Gestig
15 Augustus 1868
AFGestig VAN
Potchefstroom
Waaruit afgestig
Zeerust-Noord
Waarby ingelyf
Zeerust-Noord, onder andere
Ring
Zeerust
Adres
H.v. Piet Retief- en Presidentstraat, Zeerust
Sluit in
Zeerust en omgewing
Eerste predikant
S.J. van der Spuy (1886–1917)
Die NG Gemeente Zeerust is ’n gemeente in die Sinode Goudland (voorheen Sinode van Wes-Transvaal) en die oudste van die twee NG gemeentes op die dorp Zeerust. Dis een van die honderd oudste gemeentes in die hele NG Kerk.
Stigting
Marico het sy eerste gevestigde inwoners in 1845 gekry. Mettertyd het nog Voortrekkers gevolg, want dit was ’n aanloklike omgewing. Marico het ’n wyk van die gemeente Potchefstroom uitgemaak; op 15 Augustus 1868 is die gemeente gestig op Vergenoeg No. 46, die latere Jacobsdal. In 1872 is ’n deel van die plaas Vergenoeg 46 deur die kerk van W. Kirstein aangekoop en in erwe uitgemeet as Jacobsdal, sowat 15 km van Zeerust.
In 1873 is die eerste kerk (80 x 30 voet) hier gebou. Die hout en sink is op Pietermaritzburg gehaal. Intussen het die wyk Lichtenburg bygekom (1878). Die kerkraad het soms daar vergader. In Transvaal was daar ook die Ned. Herv. Kerk waarvan Marico ook ’n gemeente was. Ds. J.C. de Vries was die leraar te Zeerust, waar ’n eie kerkgebou gestaan het en waarvan die hoeksteen in April 1869 gelê is.
In 1886 kom ds. S.J. van der Spuy as vaste leraar hier aan en wel van die Ned Herv. of Geref. Kerk. Die kerkhereniging tussen die NG en die Ned. Herv. Kerk het op ’n mislukking uitgeloop. Die Verenigdes het die kerk te Zeerust slegs sowat vier jaar lank gebruik. Zeerust was toe ook die sentrum van die NG Kerk en die kerkie is slegs by buitedienste gebruik. Die mislukte kerkhereniging laat ds. S.J. van der Spuy sonder ’n kerk, maar die Verenigdes behou die pastorie. ’n Reusetaak het op hom en sy gade gewag. Hy was feitlik ook nog inspekteur van skole en geneesheer. Die pastorie moes soms ook as hospitaal dien.
Eers is gebruik gemaak van die agterstoep van die pastorie vir eredienste en later van ’n tydelike gebou, tot die nuwe kerk op die koppie in 1897 sonder ’n pennie skuld ingewy kon word. In 1914 het die toring bygekom. In 1928 is die hoeke uitgebou en het die kerk ’n pragtige orrel van byna £3 000 gekry.
Die gemeente kon ook nie aan die wrede gevolge van die Tweede Vryheidsoorlog ontkom nie. Ds. Van der Spuy is gevang en toe op parool by vriende in die distrik Worcester tot ná die oorlog. Die kerk is as militêre kaserne gebruik. Op 13 Oktober 1902 kon die kerkraad, met slegs drie ouderlinge en drie diakens, eers weer onder sy ou leraar, ds. Van der Spuy, byeenkom. ’n Gedenksaal ter ere van die gesneuweldes en gestorwenes in die konsentrasie-kampe is toe gebou. Ds. Van der Spuy kry hulp, eers in die persoon van prop. C.G.R. du Toit, toe ds. J.D. Roos, gevolg deur ds. H. Ziervogel (1914) wat in 1916 ook ds. Van der Spuy as leraar opvolg, want laasgenoemde het ’n beroep na Krokodilrivier aangeneem.
In 1918 het ds. Bamberger als hulpprediker hierheen gekom. In 1920 is wyk Malopo afgestig en in 1945 wyk Groot Marico. In 1938 volg ds. J.F. van Wyk en in 1948 ds. H. C. Botha. In 1949 word ’n sierlike nuwe pastorie ingewy.
