Potgieter, Jacobus Ernst

Ds. Potgieter Jacobus

gebore

12 Mei 1921

oorlede

18 Aug 2020

universiteit

BA; BD (UP)

Gelegitimeer

1946

Orden

1947

Standplase

1947 Dalunie

1955 Pretoria-Oos (Studenteleraar)

1960 Universiteitsoord (Studenteleraar)

1968 Suidoos-Pretoria

1980 Krokodilrivier

Emeriteer

1988

Ds Kobus Potgieter was moderator van Noord-Transvaal se sinode, en ook van die Algemene Sinode. Hy was by sy dood die oudste predikant in die NG Kerk.

Iets van sy liefde vir die kerk was aansteeklik: Buiten dat hy self die seun was van ds ST Potgieter, was sy seun ST Potgieter ook ‘n predikant. Sy dogter Marthinet is met prof Nelus Niemandt getroud. Sy kleinseun Andries Dewald Niemandt is ook ‘n predikant en is getroud met ‘n predikant Doret Müller Niemandt. Sy ander kleinkind Doret Koch is met dominee Marco Koch getroud.

DS KOBUS POTGIETER (BA, BD) 12 Mei 1921 — 18 Augustus 2020

Jacobus Ernst Potgieter is op 21 Mei 1921 gebore in Benoni, standplaas van sy vader ds. ST Potgieter, toe spoorweg-leraar van die NG Kerk in Transvaal. Kobus se oupa was Koos Potgieter, ‘n boer by Calitzdorp en Buffeljagsrivier naby Swellendam. Drie van sy vier seuns boer, terwyl ST Potgieter predikant word en ‘n leeftyd lank leraar is van die NG Gemeente Delareyville. Ds. ST en Johanna Potgieter is kerklike baanbrekers in die streek en hy het sewe seuns.

Die jong Kobus begin sy skoolopleiding in 1927 aan Laerskool Delareyville. Sy vader wou net die beste opvoeding vir sy seuns gee, daarom stuur hy Kobus in 1935 na Heidelberg (Tvl.), destyds ‘n bekende laer- en hoërskool, waarheen ouers oor die land heen hulle kinders stuur. Dit was eintlik ‘n kerkskool, met uitstekende personeel en ‘n groot skoolkoshuis, met die bekende mnr Stephen Eyssen as skoolhoof. Die dorp aan die Suikerbosrand was bekend as ‘n opvoedkundige en kultuursentrum in Transvaal. Leraars aan die bekende NG Klipkerk te Heidelberg (Tvl.), soos ds. AJ Louw en ds. PJ Viljoen, het ‘n blywende indruk op die leerlinge gemaak. Hier matrikuleer Kobus in 1939 aan die Hoërskool Heidelberg (Tvl.). Hy blink uit in tale en geskiedenis, terwyl hy viool in die skoolorkes speel. Hy voel geroepe om soos sy vader predikant te word en studeer van 1940 tot 1945 aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA- en BD-grade verwerf. Hy is ‘n inwoner van Sonop-koshuis en is in 1945 lid van Tukkies se studenteraad. Ander lede was Gerrit Viljoen, Punt Jansen en Piet Stofberg, wat later bekende figure sou word. Na sy legitimasie aan die einde van 1946 word hy op 22 Februarie 1947 leraar van die NG Kerk te Dalunie, ‘n gemeente wat bestaan uit tabak-, koring- en groenteboere naby Brits.

Ds. Kobus Potgieter was met sy aankoms in Dalunie ongetroud en bly ses jaar ‘n oujongkêrel, totdat hy in 1952 tydens ‘n boottoer na Europa ‘n jong onderwyseres Mercia van der Merwe van De Aar, ontmoet. Die romanse vorder vinnig en hulle trou op 13 Desember 1952 in die NG Kerk Bellville-Wes. Uit die huwelik is twee kinders gebore, ‘n seun ST en ‘n dogter Marthinet.

