
GEBORE
24 Des. 1909
OORLEDE
18 Sep. 1999
UNIVERSITEIT
–
GELEGITIMEER
1934
ORDEN
1936
STANDPLASE
1936 Pretoria (Hpr.)
1937 Pretoria
1939 Piet Retief
1944 Volksrust
1947 Alg. Sekr. Christelike Strewers-unie
1951 Fed. Unie-sekr. KJV.
1961 Pretoria.
EMERITEER
–
Dr Willem De Wet Strauss (BA, MA, MTh, D Phil) 24/12/1909 – 18/09/1999
DR Willem Strauss, “Weduwee Strauss” soos hy, na aanleiding van sy voorletters dikwels deur sy intieme vriende genoem is, was ‘n ware heer. ‘n Meer wellewende en opregte mens sou jy nie maklik kry nie. Altyd hoflik, netjies, bedagsaam, betyds, voorbereid, ‘n mens vol lewende waardering, belangstelling en meelewing met sy medemens. Hy het die gawe gehad om ‘n mens tuis te laat voel. Hy het altyd die beste in mense na vore laat kom. Hoeveel armer is ons wat moet agterbly, na die heengaan van hierdie besondere man!
Willem is op 24 Desember 1909 in ‘n boeregesin op Wepener in die Vrystaat gebore. Hy het eers na ‘n plaasskool, Diamantveld, naby Wepener gegaan en toe na die St Andrewsskool in Bloemfontein. Vandaar is hy na Grey Kollege waar hy op sestienjarige ouderdom in 1925 matriek geslaag het. Hier het hy uitgemunt as swemmer en was rekordhouer vir paalspring vir die tyd wat hy daar studeer het. Na skool is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1929 die BA-graad en MA-graad (sielkunde) in 1930 behaal. Vanaf 1930 tot 1934 het hy aan die Kweekskool gestudeer en is daar gelegitimeer. Op universiteit het hy weer in swem presteer en vir drie jaar die lengteswemkampioenskap gewen. Ook daar het hy die rekord vir paal spring gehou. Hy het ook uitgeblink in redenaarskompetisies.
Sy studieloopbaan het egter nie hier opgehou nie. In 1938 het hy die graad MTh aan die Princeton Seminarium in die VSA verwerf (met spesialisering in jeugwerk) en in 1965 die D Phil-graad aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (ook met spesialisering in jeugwerk).
Op 14 Julie 1936 het hy in die huwelik getree met Cornelia Margaretha Hugo. Hulle was gelukkig getroud tot haar dood in September 1970. Hy het daarna nie weer getrou nie en het die afgelope dertig jaar by sy dogter, mev. Elna Piek, in Eldoraigne, Pretoria gewoon. Twee ander dogters is ook uit die huwelik gebore, Lenca Smith en Margo du Toit. By sy afsterwe was daar reeds tien kleinkinders en sewe agter-kleinkinders.
Sy eerste gemeente was die gemeente Pretoria (Groote Kerk); waar hy op 14 Maart 1936 as hulpprediker begin het en op 9 April 1937, nadat hy in Princeton VSA gaan studeer het, as leraar bevestig is. Vanaf 20 Mei 1939 was hy leraar van die Gemeente Piet Retief en vanaf 4 November 1944 by Volksrust. Vanaf 1 Januarie 1947 is hy benoem as sekretaris van die destydse Christelike Strewersunie, wat in 1951 onder sy leiding die Kerkjeugvereniging geword het. Op 10 Desember 1961 word hy weer eens bevestig in die Gemeente Pretoria (waar hy begin het) waar hy tot met sy aftrede op 11 April 1976 gearbei het.
Een van die hoogtepunte van sy lewe, was ‘n studie van ses maande wat hy en dr CFB Naude (destyds voorsitter en sekretaris van die KJV) in 1954 onderneem het. Uit hierdie studiebesoek het die bekende en belangrike verslag: “Kerk en Jeug, in die buiteland en in SA” gespruit. Dit was in meer as een opsig rigtinggewend vir die jeugwerk van die kerk. Uit sy pen het daar ook gekom: Die Strewers Gedenkboek; Jongman op die Kruispaaie (1983); Voorbereid vir die oudag (1985); Kommervrye, vreugdevolle oudag (1988) en Bybelbeloftes (1988).
Tydens sy bediening het hy ook in belangrike kommissies gedien. Hy was onder andere voorsitter van die Algemene Sake-kommissie van die Algemene Sinode en het ‘n tydlank waargeneem as aktuarius van Noord Transvaal. Hy het in die Sinodale Jeugkommissie en die Algemene Jeugkommissie gedien. Hy was algemeen bekend as ywerige jeugvriend. Hy het ook in die Radiokommissie namens die kerk gedien.
Na sy emeritaat, toe hy by sy dogter in Eldoraigne gebly het, het hy ook nog vier jaar gedien as ouderling, sowel as lid van die erediens- en jeugkommissies van die kerkraad. Hy was ‘n steun vir die leraar en ‘n betroubare raadgewer. Hy het nog dikwels preekbeurte waargeneem en was hoog geag by kerkraad en gemeente. Sy plek was gevul by kerklike byeenkomste tot op hoë ouderdom (vergesel deur sy getroue dogter, Elna).
Hoewel hy nog goeie gesondheid geniet het tot op 89-jarige ouderdom en steeds met dankbaarheid daarvan getuig het, het hy op 13 September 1999 ‘n hartaanval gekry en is op 18 September in sy slaap in die Unitas-Hospitaal Oorlede. Tot aan die einde het hy, ware heer wat hy was, sy waardering en dankbaarheid betuig vir elkeen wat hom besoek en versorg het.
Die hoogste prioriteit in sy bediening en lewe was “die doeltreffende vorming van die kind en jongmens tot positiewe praktiese Christen en lidmaat van die NG Kerk”. Sy besondere plek is tans leeg, maar sy stille dog verreikende en verrykende invloed sal nog lank voortduur. – Dirk Viljoen, vir wie hy vriend en mentor was, en na aanleiding van sy biografiese vorm en bydraes van sy dogter, Lenca, en ds. HG Louw.