Vorige kerk gebou
Die gemeente het vir ’n groot deel van die negentigerjare van die 19de eeu eredienste gehou in die tydelike noodkerk op die dorp en in die kerkgebou op Jacobsdal. Die pastorie op Jacobsdal is in 1894 aan E. Goldinger verkoop sonder dat ’n gevestigde leraar ooit daarin gewoon het. Omdat die gemeente se kerksentrum nou op die dorp Zeerust was, is besluit om in die dorp ’n kerkgebou op te rig vir die gemeente. Daar is dus aansoek gedoen by die regering vir die benodigde bouperseel. Die Klipkoppie waar die huidige kerkgebou staan, het reeds destyds die aandag getrek. Daarom is die drie erwe (212, 213 en 214) wat die klipkoppie ingesluit het, aangevra van die regering. Om enigsins te vergoed vir die verliese wat die Verenigde Kerk gelei het nadat die Hervormde Kerk sy eie gang gegaan het, het die staat die erwe geskenk. Die skenkingsakte wat onderteken is deur pres. Paul Kruger is nog veilig in die besit van die gemeente.
Op 9 Julie 1894 is die boukommissie benoem. Daar is dadelik begin met geldinsameling. Daar is ’n basaar georganiseer en met die volgende gemeentevergadering in Februarie 1896 het die boufonds reeds £129.11.3 beloop. Op hierdie vergadering is ook toestemming gegee aan ds. Van der Spuy en die kerkraadslede J.H. van Wyk en S.J. van der Merwe, om buite die grense van die gemeente te gaan kollekteer. Op dieselfde vergadering is reeds £18 ingesamel en 20 beeste beloof. In De Kerkbode van 2 April 1896 is daar ’n berig oor ds. Van der Spuy wat op Somerset-Wes gepreek het, en wat daar geld ingesamel het vir die kerkgebou van Zeerust.
Op 31 Oktober 1897 is die kerk sonder skuld ingewy. Die boukoste het £4 300 beloop. Die bouaannemer was W. Grant wat van Skotse afkoms was. Die susters van die gemeente het die Nagmaalservies en die lampe vir die kerk gekoop. Die kinders het die geld ingesamel om die koste van die preekstoel te dek. Ds. Van der Spuy skryf: “Na zes jaren zonder een Kerkgebauw geweest te zijn hebben wij nu zedert 31 Oktober 1897 weer een dat de biddende schare kan bevatten.” Hy het ook destyds geskryf oor hoe droog dit was en oor die skaarste aan voedsel vir mens en dier. Die sprinkane het gelukkig verdwyn, maar die Runderpes het groot afmeting aangeneem onder die vee. Alles het tot stilstand gekom omdat beperkings op die beweging van vee ingestel is. “Wij hebben op kerklijke gebied, zoals bekend is al ons eigendom verloren zelfs het liefelijk kerkklok word niet gehoord, omdat wij er geen hebben. Zou er niet een of ander kind des Heeren zijn de bereid is om een kerkklok ten geschenk te geven.”
Later is berig dat nie minder as drie persone aan ds. Van der Spuy geskryf het en donasies gegee het vir ’n klok. Daar is ook donasies ontvang vir die aankoop van ’n orrel. Die klok is egter later geskenk deur W. van der Merwe van Worcester. Dit is voorlopig op houtpale gemonteer totdat in 1914 met die aanbou van die kerk se toring, die klok in die toring oorgeplaas is.
Die Tweede Vryheidsoorlog
Die nuwe kerk het spoedig ’n geweldige vernedering ondergaan toe dit deur die Britse magte wat die dorp beset het, as militêre kaserne ingerig is. Die Anglo Boereoorlog was ’n tyd van ontwrigting, ongekende leed en smart, wat die kerk ook nie vrygespring het nie. Die gemeente het gedurende die oorlog swaar verliese gelei. Daar was plase en plekke in die distrik waar daar tussen 10 en 23 siele gemis is. Daar was huisgesinne wat geheel en al uitgesterf het. Ds. Van der Spuy is gevang en sou as krygsgevangene weggevoer word. Deur die bemiddeling van ds. Andrew Murray is hy losgelaat op parool en het by vriende in die distrik Worcester tuisgegaan, tot ná die vrede in 1902. Hy het later van Tweefontein in die distrik Worcester geskryf dat hy werk verlang en dat hy gewillig is om in een of ander gemeente as hulpprediker te arbei.
