Strumpfer, Johannes Petrus La Grange

 

GEBORE

11 Aug. 1937

OORLEDE

9 Nov. 2011

UNIVERSITEIT

BA (Pu vir CHO); US

GELEGITIMEER

1961

ORDEN

1962

STANDPLASE

1962 Sasolburg

1963 Oranjeville

1972 Clocolan

1974 Opstaan-sentrum

1978 Reitz

1988 Potchefstroom

EMERITEER

28 Feb 1995

Ds. Hannes Strumpfer (BA) 11 Augustus 1937 – 9 November 2011

Johannes Petrusla Grange Strumpfer is op 11 Augustus 1937 op Schweizer-Reineke in die Wes-Transvaal gebore en is twee maande later in die NG Gemeente Glaudina deur sy vader, ds. JP Strumpfer, gedoop. Sy pa is op 11 Augustus 1911 op die plaas Kantkraal naby Putfontein in die distrik Beaufort-Wes gebore en het in 1927 met Engela Susanna Holtzhausen van Luckhoff getrou.

Sy pa het eers as onderwyser gewerk voordat hy teologie begin studeer het, en was predikant op Bethulie toe Hannes die roeping ontvang het om predikant te word. Sy pa het later ‘n groot invloed op sy bediening gehad.

Hannes het sy skoolopleiding op Bethulie (1944-1947) begin en in 1954 op Kestell gematrikuleer. Hy het die graad BA (Admissie) in 1957 aan die PU vir CHO behaal en in 1958 student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch geword, waar hy in 1961 gelegitimeer is. As student het hy as skriba-kassier in die NG Gemeente Tygerberg gewerk.

Op 24 Februarie 1962 is Hannes met handoplegging in die NG Gemeente Sasolburg ontvang en bevestig. Sy pa het die rede gelewer. Net meer as ‘n jaar later is hy op 23 Junie 1963 as leraar van die NG Gemeente Oranjeville bevestig. In hierdie gemeente langs die Vaaldam het hy gewerk tot in 1972, toe hy ‘n beroep na Clocolan aanvaar het. Van 1 April 1974 was hy ‘n direkteur by die Opstaan-sentrum op Welkom en op 4 April 1978 het hy leraar van die NG Moedergemeente Reitz geword. Daarna is hy op 1 Augustus 1988 as leraar van die NG Gemeente Potchefstroom bevestig, waar hy gewerk het totdat hy op 28 Februarie 1995 emeritaat aanvaar het. Ds. Hannes Strumpfer is met Gerbrecht Lovina van Jaarsveld van Lindley getroud, en hulle het drie kinders: Catharina, Johannes en Engela.

Na sy aftrede was hy twee jaar lank ‘n pastorale hulp in die gemeente Potchefstroom-Suid, ‘n jaar lank in Vrede en sedert 1999 was hy in die gemeente Oranjeville totdat hy in 2009 finaal afgetree en by sy dogter op Oranjeville bly woon het. Hy is na ‘n kort siekbed op 9 November 2011 in die siekeboeg van die tehuis vir bejaardes op Reitz oorlede, en ‘n roudiens is in die NG Gemeente Oranjeville gehou.

By drie geleenthede in sy bediening was hy baie siek. Hieroor het ds. Hannes in 2007 geskryf: “Elke keer was dit ‘n wonderbaarlike herstel en ‘n totale lewens vernuwing, maar veral ten diepste geestelike groei.” Sy lewensleuse was:

“Terrar dum Prosim.” Vry vertaal beteken dit: “Laat ek verteer word, as ek maar net van nut kan wees!” Hy skryf: “Waar ook al, hoe ook al, wanneer ook al – as ek maar net in diens kan wees van Hom!” – Dr Gerdrie van der Merwe.