Op 20 Februarie 1955 word hy studenteleraar in die NG gemeente Pretoria-Oos. Met die afstigting van Universiteitsoord by Tukkies, word hy op 4 September 1960 leraar van die studentegemeente. Hulle pastorie was

‘n tweede ouerhuis vir studente en een jaar het ds. Kobus aangeteken dat daar 3 000 studente by hulle huis aangedoen het. As leraar was hy intens betrokke by die bouprojek van die pragtige kerkgebou, ook met konserttoere om geld in te samel vir die bouprojek. Op 14 Januarie 1968 word hy leraar van die NG Gemeente Suidoos-Pretoria en op 26 Januarie 1980 word hy leraar van die NG Gemeente Krokodilrivier by Brits, waar hy werk tot hy in 1988 sy emeritaat aanvaar. Hierna het hy steeds as man van God mense aangeraak met sy liefde en die Woord met mense gedeel. Hy word later lidmaat in die NG Gemeente Weltevreden, waar sy skoonseun ds. Nelus Niemandt, die polisiekapelaan is. Lidmate onthou die oorgawe waarmee hy jare lank Bybelstudies aangebied het. Hy was oral baie geliefd en lidmate het dekades lank kontak met hom gehou.

As lojale kerkman dien ds. Kobus Potgieter die NG Kerk op wye sinodale akkers. Hy was moderator van Sinode Noord-Transvaal (1975-1983) en moderator van die Algemene Sinode (1982-1986). Na die aanvaarding van “Kerk en Samelewing” volg ‘n stroom-versnelling in die NG Kerk, waarmee ds. Kobus Potgieter in sy fynbesnaarde gemoed by tye worstel. Maar nooit kon iemand twyfel aan ds. Kobus se integriteit en eerlike lojaliteit aan die NG Kerk nie. Ons eer hom as fort van vrede in kerklike storms.

Ds. Kobus Potgieter was net soos sy vader ‘n goeie prediker, ‘n ware evangelis, ‘n nederige en ‘n minsame mens, wat vreugde gevind het om mense by Jesus uit te bring. Hy was lief vir mense en sy opregte belangstelling en warm menslikheid maak van hom ‘n ware pastor. Dit word gevoed met omgee diep uit sy hart. Hy kon spontaan ‘n geselsie aanknoop, mense se diepste pyn en hartseer aanraak en help op pad na genesing. Hy was altyd hoflik en sy deernisvolle kyk het die storie vertel van iemand wat op ‘n nederige en innige manier verhoudings gebou het.

Sy skoonseun, prof Nelus Niemandt skryf: “Ons dink aan sy ryk en geseënde lewe. Hy was ‘n diep gelowige mens wat sy hele lewe aan die Here gewy het. Sy lewe het getuig van diep afhanklikheid en byna kinderlike vertroue in die sorg en goedheid van God. Hy het Christus se kerk sy hele lewe lank passievol gedien, en soos hy ouer geword het veral deur die diens van gebede.”

Op 18 Augustus 2020 sterf ds. Kobus Potgieter (99) en verloor die NG Kerk nie net sy oudste leraar nie, maar groet ons ‘n geslag predikante wat met ‘n eiesoortige vroomheid en outentieke bedieningstyl, die Here se kerk op voetsoolvlak gedien het. Hy is dae voor sy afsterwe positief getoets vir Covid-19. Sy gebede om na die Vaderhuis te gaan is verhoor. Suster Nicky van Lynnwoodoord skets die aangrypende toneel toe die begrafnisondernemers hom met sonsopkoms kom haal. Sy staan en kyk hoe hy weggery word in die sonsopkoms in en hoe die voertuig in die helder lig inry, voorwaar ‘n besondere oorstap na die Vaderhuis.

Iets van sy liefde vir die kerk van die Here bly aansteeklik. Met sy dood word die NG Kerk se aflosstokkie aangegee na sy seun dr ST Potgieter, met sy vrou Eljo. Sy dogter Marthinet is getroud met prof Nelus Niemandt en sy kleinseun ds. Andries Dewald Niemandt en sy vrou ds. Doret (Muller) Niemandt is ook in die bediening. Sy ander kleinkind Doret, is met ds. Marco Koch getroud. Oom Kobus, geniet die hemel stad waarheen jy so reikhalsend uitgesien het. — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 388)