
gebore
28 Nov. 1905
OORLEDE
10 Aug. 1988
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1932
ORDEN
1934
standplase
1934 Waterval (Hpr.)
1935 Randpoort
1943 Lindley
1951 Uitenhage
1956 Odendaalsrus-Oos
1965 Brixton
EMERITEER
–
Ds. Coenraad Hendrik Lourens Mouton (28.11.1905 – 10.8.1988) was een van die NGK se bekendste leraars. Bekend was hy, nie soseer vanweë bepaalde leiersposisies wat hy in die kerk beklee het nie, maar omdat hy so ‘n toegewyde dienskneg van die Here was. In die jare van sy bediening het baie gemeentes begeer om sy dienste as leraar te bekom. Nagenoeg ‘n honderd beroepe is op hom uitgebring. Dit het hom ewenwel nie verwaand en voortvarend gemaak nie. Toe ‘n klasmaat, ds. G H P Badenhorst, hom op ‘n dag vra: “Ou Coenie, hoeveel beroepe het jy nou al ontvang?” was sy antwoord: “Ag ou Gert, ou Niek (die duiwel) wil he jy moet hulle tel”. Coenraad Hendrik Lourens Mouton is op Porterville gebore. Na sy skoolopleiding is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1932 tot die bediening toegelaat word – saam met, o a, die latere prof H D A du Toit, wat ook van Porterville afkomstig was. Beroepe was indertyd skaars. Proponent Mouton word weliswaar op 24 Februarie 1934 georden, maar dan nog steeds as hulpprediker van die gemeente Waterval. Eers op 31 Augustus1935 word hy ‘n volwaardige dominee wanneer hy in die gemeente Randpoort bevestig word. Agt jaar later vertrek hy na Lindley waarvandaan sy weg voer na Uitenhage. In 1956 word hy leraar van die nuutgestigte gemeente Odendaalsrus-Oos. Hier vertoef hy nege jaar. Hy keer uiteindelik terug na die Rand en wel as leraar van Brixton, ‘n gemeente wat in 1938 afgestig is van Waterval waar ds. Mouton sy bediening begin het. Na sy emeritaat in 1971 vestig hy en sy vrou hulle in Roodepoort. Enkele jare later ontval sy hom deur die dood. Nadat hy ‘n tydlank by ‘n dogter in Rustenburg ingewoon het, neem hy sy intrek in Ons Tuiste, behuisingsoord vir bejaardes in Bloemfontein. Hier aanvaar hy verantwoordelikheid vir sekere pastorale pligte waarmee hy besig bly tot die dag van sy dood. Op die Sondagaand voor sy dood, tref Prof E P J Kleynhans hom in die gang van Ons Tuiste aan, geklee in ‘n netjiese donker pak en met ‘n wit das aan. Dit was nie net die uiterlike wat tot ‘n mens gespreek het nie; sy gesindheid en die woorde wat hy spreek, het maar een boodskap oorgedra: hier is iemand wat die Here Jesus waarlik liefhet, wat sy weg – die laaste deeltjie daarvan! – met blymoedigheid voortsit, en wat bo alles ‘n dienskneg van die Here is. Hy was in meer as een opsig in ‘n klas van sy eie. Die boodskap van die Here het hy in ‘n eie idioom oorgedra, maar dit het goed tuisgekom. Hy was pastor by uitnemendheid. Hy het maar een passie gehad en dit was om mense na die Here Jesus te lei. Vier kinders is uit sy huwelik gebore, twee seuns en twee dogters. Een van die seuns het op jeugdige ouderdom gesterf, die ander, dr Gert Mouton, is senior lektor in Maatskaplike Werk aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Saam met hulle bring ons dank aan God toe vir so ‘n vader en voorganger.