Gebore
1957
oorlede
–
UNIVERSITEIT
BA BD (Dipl Teol) DD (UP)
gelegitimeer
1981
ORDEN
1983
standplase
1983 Triomf (Kpln SAPD)
1987 Weltevreden (Kpln SAPD tot 1987)
2007 Dosent Teologiese Kweekskool UP
2016 Demissie Weltevreden
2020 Rektor Hugenote Kollege
EMERITEER
–
Cornelius Johannes Petrus Niemandt het aan die Universiteit van Pretoria studeer, reeds as studenteleier die aandag getrek, en in dogmatiek en etiek gepromoveer met as proefskrifonderwerp Sosialiseringsmodelle vir die hantering van multikulturaliteit teologies-eties beoordeel. Hy was as polisiekapelaan verbonde aan die NG gemeentes van Triomf en Weltevreden, en dien later as gemeentepredikant van Weltevreden. Niemandt het gou in die breër kerklike lewe ’n rol begin speel, en was aktuarius en moderator van die Sinode van Suid-Transvaal (nou Hoëveld), en aktuarius, assessor (ondervoorsitter) en moderator van die Algemene Sinode van 2013 (waarvan sy skoonvader, ds Kobus Potgieter, in 1982 die moderator was). Hy het ’n prominente aandeel gehad aan die vernuwing van algemene sinodale strukture in die vroeë 2000’s, die verbetering van verhoudings met die lede van die NG Kerkfamilie in die vroeë 2010’s, die voorlopige aanvaarding van die Belydenis van Belhar deur die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2011, en die verbreding van dié kerk se ekumeniese verhoudings met kerke wêreldwyd en veral ook in Afrika tydens sy moderatorstermyn. In sy dienstyd is in 2015 probeer om die Belydenis van Belhar as “opsionele” belydenisskrif deel te maak van die belydenisgrondslag van die NG Kerk, maar dié voorstel kon nie die vereiste twee-derde meerderheid van die betrokke kerkvergaderings kry nie. Hy steun die positiewe besluit van die Algemene Sinode van 2015 oor homoseksuele verbintenisse, en spreek sy teleurstelling uit oor die 2016-besluit wat dit omgekeer het.
In 2007 het Niemandt ’n beroep aanvaar as professor in Missiologie aan die Universiteit van Pretoria. In dieselfde jaar het sy boek Nuwe drome vir nuwe werklikhede – Geloofsgemeenskappe in pas met ’n postmoderne wêreld verskyn. Dit is beskryf as “die belangrikste boek op die Suid-Afrikaanse kerklike toneel oor die afgelope klompie jare.” In 2013 verskyn ’n verdere boek van hom, Nuwe leierskap vir nuwe werklikhede.
In 2020 word hy aangestel as die Rektor van die Hugenote Kollege te Wellington.
BRON: Die elektroniese Christelike Kernensiklopedie
Prof Nelis Niemandt is die skoonseun van ds Kobus Potgieter, die vader van ds Dewald Niemandt en skoonpa van ds Doret Niemandt en ds Marco Koch. Hy is ook die swaer van dr ST Potgieter.