Van Niekerk, Maryke

Ds Maryke van Niekerk

gebore

1991

oorlede

18 Des 2021

UNIVERSITEIT

BTh MDiv (US)

gelegitimeer

2015

ORDEN

2016

standplase

 2016 Calvinia (Vastetermynpos)

2018 Calvinia (Onbepaalde termynpos)

DS MARYKE VAN NIEKERK (BTh, MDiv) 16 Augustus 1991 — 18 Desember 2021

Maryke van Niekerk (Uys) is op 16 Augustus 1991 gebore te Bredasdorp, die Overbergstreek met sy besondere mense aan die mees suidelike punt van Afrika. Haar voorgeslag is boere in die distrik Bredasdorp, kerkmense wat ‘n verskil in hulle gemeenskap maak. Haar oupa is Dirk Cornelius Uys en haar ouma Rita Christina van Rooyen, wie se begrafnisredes sy in die geskied-kundige NG Kerk op Bredasdorp waar-neem. Maryke se vader is Johannes Gerhardus Uys, ‘n beesboer naby Bredasdorp. Haar moeder is Patricia Moira Bamford, ‘n boorling van De Aar in die Groot-“Karoo. Maryke word in ‘n liefdevolle huisgesin groot en leer van kleins af om te dien en die belange van ander bo die van haarself te plaas. Johannes en Pat Uys het hulle twee seuns Hanro en Dirco en Maryke, met liefde opgevoed en hulle was ‘n normale boeregesin waar sy van kindsbeen af die Iief en leed van boerdery leer geniet en hanteer. Maryke was baie lief vir haar ouers en was in wese ‘n plaasmeisie wat baie lief was vir die plaaslewe en haar pa se Jersey-koeie het na aan haar hart gelê. Sy het ook die twee seuntjies van haar broer gedoop, waar-van sy die peet tannie geword het.

Maryke begin in 1998 met haar skool-loopbaan aan die Laerskool Ouplaas, waar sy die weelde van ‘n plaasskool ervaar tot sy in 2002 leerling word van die Laerskool Bredasdorp. Weens haar belangstelling in drama loop haar pad in 2005 na die Hoër Meisieskool in die Paarl, waar sy in 2009 matrikuleer en ‘n gewilde tiener onder haar skoolmaats is. In haar matriekjaar is sy voorsitter van die CSV in die skool en beleef sy ‘n passie en roeping om mense na die Here te lei. In 2008 word sy lidmaat van die NG Gemeente Strooidakkerk in die Paarl. In haar roeping om predikant te word het twee dinge ‘n rol gespeel. Haar ouma Rita het haar geestelik bemagtig en deur haar voor-beeld het sy die saad gesaai dat Maryke voltyds vir die Here wou werk. Aan die ander kant het sy as deel van haar gesin se uitreik na die mense van Msinga, groot rol gespeel om haar voor te berei vir ‘n geestelike bediening en die besef dat daar ‘n groot behoefte is aan die Woord van God in die harte en lewens van mense.

In 2010 word Maryke student aan die Universiteit Stellenbosch waar sy die BTh-graad in teologie met grond-tale verwerf. Sy behaal ook die MDiv-graad as student aan die kweekskool op Stellenbosch en verwerf in 2015 die lisensiaat in Christelike bediening. In 2015 doen sy haar diensjaar in die NG Gemeente Paarl-Vallei, waar sy onder die wakende oog van dr Deon Bester praktiese ervaring opdoen die gemeentebediening. In die tyd dien sy ook die breë gemeenskap om kinders na skool rond te ry na sport- en kultuur-bedrywighede. Dit het aan haar ekstra sakgeld besorg en die geleentheid gebied om haar kinderbediening uit te bou buite kerktye.

Intussen trou Maryke Uys op 3 September 2016 in die Paarl met Riaan Edwin van Niekerk, met wie sy sedert haar graad 11 jaar op skool bevriend is. Riaan is ‘n gekwalifiseerde reken-meester wat die BCompt-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika verwerf. Op 31 Julie 2019 word ‘n seuntjie Riaan Edwin van Niekerk gebore, drie jaar nadat Maryke leraar geword het op Calvinia.

Die Hemelse Vader beskik dat prop Maryke van Niekerk beroep word in ‘n termynpos in die NG Moedergemeente Calvinia. Sy word op 22 Mei 2016 met handoplegging in Calvinia bevestig deur die konsulent ds. Eduard Archer. Ds. Maryke van Niekerk lewer haar intreepreek na aanleiding van Johannes 4:1-15. Haar man Riaan skryf: “Haar hart was baie sag vir ou mense, so sy was opgewonde toe ons Calvinia toe kom omdat daar baie ouer mense was en sy ‘n passie vir hulle het. Verder ook boere. Haar pa is self ‘n boer en sy ken die hart van ‘n boer, sy ken droogtes en sy het baie gesimpatiseer met die boere in die ongelooflike droogte.”

Reeds voor ds. Maryke se koms na Calvinia is ‘n proses aan die gang gesit om die twee NG gemeentes op Calvinia tot eenwording te lei. Weke na haar aankoms word die NG Moedergemeente Calvinia en die NG Gemeente Calvinia-Hantam die NG Gemeente Calvinia. Hierdie proses en die plattelandse bediening in ‘n droogtetyd het ook sy uitdagings gebied. Haar man Riaan skryf: “Maryke was goed. Sy was sag met mense wat deur moeilike tye gegaan het en hard wanneer sy moes opstaan vir dit waarin sy geglo het reg was. As gevolg van die feit dat sy altyd probeer doen het wat reg was het sy en lede van die kerkraad wild gebots, maar as sy in haar geglo het sy doen die regte ding sou sy als gee om dit so te laat gebeur. Maryke was ‘n fantastiese vrou, ten spyte van haar ongelooflike besige skedule het sy altyd tyd gemaak vir my. Sy het altyd gekyk waar sy vir my, in enige kapasiteit, iets kon beteken.”

Op 1 Junie 2018 besluit die kerkraad om haar leraarspos om te skakel van ‘n termynpos na ‘n voltydse leraarspos in die NG Gemeente Calvinia. Binne drie jaar gebeur die ongelooflike dat ds. Maryke van Niekerk op 18 Desember 2021 in haar grootword wêreld sterf nadat sy ‘n huwelik van ‘n familievriend bevestig het. Na die huweliksbevestiging het sy by die onthaal die tafelgebed gedoen en kort daarna verstik en daar is met haar na die hospitaal op Swellendam gejaag, maar sy het gesterf. ‘n Begrafnisdiens vind op 22 Desember 2021 plaas in die NG Gemeente Bredasdorp en later in die NG Gemeente Calvinia. Ds. Anton Verwey van Vredendal en voorsitter van die Ring van Clanwilliam, onthou haar as iemand met passie en omgee vir haar bediening. “Maryke was ‘n regte bondel energie. Altyd ‘n glimlag op haar gesig met ‘n besonderse passie vir mense en sy was ‘n wonderlike mamma.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Sinode van Wes-Kaapland skryf: “Sy was ‘n passievolle en toegewyde leraar wat haar beste vir die Here gegee het. Sy het die liefde van Christus oral waar sy gegaan het beliggaam en uitgestraal. In Calvinia het sy in ‘n buitengewone droogtetyd haar lidmate en almal om haar gedra en onder-steun. Ons was so dankbaar dat die Here juis vir haar met haar sagte aanslag en wonderlike interpersoonlike vaardig-hede daarheen gestuur het. Haar lig het baie helder geskyn in die moeilikste tye. Met haar heengaan word ‘n leemte gelaat wat moeilik gevul sal word.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 395)