Ná die vrede het die kerkraad weer op 31 Oktober 1902 vir die eerste keer bymekaargekom. Net die voorsitter, ds. Van der Spuy, en ses kerkraadslede was aanwesig. Met leedwese is die name bekend gemaak van die kerkraadslede wat gesneuwel het in die oorlog, naamlik oudl. P.J. Lemmer (hy was een van die eerste diakens wat in 1868 gekies is), D.C. Oberholzer, C.J. Lee, J.B. Swart, en diaken J.P. Eksteen. Drie van die kerkraadslede het nog in ballingskap verkeer, naamlik G. Ferreira, J.A.J. Botha en C.J. Fouché. Ouderling P.L. Lemmer, soos baie ander, het volk en vaderland ook geliefgehad. “Hy bleef op kommando om Gods woord aan medestervelingen te brengen, met en voor hen te bidden totdat hij op verren afstand door een kogel den 9de November 1900 getroffen, en met het woord, “O God wees mij zondaar genadig” den geest gaf.”
Die Kerkgebou en pastorie was in ’n gehawende toestand. Die leraar het ’n paar jaar lank geen salaris ontvang nie. Die belastings op die kerklike eiendomme was ’n paar jaar agterstallig. Plase het in puin geld en moes van vooraf opgebou word.
Die oorlog het ook sy sigbare merke op die kerkgebou in Marico gelaat. Ds. Van der Spuy gee baie realistiese beskrywing hiervan in De Kerkbode. Hy was reeds weer sewe maande terug in die gemeente ná ’n lang afwesigheid. “Wij hebben hier wel rust van de zee, maar niet van de wereld. Ons pastorie ziet er wel niet zoo aantreklijk uit (vooral van buite) en wij missen wel’t een en ander, maar gode zij dankt zij staat en wij zijn diep gelukkig onder haar dak. Onze kerkgebou was voor bijna (woord ontbreek) jaren in besit der Militairen. Het was o.a. een verdedigingsfort. Of het ook diende als voetbal speel en danzzaal laten wij daar. Het toneel van zulk een Godsgebauw dat men lief heeft, met gebroken en gedeeltelijk swart geverfde vensters, maak een onbeskrijflijk een akeligen indruk op den Christen.”
Met groot moeite en baie omslagtigheid het ds. Van der Spuy eintlik daarin geslaag om weer die kerkgebou in die hande van die gemeente te kry. Die sleutels het egter verlore gegaan en daar is met dae lange volharding – mondeling en skriftelik – probeer om die sleutel in die hande te kry. Die uiteinde was dat een van die deure later moes oopgebreek word om in die kerk te kom. Dit was ’n pynlike ondervinding om die kerk van binne te sien. Al die banke in die kerk was los en sonder pote. Van die pote is vuurgemaak, terwyl van die banke verkoop is. Sommige het op ’n hoop agter in die kerk gelê. Die Nagmaalstafels, ’n klomp banke en stoele was weg. Die lampe van die kerk waarvoor die susters so hard gewerk het, is gebreek en gebuig op ’n hoop in die kerk aangetref. Die onderste gedeelte van die vensters is swart geverf, “zoo swart dat men goede ooren moet hebben om (vooral als het weer betrokken is) op te zoeken en dan zijn de ruiten bij dozijnen gebroken”. Vn die verlore banke is in die dodehuis aangetref. ln die “kantien” (soos die plek genoem is) is ook nog kerkbanke en Nagmaalstafels gekry. Later het die bevelvoerder darem vyf banke teruggestuur. Alle brokstukke van banke en lampe en ander meubelment is sover moontlik herstel; “doch het huis’s Heeren ziet er maar akelig uit”. Geld en ander middele was egter baie skaars. Die boumeester het in opdrag van die owerheid die skade aan die kerk gewaardeer op £350, wat baie later eers uitbetaal is. Uit ’n ondersteuningsfonds waarin die gemeentes Pretoria en Johannesburg-Oos elk £1 000 gestort het, is aan Zeerust £10 betaal. Hiervoor was die gemeente baie dankbaar.
