Moorrees, Adriaan

Ds A Moorrees

gebore

1 Aug. 1855

OORLEDE

17 Nov. 1938

UNIVERSITEIT

Litt.D., LL.D., PhD.

gelegitimeer

1878

ORDEN

1879

standplase

Noorder-Paarl (Hpr.)

1880 Richmond

1892 Kaapstad

1895 Paarl

1908 Prof. Teol. Sem

EMERITEER

1930

Met die dood van Professor Adriaan Moorrees het een van die kragtigste figure in ons kerklike en volkslewe ons ontval. Hy was een van die grotes wat God aan ons gegee het. Die woorde van die lyksang wat hy op die dood van Ds. J.H. Neethling, in lewe predikant op Stellenbosch, geskryf het, is in besondere sin waar van sy eie heengaan.

Een Vorst in Israel, een ceder is gevallen, En, dav’rend van den schok, treurt heel ons dierbaar Iand.”

Die Here het aan Sy ontslape dienskneg ʾn lange en vrugbare loopbaan vergun, met ‘n aktiewe dienstyd van ruim ‘n halwe eeu. Hierdie dienstyd het hy begin in 1879 as hulpleraar van die gemeente Noorder-Paarl, en nadat hy as leraar gestaan het in Richmond, Kaapstad en die Paarl, het hy in 1908 hoogleraar aan ons Teologiese Kweekskool op Stellenbosch geword. Na ʾn 22-jarige vrugbare en geseënde arbeid aan hierdie geliefde inrigting van ons Kerk, het hy in 1930 emeritaat aanvaar. Dog ook in hierdie rustyd in die aand van sy lewe, wat nie alte baie jare getel, het nie, het hy meegeleef met die Kerk, en het hy werk van blywende waarde verrig.

Dit lê nie in ons bedoeling om hier ‘n oorsig van sy ryke en volle !ewe te gee nie. Ons wil oor hom skryf soos ons hom geken en gesien het, soos een wat saam met baie ander die voorreg gehad het om as student aan sy voete te sit. Dit was onmoontlik om met ‘n uitstaande persoonlikheid, soos wyle Prof. Moorrees was, in aanraking te kom sonder om indrukke te ontvang wat lewend en onuitwisbaar sou wees.

Ons dink hier aan sy bekwaamheid as taalkundige. Hy het hom by voorkeur bedien van die Nederlandse taal, en het dit beheers soos weinige in ons land. Die werke van die Nederlandse skrywers en digters het hy geken, en met gesag daaroor gespreek. Soms het hy in die “Spreekuur” op Stellenbosch opgetree met ʾn  lesing oor een of ander letterkundige onderwerp, waardeur hy baie studente getrek het. Sy ywer as kampvegter vir die regte en belange van die Hollandssprekendes in Suid-Afrika ook op taalgebied is bekend, sowel as sy bevordering daarvan deur middel van die S.A. Taalbond en die S.A. Akademie vir Lettere en Kuns, aan watter liggame  hy so nou verbonde was. Prof. Moorrees het ook digterlike gawes besit, soos elkeen wat hom gehoor het, weet. Dit het nie alleen in sy prediking geblyk nie, dog dit het ook uitdrukking gevind in sy bekende bundeltjie “Zevenjaartjies,” wat verskyn het in 1908 – dieselfde jaar toe hy Professor aan die Kweekskool geword het. Toe later die Afrikaanse taal tot sy reg gekom het, het hy hierdie ontwikkeling nie met antipatie bejeën nie, maar sy goedkeuring en steun daaraan gegee. 

