GESTIG
1665
Ring
Kaap die Goeie Hoop
Adres
H.v. Bureau- en Adderleystraat, Kaapstad
Sluit in
Kaapse Middestad, Oranjezicht, Tuine, Kampsbaai, Robbeneiland
Eerste predikant
Joan van Arckel (1665–1666)
Die NG Gemeente Kaapstad (of Groote Kerk soos hy na sy kerkgebou genoem word) is die oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en ‘n gemeente in die Sinode van Wes-Kaapland.
Aan die begin moes die koloniste, wat sedert 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop geland het, verlief neem met die dienste van ’n godsdiensonderwyser (sieketrooster), Willem Wylant. Hy het gereeld godsdiensoefeninge in die Fort gehou, kinders onderrig en die evangelie aan die inboorlinge verkondig.
Die eerste nagmaal is op 12 Mei 1652 deur ’n besoekende predikant, ds. Johannes Backerus, bedien, terwyl die eerste doop op 24 Augustus 1653 bedien is. Nog sieketroosters wat hier diens gedoen het, was Pieter van der Stael, Ernestus Back en Jan Joris Graaf.
Die klein gemeente het verlang na ’n eie leraar tot die Here XVII in Amsterdam besluit om die eerste vaste predikant na die Kaap te stuur. Hy was Joan van Arckel, wat op 18 Augustus 1665 in Tafelbaai geland het. In sy tydperk het dit nodig geword om ’n houtgebou as kerk te gebruik en dit is in Desember 1665 van ’n steengewel en -vloer voorsien.
In 1672 is diens gehou in “De Kat” van die Kasteel die Goeie Hoop, met die fondament van die eerste kerkgebou wat in 1678 gelê is. Op 28 Desember 1700 is die hoeksteen vir ‘n kruisvormige kerk eindelik deur goewerneur Willem Adriaan van de Stel gelê. Eers op 6 Januarie 1704 is die eerste kerkgebou ingewy in die dienstyd van ds. Petrus Kalden. Dit het £2 200 gekos. Twintig jaar later was ‘n verdere vergroting nodig. Die eerste gebore Afrikaner wat leraar van die gemeente was, was ds. Petrus van der Spuy (1746 tot 1752). Gedurende die dienstyd van ds. Johannes Petrus Serrurier (1760 tot 1802) is besluit om die kerk van 1704 te vergroot. Dit is teen ’n koste van £4 000 gedoen en in 1781 ingewy. Die huidige preekstoel, wat deur die beeldhouer Anton Anreith uit die beste Indiese hout teen ’n koste van £708 vervaardig is, is in November 1789 ingewy. Die mure is uitgeskuif met die gevolg dat die kerk sy kruisvorm verloor en ‘n reghoekige vorm aangeneem het. Swak konstruksie het egter tot die sloop van die kerk gelei.
Die huidige gebou, bekend as die Groote Kerk, is teen tien maal die koste van die oorspronklike kerk op dieselfde perseel opgerig en op 31 Januarie 1841 ingewy – 137 jaar na die inwyding van die eerste kerkgebou. Net die toring van die ou gebou het behoue gebly.
Die besonderse preekstoel is waarskynlik die mooiste van sy soort in die land. Die beeldhouwerk deur die beroemde mnr. Anton Anreith en ‘n Hollandse skrynwerker mnr. Jan Jacob Greeff, bestaan uit twee leeus op wie se skouers die bak van die kansel rus. Met een poot hou elke leeu ‘n blarekrans omhoog, terwyi die ander poot op ‘n perkamentrol rus. Die rol vou agter hulle oop en hierop is ‘n voorstelling van die Ou en Nuwe Jerusalem geskilder wat oor tyd vervaag het.
Toe die orrelbouer mnr. Jan Jacob Poosen in 1735 in die Kaap aangekom het, het die destydse goewerneur, Jan de la Fontaine, hom opdrag gegee om ‘n orrel vir sy dogter te bou. Toe die goewerneur twee jaar later na Nederland terug geroep is, het die Kerkraad die orrel vir 500 gulde (sowat R70) van hom gekoop. Hierdie instrument het in gebruik gebly tot 1752 toe ‘n nuwe aangeskaf is. In 1788 is die instrument vernuwe, maar dit het aanhoudend las gegee.
Uiteindelik het ‘n welgestelde sakeman, mnr. Jan Hoets, ‘n groot som geld aan die kerk geskenk vir die aankoop van ‘n goeie instrument. ‘n Engelse firma, Bevington, het daarna ‘n orrel vir sowat R3 000 kom bou en die instrument is op 11 Julie 1830 ingewy. Hierdie orrel is twee keer herbou, in 1897 en weer in 1923.
In 1953 het die kerkraad besluit om die Hoets-orrel met ‘n nuwe te venvang wat deur Pelz en Zoon van Alkmaar, Holland teen R35 000 (destyds sowat £17 500) gebou is. Hierdie nuwe instrument, die grooste destyds in Suid-Afrika, is op 1 Dember 1957 deur dr. AJ. van der Merwe ingewy.
Die orrel het 5 917 pype, vier manuale en pedale en ‘n konsole met 102 registers. Die langste pyp is 9,5m lank met ‘n deursnee van 254mm en die korste is 6mm lank met ‘n deursnee van 2,5mm. Die pype is gemaak van koper, tin en hout en ‘n allooi van tin en lood. Die orrel is gebou en volgens spesifikasie opgestel deur die die orrelis, mnr. J.D. Malan, in oorleg met die orrelbouers en ‘n komitee van orrelkenners van Kaapstad en Stellenbosch.
