gestig
23 November 1951
afgestig van
NG Gemeente Upington
Ring
Ring van Upington
Adres
Sesbrugge, Upington
sluit in
MacTaggerts Camp, Koppie-eiland, Damkop-eiland, Klippunt, Sesbrugge, Swartkop en Klipkraal.
eerste predikant
Ds GJP Kriel
Die NG Gemeente Oranjevallei is ‘n gemeente in die Sinode van Noord-Kaapland.
Die Vroeë Verlede
Die geskiedenis van ons gemeente begin op 23 November 1951, toe ons afgestig is van Upington Moedergemeente. Voordat ons daarby kom, sal dit goed wees om eers ‘n draai te maak by die geskiedenis van die streek Noord van die Oranjerivier.
Die Oranjerivier is in 1760 vir die eerste keer deur blankes ontdek. Dit is deur kolonel Jacob Gordon in 1779 na die Stadhouers in Holland – die Huis van Oranje – vernoem. Dit is een van die groot riviere van Afrika en is ongeveer 2030 kilometer (1200 myl) lank. Van Upington laer af in die rivier stort dit oor die asemrowende Augrabieswaterval, om kilometers verder by Alexanderbaai in Namakwaland in die see te vloei. Ander name vir die Oranjerivier is: Die Nyl van Suid-Afrika, Grootrivier en Gariep.
Die land noord van die rivier was geheel en al buite die destydse grense van die Kaapkolonie en ook buite enige Britse gebied. Dit was bewoon deur inboorlinge soos Korannas, Boesmans en Griekwa-stamme. Lank voor die stigting van die Unie van Suid-Afrika het daar al veeboere en jagters na hierdie gebied begin kom.
Daar is begin met sendingwerk onder die Korannas en in 1875 is die Nederduitse-gereformeerde Sendinggemeente, met Eerwaarde C W H Schröder as sendeling, gestig. Die blanke pioniers het hul kinders in die Sendingkerk laat doop en kon die kerkdienste bywoon en Nagmaal gebruik saam met die gemeente.
Die Distrik Gordonia is genoem na Sir Gordon Sprigg, Eerste Minister van die Kaapkolonie en was voorheen bekend as Korannaland. Dit is in 1889 geproklameer en in 1891 vergroot. In November 1895 is die Distrik Gordonia deur wetgewing aan die Kaapkolonie toegesê.
Reeds in 1879 het Sir Thomas Upington, Prokureur-Generaal van die Kaapkolonie en later Eerste Minister, saam met Kommandant McTaggart hierdie dele besoek. Upington was toe nog as “Olievenhoutsdrift” of “Olyven Drift” bekend. As gevolg van hierdie besoek is die dorp se naam verander na “Upington.”
Die blanke bevolking het meer geword en teen 1893 het die christene die noodsaaklikheid gevoel om ‘n eie gemeente te stig. Daar was toe 735 siele. Dit sou nie ‘n afstigting van ‘n deel van enige gemeente wees nie, maar ‘n aparte, selfstandige gemeente wat vanself aangegroei het hier buite die grense van enige van die Kolonies van Suid-Afrika en buite enige kerkverband. Op staatkundige en kerklike gebied het hierdie deel van die land ook buite die Kaapkolonie geval, maar wel in die Britse Protektoraat van Bechuanaland.
Stigting van die Upington Gemeente
Op 19 September 1893 is die Gemeente Upington gestig met ds H T Kriel van Kenhardt as konsulent. Daar was nog nie ‘n predikant of kerkgebou nie en die NG Sendingkerk het hul kerkgebou afgestaan vir Nagmaal. Eerwaarde Schroder het nog huwelike en doop waargeneem in die afwesigheid van die konsulent wat slegs vier maal per jaar die gemeente besoek het. Op 12 Augustus 1895 word ds AGT Schroevers beroep en is hy vanaf 9 Desember 1895 die eerste predikant van die gemeente. In 1895 is Brits Bechuanaland by die Kolonie ingelyf en val Upington voortaan onder die Kaapse Sinode en die Ring van Beaufort-Wes.
