Burgers, Gert Stephanus

Ds GS Burgers

Gebore

25 Jul. 1925

OORLEDE

08 Febr. 2003

UNIVERSITEIT

BA (PU vir CHO); Dipl. Teol. (UP); BA Hons (UOVS); MA (UOVS); DPhil (UOVS)

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASE

1953 Maltahöhe

1958 Eendracht

1962 Greymont

1965 Swakopmund

1967 Witfield

1971 Rietfontein-Winburg

1975 Boksburg-Suid

EMIRITEER

21 Aug. 1986

Fanie Burgers is op 25 Julie 1925 op Frankfort in die Vrystaat gebore. Sy vader was Hendrik Petrus Burgers en sy moeder Susanna Maria Claassen. Hy het die plaaslike laerskole Waaihoek (1933) en Erfdam (1933-1938) bygewoon, en later sy hoërskoolopleiding aan Frankfurt (1939-1941) en die Hoër Volkskool Heidelberg voltooi (1944-1945).

Fanie het aan vier universiteite gestudeer. Van 1946 tot 1948 het hy aan die PUK vir CHO gestudeer en die BA-graad behaal. Van 1949 tot 1951 was hy ‘n student aan die Kweekskool op Stellenbosch, maar hy het sy Diploma in Teologie in 1952 aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Later, in 1972, het hy die graad BA Hons aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Hier het hy sy studies voortgesit en ook die grade MA (1974) en DPhil (1980) voltooi. Die temas van sy verhandelings was onder meer: “Die betekenis van die Sondagskool vir kerk en samelewing”, “Kunsmatige inseminasie by die mens – ‘n kritiese beoordeling”, en “Die Christelike huisgesin se lewensomvattende opvoedingstaak onder leiding van die geloofsuitgang van die hart”. Hy is in 1952 gelegitimeer.

Op 20 Januarie 1951 het dr Burgers in die huwelik getree met Thiesa Fourie. Uit die huwelik is vier kinders gebore, Ina (1952); Ria (1954); Hennie (1955) en Thiesa (1956); Daar is reeds elf kleinkinders en drie agterkleinkinders.

In sy bediening van 34 jaar het dr Burgers sewe gemeentes bedien. Sy eerste gemeente was Maltahöhe waar hy in 1953 georden en bevestig is. Hier het hy ‘n bouprojek op die sendingstasie te Omaruru in 1955 geïnisieer. Na vyf jaar het hy na die gemeente Eendracht in Oos-Transvaal verskuif waar hy in April 1958 bevestig is. Vier jaar later het hy ‘n beroep na die Greymount-gemeente in Natal aanvaar. Na drie jaar het hy teruggekeer na die destydse Suidwes-Afrika, en is hy in April 1965 op Swakopmund bevestig. Die eerste stranddienste op Swakopmund en Hentiesbaai is deur hom georganiseer.

Daarna het die Here hom weer na Suid-Transvaal geroep, waar hy in 1967 op Witfield bevestig is. Vier jaar later het hy ‘n draai in die Vrystaat gemaak en die gemeente Rietfontein-Winburg bedien. Sy laaste gemeente was Boksburg-Suid in die Suid-Transvaal (1975); Sy gemeentewerk het hy met uiterste nougesetheid gedoen en altyd ‘n goeie verhouding met sy kerkraad gehandhaaf.

Op die breër kerklike terrein het hy in die Sinodale Sendingkommissie in SWA, Suid Transvaal en die Vrystaat gedien (as voorsitter en skriba); Hy was ook voorsitter van die Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid in die Suid-Transvaal, voorsitter van die CMR, voorsitter van die Ring van Boksburg, en ‘n lid van Dr Burgers het op 21 Augustus 1986 weens swak gesondheid geëmeriteer en op Pietersburg gaan woon, waar hy nog vir ses jaar as ouderling gedien, preekbeurte waargeneem en Bybelstudies gelei het. Hy was ook voorsitter van die eerste komitee vir hulp aan agtergeblewenes in Pietersburg. Vir tien jaar het hy enkelouers en gesinne met verhoudingsprobleme in Pietersburg ondersteun. In 1996 het hulle na Boksburg verhuis waar hy nog steeds op uitnodiging gepreek en siekebesoek gedoen het. Op 8 Februarie 2003, presies vyftig jaar nadat hy in sy eerste gemeente bevestig is, is dr Burger in die Sunwardpark-hospitaal opgeneem en is hy oorlede.

Op sy begrafnisbrief verskyn foto’ s van hoe sy dierbares hom onthou: as jong predikant, as bedienaar van die Woord, skrywer, visserman, jagter, kok, gesinsman en kapelaan. Sy vriende en familielede sien hartlik uit na die dag wanneer hulle hom weer sal ontmoet deur God se genade. (Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 26 Jan. 1997 ingevul het, en ‘n huldiging wat op sy begrafnisbrief verskyn het.) (Jaarboek 2004/346).