Strumpfer, Johannes Petrus

Ds. Strumpfer Johannes

GEBORE

11 Aug. 1901

OORLEDE

12 Okt. 1982

UNIVERSITEIT

BA (UNISA); US

GELEGITIMEER

1935

ORDEN

1937

STANDPLASE

1937 Glaudina

1940 Mafeking

1944 Bethulie

1947 Messina

1949 Warmbad, Transvaal

1952 Witsieshoek (NGKA)

1957 Marydale (NGSK)

1958 Pietersburg (NGKA)

1960 Zeerust 

1964 Vanzylsrus 

1966 Emeriteer

1967 Welverdiend

EMERITEER

1.3.1971

Ds Johannes Petrus Strumpfer (11.8.1901 – 12.10.1982); wat gedurende die 35 jaar van sy bediening aan elf gemeentes – agt van die Ned Geref. Kerk, twee van die Ned Geref. Kerk in Afrika en een van die Ned Geref. Sendingkerk – verbonde was, is op Potchefstroom oorlede waar hy en sy vrou sedert sy aftrede gewoon het en waar hy enige jare ouderling in die gemeente Die Bult was. Hy is op Putfontein in die distrik Beaufort-Wes gebore, maar sy ouers verhuis na Ventersdorp waar hy in 1922 matrikuleer. Nadat hy ‘n tyd lank gewerk en in 1926 die Transvaalse onderwys Diploma (0.2) aan die Potchefstroomse Onderwyskollege behaal het, hou hy ‘n aantal jare in ‘n paar Transvaalse distrikte skool. In die tyd raak hy van sy roeping tot die evangeliebediening oortuig. Hy studeer dusverder en in 1930 kry hy die BA-Admissie van die destydse Universiteit van Suid-Afrika. In die moeilike depressietyd gaan hy en sy eggenote met hul drie kinders in 1932 na Stellenbosch en einde 1935 voltooi hy sy teologies studie aan die Kweekskool. Weens die ongunstige geldelike klimaat van daardie tyd was werk baie skaars en gevolglik word hy eers op 27.2.37 in sy eerste gemeente, Glaudina, bevestig. Later bedien hy Mafeking (1940); Bethulie (1944); Messina (1947); Warmbad, Transvaal (1949); Witsieshoek in die huidige Qwa-Qwa (NGKA) (1952); waar daar destyds groot spanning en onrusheers, Marydale (NGSK) (1957); Pietersburg (NGKA) (1958); Zeerust (1960) en Vanzylsrusvan 1964 af totdat hy in 1966 emeritus word. In 1967 keer hy na die bediening terug om tot sy aftrede op 1.3.1971 in Welverdiend in Wes-Transvaal te staan. In Mafeking het die hele Botswana van vandag onder hom geval. Die gemeentelike finansies was by hom altyd in bekwame hande en daarby was hy nie net ‘n goeie kollektant nie, maar self ook ‘n ruim gewer. Fors van gestalte, onverskrokke in sy Christelike oortuigings, ferm in sy optrede, maar ook liefdevol en geduldig, was hy ‘n harde werker en ‘n ernstige prediker wat die Woord van die Waarheid reg gesny het. Daarby was hy blymoedig van aard en ‘n vriend van jongmense. Ofskoon hy met ‘n vurige liefde vir sy eie volk, taal, kultuur en tradisies besiel was, het hy ‘n ruim hart ook vir mense van ander kulture gehad. Verder het hy student gebly en was hy altyd met nuwe boeke besig. Self het hy hom as “sommer ‘n doodgewone predikant, wat glo dat hy moet werk terwyl dit dag is” bestempel en iemand wat niks gehad het waarop hy kon roem nie, maar “oneindig baie om voor dankbaar te wees”. Twee van sy seuns is di. P S H F (Suidoos-Pretoria) en J P la G Strumpher (Reitz); terwyl die oudste professor in sielkunde is.