Daar is begin met die bou van die kerk en die kerkgebou soos ons dit vandag ken, is ingewy op 13 April. Die kerk is in 1982 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar en die gemeente het in 1993 hul Eeufees gevier. Verskeie gemeentes het van hierdie gemeente afgestig en daarom word dit vandag die Moedergemeente genoem en die kerk die Moederkerk, ‘n bekende en waardige landmerk in Upington.
Die bou van ‘n spoorlyn van De Aar na Upington in 1914, teen ‘n tempo van ‘n myl per dag, het vooruitgang beteken. Upington se strategiese ligging op die grens van Suidwes-Afrika was belangrik en het verder bygedra tot die dorp se ontwikkeling.
Die inwoners van die gebied wat vandag Oranjevallei-gemeente is, was ook deel van die Upington Gemeente. Daar moes vir eredienste, huwelike, doop en nagmaal na die dorp, soos almal in die omgewing van Upington praat, gereis word.
Die Depressie en die vestiging van ‘n Besproeiingskema
Alles kom tot stand deur oorsaak en gevolg en so gebeur daar baie dinge wat bygedra het tot die ontstaan van Oranjevallei. Iets was aan die gebeur onder die beheer van die Opperwese.
Dr Hans Merensky ontdek diamante by die monding van die Oranjerivier, nou Alexanderbaai. Die stories wat met hierdie blinkheid saamgaan, sal nie net een boek vul nie! Die delwerye word deur die Volksraad genasionaliseer en die profyt word aangewend om die verarmdes en finansieel ontwrigtes te rehabiliteer. Sedert 1928 word vrugbare grond langs verskillende riviere, ook die Oranjerivier, aangekoop. Die 1933 se droogte en daaropvolgende depressie gee aanleiding tot groot ellende en armoede. Ook hier kom ‘n staatskema en ‘n nedersetting tot stand en die oewers van die rivier word ontbos om landerye aan te le.
Die mense kry swaar, maar werk hard, sonder geriewe soos ordentlike paaie, voertuie en telefone. Nadat die grond ontbos en gelykgemaak is, meestal op die eilande in die rivier, was hangbrûe die enigste toegang vir baie jare. Die erfboere moes hul produkte op hul rûe oor die hangbrûe dra. Die ou brug na Swartkop-eiland is ongeveer 1939 gebou deur Mnr Piet Broodryk. Seuns moes middae na skool op die erwe help en saans by kerslig hul skoolwerk doen. Die mense se enigste skuiling teen die elemente van die natuur was tente en sinkhuise.
Gedurende 1928 is begin met die Boegoebergdam in die Oranjerivier en in 1935 die Gifkloofdam. Kanale met vertakkings en duik pype na die eilande is al langs die rivier gebou. In 1936 is begin met die ontbossing van Swartkop-eiland en die Kalksluit-eilande, kanale is gebou en die grond gelyk gesleep. Dit is gedoen met spanne muile en donkies wat voor ‘n plat houtskraper ingespan is.
Die eerste skool
Met al hierdie gewerskaf het die mense aangegroei en ontstaan Olyvenhoutsdrift-Noord wat bestaan uit McTaggerts Camp, Damkop-eiland, Koppie-eiland, Klippunt en Kalksluit of Kalksloot. Daar word vertel dat die naam teen ongeveer 1939 deur ‘n mnr Nieuwoudt, Onder-Superintendent van die Departement van Lande, verander is na Sesbrugge, na aanleiding van die baie bruggies oor die spruite van die rivier.
Die ongeletterde kindertjies word ook al meer en op 27 Januarie 1936 word Kalksluit Primêre Skool gestig. Mnr Elema was skoolhoof van die ou sinkskool, tot 1948. Hy word opgevolg deur Mnr D T Longland. ‘n Nuwe skool word gebou en betrek in Januarie 1949. Die rivier staan in September 1949 vir drie maande en die skool word eers in Maart 1950 ingewy, waartydens die naam verander word na Laerskool Joubert, ter ere van Mnr W A Joubert, destydse hoof van die Opleidingskollege Paarl. Na die aftrede van Mnr Longland, was mnre Okkie Fourie, Glen Harvey en Frikkie Borman opvolgende skoolhoofde hier.