Na-oorlogse lyding
Die gemeente het in baie opsigte in die eerste tydperk ná die Driejarige Oorlog in ’n haglike toestand verkeer. Geld en voedsel was skaars. Die rantsoene wat wel van die regering ontvang is, is ten duurste op die rekening van die verbruiker gelewer. Die pryse van diere het die hoogte ingeskiet. Plase en erwe is deur Jode en uitlanders teen belaglike pryse gekoop. Oor droogte en vleispryse word geskryf: “De droogte is vreeslijk. Marico staat aangeschreven als een waterrijk district, doch thans zijn fonteinen en putten droog, en zelfs van de grootste stroomen staan. Het veld is kaal en wit. De mielies staat wit op de landen. Wij hebben dit nog nooit zoo gezien.” Die mense was totaal verarm. Baie het in gehawende tente gewoon.
Ds. Van der Spuy skryf: “Een vader verhaalde ons de laaste week dat hil en zijn vrouw met kinderen vijf dagen lang in den berg doorgebracht hebben om van wilde vruchten te leven.” Sendelinge kon die verarmde swart mense wat kom kos vra, nie van die sendingstasie weg kry nie. Uit ’n sensusopname in die distrik het die volgende gegewens duidelik geword: daar was 139 weduwees, 367 vaderlose weeskinders, en 77 moederlose weeskinders, 88 sonder vader of moeder en 39 verminktes. Ds. Van der Spuy het selfs ’n persoonlike brief aan genl. Louis Botha geskryf om die behoeftes van broodsgebrek en karige kleding weens die droogte en oorlog onder die regering se aandag te bring. Met die Nagmaalsnaweek in Januarie 1904 bars ’n hewige donderstorm los. “De hagelsteenen weegende tot een half pond, doorboorden dakken van het beste ijzer gelegd.”
Op 2 Junie 1909 sterf die pastoriemoeder, Anna Margaretha van der Spuy (geb. Kloppers), en is die pastorie en die gemeente in rou gedompel. Dan sluit die berig in Die Kerkbode in Maart 1903 af: “Wij slaan ons oog naar boven, daar is altoos licht en uitkomst, en wij roepen uit: ‘De Heere zal voorsien.’ Al de ellende aan en rondom ons is omdat de Heere zijn doel met ons noch niet bereikt heeft.”
Selfs in hierdie moeilike omstandighede het die gemeente nog kans gesien om te offer en te ly ter wille van die opvoeding van hulle kinders. Op ’n gemeentevergadering is besluit om ’n kerkskool op te rig. Dit het meegebring dat hulle jaarliks vir ’n tydperk van drie jaar £150 moes bydra. “Het was opmerklik hoe seer arme leden ook het hunne beloofden en hoe ook jongelinge zich er toe aangordden.”
Elke eerste Sondag in die maand is die oggendkollekte vir die CNO afgestaan. ln 1907 het Marico-distrik ’n redelike reënjaar beleef. Ongelukkig het hulle baie las met sprinkane gehad. Talle perde het ook gevrek aan perdesiekte. Sommige van die diere was selfs 17 jaar in die distrik en is reeds as gesoute diere beskou. Die beriggewing sluit met hierdie insiggewende en interessante paragraaf oor Marico: “De armoede is groot, de toekomst donker. De trein van Krugersdorp is 6 mijI van Zeerust. Hij sal D.V. over acht of tien dagen Zeerust instoomen; maar zal de zonde ook niet met groter kracht instroomen. Heer zij ons genadIgd.” De Vereeniging, Mei 1907.
Nuwe kerk gebou
Op die Kerkraadsvergadering van 10 November 1951 is die boukommissie gevra om die kerkgebou deeglik te ondersoek met die oog op herstel. Spoedig was dit duidelik dat die reparasies redelik omvangryk sou wees. Daarom is die advies van die argitek Hendrik Vermooten van Pretoria ingewin. Hy het ’n deeglike plan opgestel vir die herstel van die gebou. Dadelik is daar ook dus begin met die insameling van die nodige geld. Daar is begroot vir ’n bedrag van £28 000. Met die oorweging van hierdie plan, het die gedagte ontstaan om liewer te dink aan ’n nuwe kerkgebou. Die tender vir die herstel van die ou kerk was so hoog dat daar feitlik ’n nuwe kerk teen dieselfde bedrag gebou kon word. Daarom het die Kerkraad die argitek versoek om ’n plan op te trek vir ’n nuwe kerkgebou. Dit is goedgekeur op ’n gemeentevergadering in Oktober 1956.
