy was een van die laaste agt Skotse predikante wat in die loop van die 19de eeu na Suid-Afrika gekom het om eers die Britse koloniale regering se verengelsingsbeleid te help deurvoer en die tekort aan predikante aan te vul, maar later die geledere van die NG Kerk moes versterk teen “die dreigende aanvalle van die liberalisme”, volgens eerw. Andries Dreyer, eerste argivaris van die Kaapse Kerk. Ds. McCarter en sy kollegas is in Skotland gewerf deur dr. William Robertson, sowat 30 jaar vantevore die eerste leraar van Calvinia se moedergemeente, Clanwilliam. Hy was self ’n Skot wat hom mettertyd heeltemal met die lot van die Afrikaans-Hollandse bevolking in Suid-Afrika vereenselwig het.

Ds. McCarter se ongelukkige bediening

Onder die 25 Skotse predikante wat van 1818 na Suid-Afrika gekom het, was daar diegene wat hulle dadelik aangetrokke gevoel het deur die vroomheid, vriendelikheid en hartlikheid van die Afrikaans-Hollandse bevolking, wat die volk se lief en leed gedeel het en wat deur puriteinse nougesetheid, die getrouheid van hulle herderlike arbeid en hul godsalige lewenswyse ’n geseënde invloed op die ontwikkeling van die lidmate se godsdienstige lewe uitgeoefen het.

Ds. McCarter, ’n gerespekteerde predikant, was nietemin een van dié uitsonderings op die reël. Hy het nooit Hollands magtig geword nie en kon die gemeente nooit behoorlik verstaan nie. Sy preke was volgens oorlewing vir die kerkgangers onverstaanbaar weens sy geradbraakte Hollands. Dit het in 1877 aanleiding gegee tot die stigting van ’n tweede gemeente op Calvinia wat bedien is deur ds. G.A. Scholtz (1878 tot 1882, waarna hy leraar was van Hopetown, waar ’n verdeelde gemeente kort voor sy koms geheel is, en toe van 1889 tot sy aftrede in 1908 van Colesberg).

Hereniging

Deur die beywering van ds. Scholtz en die tussenkoms van prof. Hofmeyr is die twee gemeentes ná die vertrek van ’n ontnugterde ds. McCarter terug na sy vaderland in 1882 verenig. Dié vereniging het volgens oorlewering gepaardgegaan met die stort van menige traan en is in ’n sekere mate aangevuur die noodsaaklikheid van samehorigheid midde-in die Eerste Vryheidsoorlog. Die verenigde gemeente se eerste predikant was ds. William Robertson, wat hierheen gekom het van Tulbagh af, maar ná ’n bediening van ses jaar moes bedank. Die beskikbare bronne vermeld nie wat aanleiding tot sy bedanking gegee het nie, maar sowat vier jaar later is hy bevestig in die gemeente Petrusburg, waar hy tot sy aftrede in 1904 gearbei het.

Die NG Gemeente Calvinia-Hantam was in 1962 die laaste afstigting van die moedergemeente. Die gemeentes het in 2016 verenig. Dié kerkgebou is ontwerp deur Anthonie Smith.

Ná ds. Robertson se vertrek kon die gemeente ’n rustiger tydperk binnegaan waarin tussen 1897 en 1962 vier dogtergemeentes afgestig is.

Die NG Gemeente Calvinia-Hantam het op 1 Julie 2016 ontbind en een geword met die NG Gemeente Calvinia.

(Geskryf deur Morne van Rooyen)

Dogtergemeentes

Predikante

  • Prof. N.J. Hofmeyr, 1851 – 1858
  • Johannes Christoffel Truter, 1889 – 1896
  • Marthinus Smuts Daneel, 1898 – 1906
  • Murray Jooste, 1908 – 1932
  • Cornelis Muller, 1932 – 1950
  • Pieter Jacobus Conradie, 1940 – 1941 (hulpprediker)
  • Jacobus Claassen, 1945 – 1946
  • Willem Carel van der Merwe, 1947 – 1950
  • Albertus Wynand Christoffel Bester, 1971 – 1974
  • Roy Cecil Thorne, 2007 – 2015
  • Edward Archer, 2016 – 2017
  • Maryke van Niekerk, 2016 – hede