Een van die beroemdste leraars in die gemeente se geskiedenis was dr. Abraham Faure, wat die gemeente bedien het van 1822 tot 1867. Hy het ’n besondere belangstelling in die onderwys getoon en buiten sy ander prestasies was hy ook verantwoordelik vir die stigting van die eerste Sondagskool in 1844.
Nog ’n beroemde leraar in die 19e eeu was dr. William Robertson, wat hierheen gekom het van Swellendam af.
Die gemeente het in 1952, toe sy 300-jarige bestaan gevier is (later is die stigting meer korrek aangegee as 1665), meer as 2 000 lidmate gehad en drie predikante. Nou is dit minder as 500.
Dogtergemeentes
Van die wyke waaraan eie leraars afgestaan is het later afgestig.
- 1880 Drieankerbaai
- 1891 Nieuwe Kerk (of te wel Tamboerskloof)
- 1912 Observatory
- 1912 Maitland
- 1923 Woodstock
Daar was ook ‘n wykskerk in Hanoverstraat.
Predikante
- Joan van Arckel (ook Johannes/Johan), 1665 – 12 Januarie 1666
- Johannes de Voogt, 26 Februarie tot 23 November 1666
- Petrus Wachtendorp, November 1666 – Februarie 15 Desember 1667
- Adrianus de Voogt, 1667 – 1674
- Rudolphus Meerlandt, 1674 – 1675
- Petrus Hulsenaar, 1675 – 1677
- Johan Frederick Stumphius, Mei 1678
- Johannes Overney, 1678 – 1687
- Johannes van Andel, 1687 – Januarie 1689
- Leonardus Terwoldt, 1689 – Augustus 1693 of ’95
- Hercules van Loon, 1695 – 1697
- Petrus Kalden, 1697 – 1708
- Engelbertus Franciscus le Boucq, 1707 – 1708
- Johannes Godefridus D’Ailly, 1708 – 1726
- Lambertus Slicher, 1723 – 1725
- Henricus Beck, 1726 – 1731
- Franciscus le Seuer, 1729 – 1746
- Henricus Cock, 1732 – 1743
- Ruardus van Cloppenburgh, 1746 – 1748
- Petrus van der Spuy, 1746 – 1752
- Henricus Kronenburg, 1752 – 1779
- Gerhardus Croeser, 1754 – 1755
- Christiaan Benjamin Voltelen, 1755 – 1758
- Johannes Frederik Bode, 1758 – 1760
- Johannes Petrus Serrurier, 1760 – 1802
- Christiaan Fleck, 1781 – 1822
- Meent Borcherds, 1785 – 1786
- Helperus Ritzema van Lier, 1786 – 1793
- Johannes Abraham Kuys, 1794 – 1799
- Johan Heinrich von Manger, 1802 – 1839
- Johannes Christoffel Berrange, 1817 – 1827
- Abraham Faure, 1822 – 1867
- Johannes Spijker, 1834 – 1864
- Stephanus Petrus Heyns, 1839 – 1873
- Andrew Murray, 1864 – 1871
- Georg Wilhelm Stegmann jr., 1867 – 1880
- William Robertson, 1872 – 1879
- Gilles van de Wall, 1874 – 1875
- Anton Daniël Lückhoff, 1875 – 1886
- Johannes Jacobus Kotzé, 1880 – 1899
- Abraham Isaac Steytler, 1881 – 1915
- Christoffel Frederic Jacobus Muller, 1887 – 1890
- Adriaan Moorrees, 1892 – 1895
- Charles Smith Morgan, 1893 – 1896
- Francis Xavier Roome, 1895 – 1937
- Zacharia Johannes de Beer, 1895 – 1923
- Louis Hugo, 1897 – 1907
- Johannes Petrus van Heerden, 1899 – 1935
- Johannes du Plessis, 1899 – 1903
- Barend Johannes Haarhoff, 1905 – 1912
- Gerrit Johannes du Plessis, 1906 tot 1912
- Johannes Stephanus Hauman, 1908 – 1918
- Daniel Gerhardus Malan, 1918 – 1921
- Pieter Basson Ackermann, 1918 – 1922
- Daniel Stephanus Burger Joubert, 1921 – 1925
- Willem Ferdinand Louw, 1922 – 1929
- Abraham Johannes van der Merwe, 1926 – 1966
- Jacobus Delarey Conradie, 1936 – 1967
- Pieter du Toit, 1938 – 1943
- Theunis Christoffel Botha Stofberg, 1940 – 1944
- Johannes Gerhardus Janse van Vuuren, 1945 – 1954, 1963 – 1986
- Willem Adolf Landman, 1958 – 1979
- Petrus Andries van Zyl, 1958 – 1960
- Johannes Mattheus Delport, 1960 – 1963
- Dirk Johannes Jacobus Oosthuizen, 1967 – 1972
- Jacobus van der Westhuyzen, 1968 – 1997
- Erasmus Adriaan van Niekerk, 1972 – 1975
- Abraham Johannes Prins, 1975 – 1981
- Petrus Johannes Botes, 26 April 1981 – 2009
- Everhardus Johannes Smith, 1986 – 1996
- André René Olivier, 1997 – 2011
- Gideon de Wit, 2003 – 2015
- Johan Taute van Rooyen, 2011 – 2019
- Riaan De Villiers – 2014 – hede
- Marié Henriette Steyn, 2021 – hede