Intussen het Zeerust ds. en mev. J. A.C. Scholtz in hulle midde gehad. Hulle was hart en siel saam in die verantwoordelike taak wat die gemeente op hulle skouers geneem het. Op 10 Junie 1957 is die tenders van die firma Sasolburg Konstruksie aanvaar teen ’n bedrag van £26 455.17.5. ln Julie 1957 het die bouprogram ’n aanvang geneem. Die ou kerk moes egter eers afgebreek word. Die Kerkraad het die dienste van oudl. J.H. Kleynhans verkry, wat met ’n paar handlangers die groot taak onderneem het. Alles is netjies afgebreek sodat alle materiaal in byna ongeskonde toestand op ’n Saterdagmôre in 1958 op die Kerkplein verkoop kon word. Baie artikels in die ou kerk het so hulle weg gevind na die huis van die lidmate en so is iets bewaar van die ou Kerk wat 61 jaar lank die gemeente gehuisves het. Op 12 Oktober 1957 kon die hoeksteen van die nuwe kerkgebou gelê word. Die geleentheidsdiens is deur ds. H.C. Botha in die ou kerk gelei, waarna die gemeente na die terrein van die nuwe gebou gegaan het vir die hoeksteenlegging. Dit was die taak van ds. J.A.C. Scholtz om die weerhaan op die toring te plaas. Ten aanskoue van die Kindersendingkransleidsters en kinders het die leraar die hoë steiers bestyg. Hoe gevaarlik die onderneming was, word weerspieël deur die feit dat mev. Scholtz vir ’n paar oomblikke met toe oë gestaan het. Een van die kinders merk toe op: “Kyk, tannie Scholtz wil nie kyk hoe hoog die dominee staan nie.” Min het die seuntjie geweet dat dit ’n gebed was vir die Dominee.
Uiteindelik is die gebou op 2 Augustus 1958 voltooi en het die inwydingsplegtigheid plaasgevind. ’n Vol program is die naweek afgehandel. Dr. F.E. o’B. Geldenhuys, Moderator van die Sinode van Noord-Transvaal, het die wydingsdiens waargeneem. Ds. J.J. Driescher, gemeenteseun, het die voorbereidings- en dankseggingsdiens waargeneem. Ds. W.E.H. Söhnge het ’n orreluitvoering op die nuwe orrel gegee. Ds. J.F. van Wyk, oudleraar, het die Nagmaaldiens waargeneem. Ds. J.S. van der Westhuizen, gemeenteseun, het die jeugdiens gelei. In die nuwe kerk is ook ’n nuwe orrel ingebou, ’n klompie van die ou orrel se pype is in die nuwe orrel gebruik. ’n Twee-manuaal-en-pedaal-pyporrel, vervaardig deur die Suid-Afrikaanse Orrelbouers, bestaande uit 21 registers en 1 302 sprekende pype en verdere toebehore, is in die kerk geïnstalleer teen ’n bedrag van R7 900. (Geskryf deur Morne van Rooyen)
Predikante
- Sybrand Johannes van der Spuy, 1886 – 1917
- Hendrik Willem Ziervogel, 3 Jan. 1915 – 15 Feb. 1937 (demissie)
- John Foster van Wyk, 10 Sep. 1938 – 1948 Sanddrif
- Frederik Petrus Myburgh, 16 Nov. 1941 – 1942
- Harold Christian Botha, 6 Nov. 1948 – 1952
- J A C Scholtz 1952 – 1960
- Johannes Petrus Strümpfer, 1960 – 1964
- J J B Pretorius, 1963 – 1964
- S J Blom, 1964 – 1968
- Stephanus J Joubert, 1966 – 1971
- G B J Conradie, 1970 – 1972
- A J B Rawlins, 1973 – 1996 (emiritaat)
- H J Ekkerd, 1997 – 2009
- P J Kruger, 2009 – 2016 (uit die bediening)
- A J Thiersen, 2017 tot hede (pastorale hulp)