Dit is dan ook te verstaan dat Prof. Moorrees wat op taalgebied met besondere gawes toegerus was, as kanselredenaar en woordvoerder uitgeblink het. Sy deftige en waardige houding, gepaard met sy grote seggingskrag het hom ʾn  gewilde prediker gemaak. Hy het die ou Skrifwaarhede op so ‘n heldere en oortuigende wyse vertolk, dat dit sy hoorders aangegryp het, en vir hulle telkens in ʾn  nuwe lig te staan gekom het. Gemeentelede en veral studente het uitgesien na sy professorale beurt op die kansel, en niemand wou graag die diens mis nie. Hy het dit meesterlik verstaan om as woordvoerder by feestelike geleenthede op te tree, en die word wat hy gespreek het, het gewoonlik die feesstemming verhoog. In studentekringe is hy beskou geword as ʾn  spreker wat altyd ‘n boodskap vir jong mense gehad het, en sy invloed op die studerende jeug was veral daaraan te danke, dat hy so goed die nood en die behoefte van die studentehart verstaan het. Deur sy welsprekendheid as kanselredenaar kon hy uitrig, wat hy gedoen het, omdat dit nie slegs ʾn  vertoon van geleerdheid of ʾn  klinkende woordespel was nie, maar omdat dit gedra was, deur die krag van Gods Gees. Hierdie gawe wat die Here aan hom toevertrou het, was ‘n kragtige middel in Sy hand om die stugge sondaarshart tot verootmoediging en tot sondebelydenis te bring, dog ook om die gebrokenes van hart te troos, en die neergedruktes te stel in die lig van Gods liefde in Christus. Nooit was hy welsprekender nie as wanneer hy gewys het op die kruis en die soenverdienstes van Christus.

Dit is egter, veral as leermeester, as hoogleraar aan ons Kweekskool dat die meeste predikante aan Prof. Moorrees sal dink. In die jare toe hy nog in sy volle krag was, het reeds sy wakkere stap op weg na die Kweekskool, en sy lewendige groet, sy studente laat voel dat hy gekom het om ‘n belangrike stuk werk in sy kollegekamer af te handel. Hoe goed was hy voorbereid, en hoe net was sy werk! Sy voorbeeld, sy deeglikheid, het aansteeklik gewerk op sy studente. In sy behandeling van die Kerkgeskiedenis het hy die een tydvak na die ander laat leef, en veral die Hervormingsperiode het hy op so, ‘n wyse voorgestel dat dit liefde ingeboesem het vir die geskiedenis van die Protestantisme, en veral van die Calvinisme. Sy voorlesinge oor die Teologie van die 19de eeu het die oë geopen vir die magtige strominge van daardie tyd wat die teologiese denke so diep beïnvloed het, selfs tot in hierdie twintigste eeu. Die Homiletiek-uur was ‘n ware verkwikking omdat die leermeester self prediker by uitnemendheid was. Dog daar was ook oomblikke van spanning wanneer die eie, skets te voorskyn gehaal, en die eie klaspreek van die student van die kleine verhoog voorgedra moes word! Nie minder interessant was die kolleges in die Eksegese van die Nuwe Testament nie. Veral by die verklaring van die Evangelies was daar momente wat nie vergeet kan word nie. Die professor het meer as eens by ‘n teks stilgestaan, en met soveel erns en gloed gespreek, dat daar asemlose stilte geheers het, en hy sy studente meegevoer het na die hoogtes. Na sulke oomblikke was dit inderdaad moeilik om weer terug te keer tot die gewone en alledaagse, en die pen weer op te neem om aantekeninge neer te skrywe.

In hierdie kolleges waarvan daar soveel inspirasie uitgegaan het, is by menigeen die lus gebore tot verder ondersoek en studie, hier en ook in die buiteland. Prof. Moorrees het by sy studente liefde opgewek vir ons Kerk, en vir die Gereformeerde teologie. Hy was kerkman en volksman. Daarvoor is hy in ons land en ook in die vreemde aangesien.

Geen wonder dat drie universiteite op grond van sy grote verdienstes, aan hom eregrade toegeken het nie. In sy rustyd het hy nog as ʾn  laaste pennevrug die Geskiedenis van ons Kerk aan ons gegee, waarvoor hy die dank en die waardering van die Raad van die Kerke ontvang het. Op belangrike kerklike en regerings-kommissies het hy gedien. Hy het die agting en liefde van ons Kerk en volk gehad. Hy was ‘n vertroude raadsman, ‘n sieraad vir ons Kerk. Dit kon hy alleen wees omdat hy ‘n ware en toegewyde godsman was. Om sy eie versreëls wat hy op iemand anders gedig het, aan te haal:

Ook hij was feilbaar mensch; maar door Gods Geest herboren:

Een sieraad onzer Kerk, een vader voor zijn volk.”

Kerkbode 30/11/1938 p 976-978