Kriel, Gideon Jacobus Petrus

 

GEBORE

5 Jan 1922

oORLEDE

10 Jul 2016

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1951

ORDEN

1952

standplase

1952 Oranjevallei

1956 Tsitsikamma

1960 Koringberg

1968 Windhoek-Oos

1975 Garies

 EMERITEER

9 Mei 1987

DS GIDEON KRIEL (BA) 5 Januarie 1922 — 10 Julie 2016

Gideon Jacobus Petrus Kriel is op 5 Januarie 1922 gebore op die familie-plaas Oukamp, stroomop van Upington in die nabyheid van die Grootrivier. Hy word vernoem na sy vader, Gideon Jacobus Petrus Kriel, ‘n boer wat die boerderytradisie op die plaas voortsit. Sy moeder is Jeannette Sophia Aletta van Zyl, ‘n huisvrou wat haar gesin versorg. Hy begin sy onderwys aan ‘n plaasskool en later in Upington waar hy in standerd 8 die skool verlaat, maar later wel sy matriek voltooi. Hierna werk hy twee jaar lank by die Staats-diens, waarna die roeping so sterk is om predikant te word dat hy in 1945 na Stellenbosch vertrek.

Gideon behaal die BA-graad in 1947 en word student aan die Kweekskool op die Akker en is saam met die CSV aktief betrokke by sendingwerk in die distrik Stellenbosch. Hy word aan die einde van 1951 as proponent gelegitimeer en ontvang ‘n beroep na die NG Gemeente Oranjevallei, waar hy op 15 Maart 1952 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy betree die bediening in die leefwêreld wat hy ken, sy geliefde mense langs die Oranjerivier waar hy die Woord van die Here met oorgawe bring. Hier trou hy op 12 Julie 1952 met mej. Zelda Nel, ‘n getroue jukgenoot in die bediening en sy is in al vier gemeentes wat hy bedien die orrelis. Uit hulle huwelik is vyf kinders gebore: Florette, Jeannete, Christine, Gideon en Willem.

Die Here roep sy dienskneg uit die dorre vlaktes langs die Grootrivier na die waterryke boswêreld langs die kus by Plettenbergbaai en Humansdorp, waar hy op 1 September 1956 leraar word van die NG Gemeente Tsitsikamma. Hier in die groot bos met sy unieke bekoring, ontmoet hy besondere gemeentelede en dit is vir die gesin ‘n ware tuin van Eden.

Op 19 November 1960 word hy leraar van die NG Gemeente Koringberg in die Swartland, ‘n gemeente tussen die saailande, met mense wat gemaklike en nooit-vergeet byname aan mekaar gee. Na agt jaar tussen die Koringberg se boere met hulle gemaklike “Swartland-bry”, loop sy bedieningspad aan die einde van 1968 na die NG Gemeente Windhoek-Oos, waar hy in die Namibiese hoofstad die werk van die Here doen en ‘n nuwe hoofstuk vir hom en die gemeente aanbreek.

Op 8 Maart 1975 word hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Garies, waar hy twaalfjaar en drie maande werk tot met sy aftrede in 1987. Ds. Gideon skryf oor die besondere mense in die gemeente: “Die Namakwalanders was, en is seker nog steeds, mense van geloof, moed en deursettingsvermoë. Niks is vir hulle te veel ofte moeilik nie. Die kuns om veral te hoop op beter dae het hulle orent en koersvas gehou. As die reent wegbly? Dominee, ons verdien mos tog niks van die Here nie, Hy bly tog vir ons buite maat goed en genadig.” Ds. Gideon was ‘n goeie finansier en het in drie gemeentes die skuld afgewerk. Daar was ook krisisse, want hy is in drie motorongelukke wat hy oorleef om sy werk voort te sit.

Nadat ds. Gideon Kriel op 9 Mei 1987 sy emeritaat aanvaar het, vestig die gesin hulle op Kareedouw naby die Oos-Kaapse seekus waar hy kerklik betrokke bly en vyf jaar lank afloswerk doen in die sendingkerk en van tyd tot tyd help in die NG Moedergemeente Kareedouw. Ds. GJP Kriel sterf op 10 Junie 2016 en sy dienstyd word met dankbaarheid in herinnering geroep in die vyf gemeentes wat hy bedien het. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 381)