gestig
1817
ring
Ring van Uitenhage
adres
Kerklaan, Uitenhage
Eerste predikant
Ds C Mol
Die NG Gemeente Uitenhage is ‘n gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland.
Hierdie gemeente, wat die 10de oudste NG gemeente in Suid-Afrika en die tweede oudste in die Oos-Kaap is, het die onderskeiding dat dit die eerste en enigste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is waarvan op een dag drie gemeentes afgestig is. Dit het gebeur toe op 22 Junie 1950 tydens ’n buitengewone Ringsvergadering in die moederkerk besluit is om Uitenhage-Noord, -Oos en -De Mist af te stig. Toe reeds het dit die totale getal dogtergemeentes van die moedergemeente, wat in 1817 as die tiende gemeente in Suid-Afrika gestig is, op 21 te staan gebring.
Ontstaan
Vroeg in 1804 is die veldkornetskappe waarin die woeligste burgers gewoon het en wat ook die meeste tydens strooptogte van die naburige Xhosas moes ly, van die distrik Graaff-Reinet afgesny en tot ’n aparte drostdy geproklameer. Dit het die familienaam ontvang van mnr. J.A. Uitenhage de Mist, kommissaris-generaal tydens die bewind van die Bataafse Republiek. Reeds in 1809 was daar onder die ingesetenes ’n beweging om ’n eie kerk te hê en dit was dus sekerlik ’n heuglike gebeurtenis toe vir die eerste keer in Junie 1816 kerkraadslede vir Uitenhage op voordrag van die landdros deur die goewerneur goedgekeur is. Daar het toe reeds ’n sogenaamde kerkhuis gestaan. Ook kon Uitenhage van ’n leraar voorsien word in die persoon van ds. Cornelis Mol wat ’n Afrikaner van geboorte was. In 1823 het ds. Mol om een of ander rede en sonder om amptelik afskeid te neem, Uitenhage verlaat en in Oktober van dieselfde jaar predikant van Swellendam geword.
Verdere ontwikkelings
Sy opvolger was ds. Alexander Smith, een van die Skotse predikante wat destyds volgens die beleid van lord Charles Somerset in die grensgemeentes geplaas is. Met voorbeeldige getrouheid en kennelike seën het hy dié uitgestrekte veld 40 jaar lank bearbei tot hy in 1863 afgetree het. Tydens sy bediening (1843) is ook die kerkgebou voltooi, wat later as die gemeente se kerksaal gedien het.
In 1862 is ds. Abraham Isaac Steytler as hulppredikant vir ds. Smith benoem en toe laasgenoemde in die volgende jaar aftree, het ds. Steytler sy opvolger geword. Hy het hom vir die onderwys beywer en was die stigter van die Riebeeck-kollege vir meisies en van ’n seunskool wat ’n tyd lank sonder regeringshulp in stand gehou is. As predikant van Kaapstad het hy in 1909 as moderator van die Kaapse Sinode gedien. Ds. Steytler is opgevolg deur ds. Jan Hendrik Hofmeyr, ’n seun van prof. N.J. Hofmeyr van die Kweekskool op Stellenbosch. In 1887 het hy egter uit die bediening getree om later baie jare lank as skole-inspekteur op te tree.
Ds. Daniël Jozua Pienaar kom in 1887 uit Aliwal-Noord na Uitenhage. Tydens die Sinode van 1915 is hy moderator gekies. Hy het hom ook vir die plaaslike onderwys beywer en het die nywerheidskool gestig wat as model gedien het vir soortgelyke instellings in die eertydse Kaapland.
Ds. Antonie Johannes Troskie kom in 1926 aan uit Ficksburg. Gedurende sy bediening is die nuwe kerk gebou en op 2 Februarie 1929 ingewy. In 1932 sterf hy ná ’n operasie in Port Elizabeth.
Drie dogters stig af
In 1950 is al drie leraars (di. P.C. Combrink, W. Fullard en P.J.J.S. Els) deur die drie pasgestigte dogtergemeentes beroep en op Sondag 3 September maak hulle aan die ou moedergemeente bekend dat hulle die beroep aangeneem het.
Dogtergemeentes
- 1950: Uitenhage-Noord
- 1950: Uitenhage-Oos
- 1950: Uitenhage-De MIst
Predikante
- Cornelis Moll, 1817 – 1823
- Alexander Smith, 1823 – 1863
- Abraham Isaac Steytler, 1863 – 1881
- Jan Hendrik Hofmeyr, 1882 – 1887
- Daniël Jozua Pienaar, 1887 – 8 Maart 1926
- Antonie Johannes Troskie, 1926 – 14 Junie 1932
- Paul Marais van Heerden, 1932 – 1944
- Jacobus Stephanus Gericke, 1938 – 1944
- Ockert Almero Cloete, 1944 – 1947
- Willem Johannes Lubbe, 1944 – 1948
- Jacobus Johannes Badenhorst, 1946 – 1948
- Pieter Combrink, 1948 – 1950
- Petrus Jacobus Johannes Stephanus Els, 1949 – 1950
- William Fullard, 1949 – 1950
- Wessel Charles Oswald du Toit, 1951 – 1953
- Coenraad Hendrik Lourens Mouton, 1951 – 1956
- Jacob Christian Vermeulen, 1956 – 1961
- Edward Ellis, 1954 – 1963
- Johannes Abraham Vollgraaff Knipe, 1957 – 1958
- Ockert Johannes Erasmus, 1963 – 1969
- Edward Botha, 1963 – 1965
- Daniel Francois Mentz, 1964 – 1965
- Jurie Hendrik Neethling, 1965 – 1971
- Daniël Petrus van Zyl, 1970 – 1976
- Petrus Johannes de Vries, 1972 – 1976
- Daniël Jacobus Malan, 1975 – 1979
- Salomon Ignatius Strydom, 1976 -1989
- Izak Daniël Wilhelm Bosman, 1981 – 1986
- Clifford James, 1995 – 1999
- Aubrey Gouws, 1987 – hede