GEBORE
08 Des. 1918
OORLEDE
20 Jul. 2002
UNIVERSITEIT
BA, MA, MTh (US)
GELEGITIMEER
1944
ORDEN
1947
STANDPLASE
1947 Loeriesfontein
1952 Riviersonderend
1958 Namakwaland
1962 Stellenbosch-Noord
1970 Die Kerkbode (redakteur)
EMIRITEER
1986
Gideon Stefanus Jacobus Moller is op 8 Desember 1918 op Wolseley in die Boland gebore. Hy word groot en oud met die bynaam “Tappies,” ‘n naam waarvan hy nie die oorsprong geken het nie. Sy vader was Charl Abraham Willer, ʼn boer wat groente gekweek en baie jare lank kerkraadslid en burgemeester van Wolseley was. Sy moeder, Anna Susanna Conradie (Van Zyl); was ‘n onderwyseres en het lank die orrel op Wolseley gespeel.
Tappies het van kleins af in sy ouerhuis geleer wat naasteliefde beteken, en dit het hom deeglik voorberei vir die leiersrol wat hy in die NG Kerk in Suid-Afrika sou speel. Sy skoolloopbaan het op Wolseley begin en in 1936 het hy aan die Paarl-Gimnasium gematrikuleer. Oor hierdie jare skryf ds. Tappies: “Die onderwysers aan hierdie skool het ‘n blywende stempel op my lewe afgedruk en my help vorm vir my latere lewe. Hoewel ek van kleins af gedink het ek gaan eendag predikant word, het die invloed van Gimnasium waar ek onder andere sekretaris van die CSV en ook kringleier was, bygedra tot die vaste oortuiging om predikant te word.”
Op 17-jarige leeftyd tydens die 40- jarige feesviering van die CSV op Stellenbosch, het ds. Moller tydens ‘n preek van dr JCG Kotze ‘n roeping gekry om predikant te word. Nog twee latere NG Kerkleiers, ds. Willem du Toit en prof David de Villiers (later professor aan die Kweekskool op Stellenbosch) het ook tydens die erediens die roeping gekry om die Here voltyds te dien.
Tappies het in 1937 na Stellenbosch vertrek. Hy was ‘n inwoner en later primarius van Dagbreek. Hy het ook leiding geneem in die Studenteraad, CSV, debatsvereniging, Berg-en-toerklub, Afrikaanse Nasionale Studentebond en die Stellenbosse Sosiale Werkersbond. In 1942 is hy as voorsitter van die Studenteraad op Stellenbosch aangewys. Hy het die BA-Admissiegraad en in 1941 die MA in Filosofie (cum laude) verwerf. Oor sy studentejare skryf hy: “Toe ek op Kweekskool kom, het ek reeds klas gegee in filosofie aan die universiteit. Ek was dus junior lektor en het daarmee voortgegaan nadat ek in 1944 gelegitimeer is. In my finale jaar in die Kweekskool was ek primarius van die vierde jaarklas en het ek ook my MTh graad verwerf.” Van die bekendes vir wie hy klas gegee het, was di. Derick Conradie en Tobie de Clerq, dr Dirk Hattingh, dr HF Conradie, dr Piet Koornhof en prof Johan Degenaar.
Na prop GSJ Moller se legitimasie in 1944 bly hy nog drie jaar lank aan as dosent in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch. In die najaar van 1947 kry hy ‘n beroep na die gemeente Loeriesfontein, en besluit om die akademie vir die gemeentebediening te verruil.
Op Loeriesfontein het hy die bekende Lombard-vierling gedoop en na sy aftrede het hy met deernis die geskiedenis van die dorp opgeteken. Op 17 Mei 1952 is hy na Riviersonderend beroep waar hy ses jaar lank die Woord met oorgawe bedien het. Hierna is die Mollers na die gemeente op Springbok beroep.
‘n Beroep na die Eikestad het ‘n krisis in die egpaar se gemoed veroorsaak, want hulle bediening op Springbok was besonder geseënd. Op 8 Desember 1962 is ds. Moller in die gemeente Stellenbosch-Noord ontvang en bevestig. Met die tienjarige bestaan van die gemeente skryf hy as pastor loci ‘n gedenkboek wat die kort geskiedenis van Stellenbosch-Noord treffend beskryf het.