Die seuns leer boer
By Louisvale-weg naby Upington is daar ‘n sentrum opgerig deur die Departement van Lande waar jong seuns opgelei was as toekomstige boere. Hulle was in die Hostel gehuisves en het hul prakties op die eilande gedoen – rugbreekwerk. Oom Andries Janse van Rensburg kan vele stories vertel uit hierdie jare.
Die eerste proefhuurders was in 1940 op hul hoewes uitgeplaas en het gaan woon in huise wat gebou is vanaf 1938 op Kalksloot, Koppie-eiland en Klippunt, almal volgens dieselfde plan. Feitlik al hierdie huise is in later jare aangebou of verander.
Die Tweede Wêreldoorlog
Intussen het die buitewêreld ook nie stilgestaan nie. Die Tweede Wêreldoorlog breek uit in 1939 en van die jong manne sluit aan vir militêre diens. Een seun se besluit om “aan te sluit” word ‘n werklikheid toe die matrone een aand geen pleister het om op sy beseerde voet te plak nie omdat: “Alles vir die soldate gaan”. Dit moet alte lekker wees om ‘n soldaat te wees!
Na die vrede van 1945 is daar ook grond uitgegee aan die teruggekeerde soldate, meestal op Koppie-eiland en Klippunt en ook vir ‘n paar op Sesbrugge. Die laaste hoewes is toegeken in 1948. Die Skoolkomitee en Boerevereniging en later Beheerraad, was drie liggame wat hul voortaan beywer het vir meer en beter geriewe in verband met boerdery en opvoeding in die gemeenskap.
Ons vind dit nou dat die bevolking bestaan het uit bos-kappers (die mense wat die lande moes ontbos), slepers (mense wat die grond gelyk moes sleep), die jong manne van die Hostel en die teruggekeerde soldate.
‘n Eie kerkgebou
Met die uitmeet van die bou-erwe het die Departement van Lande ook ‘n perseel uitgemeet vir die kerkgebou. Op hierdie perseel was daar voorheen ‘n winkel, die van mnr Izak Bartlett en ook oom Niklaas Swiegers se slaghuis. Waar die pastorie nou is, was ‘n sinkstoor waar oeste ingelewer en saad vir die volgende oeste gekry is. So word onthou deur tannie Alet Steenkamp.
Gedurende die dienstermyn van ds Weideman in die Upington Gemeente, is daar deur die Kerkraad met behulp van die nodige materiaal wat van die Departement van Lande ontvang is, ‘n tydelike kerksaal op Sesbrugge opgerig waarin gereeld dienste gehou is. Tannie Babs Smith onthou hierdie gebou, wat eintlik soos ‘n sinkstoor gelyk het, baie goed. Sy en ‘n mej. Strauss, die twee ongetroude onderwyseresse, het ook hier kamers gehad. Die gebou is gebruik vir kerkdienste en konserte. Lusernbale met ‘n seil bo-oor het as verhoog gedien. Daar was ook ‘n radio en middae, na ‘n dag se werk op die lande, het die werkers daar kom “draadloos” luister. ‘n Telefoon is later by die sinkstoor, waar die pastorie nou is, ge- installeer.
Volgens oom Fanie Malan, skrywer van “ ‘n Eeu van God se Genade”, was die eerste kerkklok ‘n stuk spoorstaaf wat opgehang is en waarop met ‘n yster geslaan is. ‘n “Regte” klok is later gekry by Kakamas Gemeente. Hierdie klok is nou weer op die kerkterrein opgerig, nadat dit lank by oom Koos Louw in die stoor gebêre was.
