Malan, Daniel Francois * 1927

 

GEBORE

23 Apr. 1927

OORLEDE

20 Jan. 1993

UNIVERSITEIT

BSc (Ing), MA, MTh

GELEGITIMEER

1957

ORDEN

1960

STANDPLASE

1960 Melville

1972 Demissie vir studie

Bothasig  (Hulp pred)

EMERITEER

Ds. Malan, die oudste seun van wyle dr D F Malan, eertydse Eerste Minister van Suid-Afrika, is op 23 April 1927 gebore. Hy was ‘n briljante student wat agtereenvolgens die grade BSc (Ingenieurswese); MA (Filosofie) en MTh verwerf het.

Hy was tydens sy studiejare aan die Universiteit van Stellenbosch lid van die Studenteraad, bestuurslid van die Stellenbosse Ingenieurs-Studentevereniging, die US Debatsvereniging en Primarius van Huis Marais.

Hy is in 1957 gelegitimeer en in 1960 as predikant van Melville georden. Na twaalf jaar by Melville ontvang hy demissie om hom weer aan verdere studie te wy. Hy het ook elf jaar lank pastorale hulp by die gemeente Bothasig verleen.

Met die doktorsgraad waarmee hy tot onlangs besig was – die tema: “Boweaardse magte en menslike stryd” – het hy na grondige navorsing goeie vordering begin maak. Hy was reeds met sy finale skripsie besig toe hy siek geword het. Hy het sy siekte gelowig en met waardigheid aanvaar, al was hy teleurgesteld dat hy nie sy studie-ideale kon bereik nie.

Danie Malan was ‘n baie besondere mens met ‘n eie persoonlikheid. Hy was baie gesteld op fiksheid en het sy preke op ‘n besondere manier opgestel. Hy was ook in die politiek geïnteresseerd.

In 1972 het hy demissie ontvang vir verdere studie, en hoewel hy in 1979 weer beroepbaar gestel is, het hy voortgegaan as pastorale hulp.

In hierdie tyd het hy sy MA-verhandeling oor “Die gangbare etiek” voltooi. Onder andere was daar in ‘n stadium veel van gemaak dat hy tot toe nie getrou het nie. Hy het self daaroor ‘n verklaring gedoen in Die Vaderland van 2 Oktober 1972. In 1978 is hy wel getroud met Renee van Rosendal en hulle eersteling, die vyfde geslag wat agtereenvolgens die name Daniël Francois dra, is in November 1979 gebore.

Hy word oorleef deur sy vrou, hulle seun, Francois, sy broer Hannes en suster Marietjie Cilliers. (Jaarboek 1994).