In die herfs van 1970 word ds. Tappies Moller benoem as redakteur van Die Kerkbode, amptelike blad van die Ned Geref. Kerk. Dit lui die laaste sestien jaar van sy bediening in. Hieroor skryf hy: “Ek het onder uiters moeilike omstandighede begin in ‘n tyd toe die Ned Geref. Kerk ontwrig en verward was deur die feit dat my twee voorgangers, dr AP Treurnicht en dr WJG Lubbe, altwee besluit het om tot die partypolitiek toe te tree.” Met die 150-jarige feesviering van Die Kerkbode word ds. Tappies by uitstek beskryf as ‘n vredemaker, iemand wat te midde van groot woelinge in die kerk en in die land, agting en vertroue verleen het aan sy redakteurskap.
Ds. HC Hopkins skryf: “Sy besondere vermoë om ingewikkelde sake helder in maklik verstaanbare taal te stel en sy gesonde insig wat so ruimskoots uit sy ewewigtige artikels blyk, bring mee dat stukke uit sy pen met graagte gelees word. Sonder om omstrede kwessies te vermy, hanteer hy belangrike sake en vraagstukke op so ‘n manier dat spanning verlig en konfrontasie voorkom word.”
Hy was ‘n geëerde kerkman wat diep spore in die sinodale gebied van Wes-Kaapland getrap het, veral as moderator en voorsitter van die kuratorium van die Kweekskool op Stellenbosch. Hy het vername posisies by die Algemene Sinode beklee, in die dagbestuur gedien en was ‘n paar keer as afgevaardigde namens die NG Kerk na die buiteland. ‘n Tasbare bewys van sy aansien en die vertroue wat in hom gestel was, is die verkiesing tydens 1986 se Algemene Sinode in Kaapstad, toe hy op die tweetal vir moderator verloor het teen die bekende prof Johan Heyns van Pretoria. Later het hy graag daarna verwys as ‘n beskikking aangesien hy soveel probleme en die stryd rondom ‘n kerklike skeuring vrygespring het.
Ds. Moller het op 17 Januarie 1945 met Monica Steenkamp getrou. Sy was ‘n dogter van die geliefde ds. WL Steenkamp, leraar van die gemeente Namakwaland. Sy het aan die Universiteit van Stellenbosch en later Unisa gestudeer en het in die Onderwysbiblioteek in Kaapstad en die JS Gericke-biblioteek op Stellenbosch gewerk. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Elizabeth is getroud met Ernst Moller. Sy is ‘n musiekonderwyseres en orreliste van die gemeente La Rochelle in Bellville. Charl Moller het in die distrik Windhoek geboer en in 1998 gesterf. Hy was getroud met Beulah le Roux en hulle het vier kinders. Annatjie is ‘n maatskaplike werker en is getroud met ds. Cassie Wait van die Sonstraal-gemeente in Durbanville. Willem Moller het twee honneursgrade in Filosofie en Joernalistiek behaal en was aanvanklik joernalis, maar besit die hoogs suksesvolle “Sharp Street Studio” in Johannesburg waar hy onder meer kompakskywe vervaardig. Hy was ook voorheen lid van die Gereformeerde Blues Band.
Na bykans vier dekades het ds. Tappies in 1986 emeritaat aanvaar en sy afskeidspreek in die Groote Kerk in Kaapstad gelewer. Daarna het hy en Monica nog vir agtien jaar lank in Bloubergstrand gewoon voor hulle in 2000 na Huis Zonnekus in Milnerton verhuis het. In 2001 is gevorderde kanker by ds. Moller gediagnoseer.
Tot twee dae voor sy dood was hy nog redelik by sy positiewe en het nog soms ‘n grappie gemaak ds. Tappies Moller is op Saterdagaand 20 Julie 2002 oorlede. Op Sondag 28 Julie 2002 is hy uit die NG Gemeente Bloubergstrand begrawe. Hebreërs 11 is as teksvers gebruik. Dr Frits Gaum, huidige redakteur van Die Kerkbode, het ‘n huldeblyk gelewer. Die woorde van Charles H Spurgeon is sprekend: “Broers, wees groot in geloof. Klein geloof bring jou siel na die hemel, groot geloof bring die hemel na jou siel.”
(Dr Gerdrie van der Merwe, NG leraar van Kuruman.)