Die mense het begin woeker en konserte is gehou om geld in te samel vir die Boufonds. So is “Die Wildsboudjie” opgevoer waarin oom Willie Agenbag die predikant was. Bouwerk is in 1945 begin aan ‘n kerkgebou vir die gemeenskap. Die koste is gedra deur Upington Gemeente. Die bouers was Le Mauter & Seun. Met ongeduldige afwagting is die vordering dopgehou, dankbaar dat die Here weer voorsien het.
Op 25 November 1945 is die nuwe kerk met groot vreugde ingewy. Ds Steenkamp het ‘n gebed by die oopsluit van die deur gedoen en ds Weideman het die preek waargeneem. Die predikante van Upington was baie besig in die groot gemeente en so gebeur dit dat daar ook in die middel van die week kerkdienste op Sesbrugge gehou is waartydens kinders gedoop is, soms selfs ook op ‘n Maandag!
Die kerkgebou waarin ons nog Sondag vir Sondag aanbid, is met weinig veranderings, nog die oorspronklike gebou.
Gedurende hierdie tyd was dit nog slegs ‘n preekpunt sonder ‘n gemeente, maar ‘n eie kerkgebou het die gemeenskap nader aan mekaar gebring en dit makliker gemaak om besluite te neem wat almal sou raak en wat die verkondiging van die Evangelie sou bevorder.
Ons eie gemeente
In die feesblad van Laerskool Joubert, vertel Mnr DT Longland, skoolhoof vir twintig jaar, dat ds Leon Steenkamp van Upington teen ongeveer Mei 1949 met hom kom praat het oor afstigting. Hy het egter gevoel dat die mense nog te verdeeld was na die oorlog. Daar was nog altyd wrywing tussen die persone wat militêre diens gedoen het en die wat tuisgebly het. Hy was oortuig daarvan dat die skool hulle bymekaar sou bring.
Met die bou van die skoolsaal uit die ou skool se materiaal, het dit dan ook gebeur. Binne drie dae het vyf-en-twintig vrywilligers ‘n saal aanmekaar getimmer terwyl daar oor en weer geskerts is oor wie gaan veg het en wie tuisgebly het. Die saal kry die gepaste naam van die “Saamwerksaal”.
Hierdie saal is tot en met 1979 deur die kerk gebruik vir basaars, konserte, vergaderings, predikante se Afskeidsgesellighede of verwelkomings, filmvertonings, huweliksonthale en ook om kerk in te hou as daar aan die kerkgebou gewerk is.
Die Upington Gemeente het in hierdie tyd, 1949 – 1951, so in getalle toegeneem dat daar ernstig aan afstigting van kleiner gemeentes aandag gegee is. Die kerkraadslede wat gereeld vir kerkraadsvergaderings na Upington moes gaan, het ook op ‘n punt gekom waar hulle hierdie saak begin bespreek het.
Mnr Longland was as hoof-ouderling van die Sesbrugge Wyk baie betrokke by besprekings en onderhandelings. Op 12 Oktober 1951 het die Kerkraad se komitee wat daarmee gelas was, aanbeveel dat wyke afstig en gemeentes vorm, onderandere die wyke Sesbrugge, Klippunt, MacTaggerts Camp, Cnydas en Langklip. Die wyke Cnydas en Langklip het verkies om nie aan afstigting mee te doen nie en het deel van Upington gebly. Op 31 Oktober 1951 is besluit dat die wyke Sesbrugge, Klippunt en MacTaggerts Camp sal afstig.
Dit was die derde dogtergemeente wat van die Moedergemeente sou afstig.
Afstigting
Op Vrydagaand 23 November 1951 is die afstigtings vergadering gehou. Ds Frikkie Brand, voorsitter van die Ring van Kenhardt en ander predikante was teenwoordig. Die nuwe gemeente word genoem “Oranjevallei”. In die gemeente word ingesluit MacTaggerts Camp, Koppie-eiland, Damkop-eiland, Klippunt, Sesbrugge, Swartkop en Klipkraal. Die gemeente ontvang ‘n bruidskat van 2000 pond van Upington.
Die Eerste Ampsdraers
Oom Jan Crafford is aangestel as koster, oom Jan van der Merwe as orrelis en mnr D T Longland as skriba-kassier. Daar word vertel dat die traporreltjie van tannie Totie Oosthuizen geleen is vir begeleiding tydens eredienste.
Die Kerkraad het bestaan uit:
- Ouderlinge: H C Kriel, M M van Zyl, D T Longland, S Rousseau en C P Agenbag.
- Diakens: J H Flynn, C P J Smith, J A Engelbrecht, D Liebenberg, F Coetzee en J H van der Merwe.
Die Eerste Dopelinge
Daar was nog nie ‘n predikant nie en die predikante van Upington het beurte geneem om te preek en die sakramente te bedien. Die eerste dopeling was Tobias Nicolaas (Nico) Hanekom, seun van Hendrik en Nelie Hanekom, gebore 2 Augustus 1951 en gedoop op 9 Desember 1951.
Die gemeentelede is verheug om ‘n eie gemeente te hê en almal het hulle gewig ingegooi, soos gelees kan word in die bydraes van verskeie gemeentelede. Gedurende die eerste jaar is die volgende kinders gedoop:
Petrus J J Augustyn, Philippus R de Wet Botha, Maria A Brandt, Jane MD Coetzee (groot gedoop), Jeanette F Cloete, Maria M Crafford, Hendrik J de Beer, Tobias Nicolaas Hanekom, Wynand L Hanekom, George A Y Hanekom, Johanna M Kriel, Rose-Mary E Louw, Willem J Lesch, Stephanus H Lombaard, Anna M Lombaard, Gerta JA Maritz, Anna M Muller, Annette O’Callaghan, Salomon J Poggenpoel, Susanna M Poggenpoel, Johannes W Pool, Magrietha J Rupping, Elsie J Steyn, Alida Truter en Andries W Jansen van Rensburg.
‘n Stap terug
Gedurende ds Vrey se bedienings periode het getalle redelik gekrimp by Oranjevallei, veral na die vloed van 1974 en wat daarmee gepaard gegaan het. Moedergemeente daarenteen het ‘n groot getal besoekpunte gehad, ongeveer 800, wat die koshuise en woonstelle van die dorp ingesluit het. Die werkslading was te veel vir twee predikante. Ds Vrey se besoekpunte was ongeveer 70 en die twee kerkrade het gevoel dat samesmelting ‘n oplossing sou bied. Oranjevallei het finansieel swaar gekry en dit kon help as ds Vrey hier ‘n pos beklee en ook ‘n bydrae kon lewer om die werkslading in Moedergemeente te verlig.
Na ‘n reeks vergaderings, ongeveer 1980/1981, is daar tot ‘n ooreenkoms gekom vir samesmelting. Die tegniese sy was nie van belang, die groot saak was die bediening van die Evangelie van Jesus Christus. By die Noenieput Ringsitting in 1981 is toestemming gegee vir eenwording met Moedergemeente. Dr Hendriks, wat die hele saak bestuur het, het nooit eenwording toegepas nie, maar kombinasie en Oranjevallei het alles behou soos sy eie kategese, vrouediens, kerkraad en preekpunt. Dr Hendriks het in Oranjevallei gewerk en ds Vrey het ‘n blok in die dorp bedien.
Die Uizip- projek is ontwikkel en dr Hendriks en ds Pieter Theron het ook ‘n aktiewe rol hier gespeel. Die boere van Sesbrugge, waaronder Freddie Crafford, Koos Louw, Basie Crafford, Jan Cilliers, Daan Thomas en andere, het baie gehelp met die ontwikkeling van die projek. ‘n Hele paar dinge het hierna gebeur wat daartoe aanleiding sou gee dat daar sekere veranderinge sou plaasvind.
Ds Vrey het in 1983 uit die bediening bedank. In sy plek is ds Jannie du Plessis beroep met standplaas Sesbrugge. In 1984 is Dr Hendriks na die Kweekskool op Stellenbosch beroep en ds Theron het na Tsumeb vertrek. Daar het nou nie ‘n predikant in Upington Moedergemeente gewoon nie. Upington is as die hoofpunt beskou en daarom gaan woon ds Jannie in ‘n pastorie op Upington.
Vroeg in 1985 word twee beroepe uitgebring, een persoon om ds du Plessis in Moedergemeente te help en een persoon met standplaas Sesbrugge.
Ds Gert Barnard se verbintenis met Oranjevallei begin in Maart 1985 nadat hy die beroep aangeneem het. Die ander persoon was ds Louw wat ‘n pastorie in Upington betrek het. Ds Barnard is op 8 Maart 1985 bevestig, sy intreepreke was op 10 Maart in Moedergemeente en op 17 Maart op Sesbrugge, onderskeidelik.
Weer ‘n Eie Gemeente na 10 Jaar
Intussen het die tyd aangeloop. Die besoekpunte in die sentrale deel van die dorp het minder geword. Soos wat sakepersele ontwikkel het en die Spoorweë feitlik tot stilstand gekom het, het die hele dorpsgebied rondom die Spoorweg-aanleg, wat deel van Moedergemeente was, tot niet gegaan.
Daar is weer besin oor die lewensvatbaarheid van drie predikante. Sesbrugge het sterker geword in sy geheel, soos wat nuwe intrekkers in huise wat leeg gestaan het, ingetrek het. Ds Barnard en die sewe kerkraadslede het gevoel dat die gemeente weer selfstandig die mas kon opkom en selfstandig sou kon funksioneer. Dit sou vir praktiese redes vir die bediening die beste wees.
Dominees Jannie, Gert en Louwtjie het ook bymekaargekom en dit bespreek. In 1987 het die eerste geluide ook by die gemeente begin, van: “kan ons nie maar weer ‘n gemeente word nie?” In 1988 het ds Barnard verder gaan studeer vir sy M-graad in Pastoraat en in Februarie 1988 het die vloed gekom. Finansieel was dit onmoontlik om nou af te stig. In 1989 is weer dieselfde vrae gevra en in 1990 is daar weer ernstig beplan. Die Beplanningskomitee bestaande uit ds Barnard, Basie Crafford, Jasper Luttig en Gert Gagiano het die pad geloop en met Moedergemeente en die ouditeure gepraat. Aan die begin van 1991 is ‘n ondersoek geloods om weer die gemeente se gevoel te toets en elke gemeentelid het onderneem om ‘n maandelikse dankoffer van R45.00 by te dra.
Aansoek vir afstigting is gedoen by die Ringsitting op Askham in 1991. Dit is goedgekeur dat Oranjevallei weer ‘n gemeente kon word. Dit was weereens vreedsaam en met goeie gesindheid gedoen soos tuishoort by die Gemeente van Christus. Sedert 1991, onder die bestuur van die Kerkraad en ds Barnard, gaan die gemeente van krag tot krag.
Die Regskommissie van die Algemene Sinode het ook toestemming gegee dat die stigtingsdatum van die gemeente 23 November 1951, bly. As ‘n gemeente gestig word, ongeag wat daarmee gebeur, bly die stigtingsdatum dieselfde. So kon die Gemeente alreeds in 1991 daaraan dink om oor tien jaar, in 2001, fees te hou. Gedurende die naweek van 16 -17 November 1991 word die Barnard-gesin verwelkom in Oranjevallei, hul eie gemeente. (Geskryf deur ds Gert Barnard).
Predikante
- Gideon Jacobus Petrus Kriel, 1952 – 1956
- Jean Louis du Plessis Raath, 1957 – 1961
- Pieter Cornelis Jooste, 1962 – 1964
- J D Nelson, 1965 – 1968
- Jacobus Frederick Fourie, 1969 – 1973
- Hendrik Matthys Jacobus Petrus Blaauw, 1974 – 1977
- Gert Jacobus Vrey, 1978 – 1983
- In die 10 jaar wat Oranjevallei weer deel was van Upington werk dr H J Hendriks, J J H du Plessis, G J Vrey en G P Barnard saam.
- Gert Petrus Barnard, 1991 – hede