GEBORE
16 Jun. 1928
OORLEDE
13 Jun. 2002
UNIVERSITEIT
BA, BD (UP), D.Th (Leiden)., DPhil (Wits)
gelegitimeer
1952
ORDEN
1953
standplase
1953 Dannhauser
1958 Parkhurst
EMERITEER
25 Nov. 1985
Die Kerkbode skryf oor dr Jan van Rooyen: “Ons bring hulde aan ʼn teoloog wat gepraat het soos sy gelowige gewete aan hom voorgeskryf het – al was dit meermale teen die stroom in.
“Hy het ʼn belangrike rol gespeel in die Transvaalse kerk veral in die stormagtige jare na die Cottesloe-beraad. Hy was lank betrokke by die Christelike-Instituut van dr Beyers Naudé, maar het later ʼn ander rigting ingeslaan en hom van dr Naudé gedistansieer.
“Dr Van Rooyen was ʼn navolger van die Nederlandse teoloog AA van Ruler en het in verskeie publikasies Van Ruler se opvattings uitgebou,” skryf Die Kerkbode.
Jan (“Pyp”, soos sy studentemaats hom genoem het) is op 16 Junie 1928 op Garies gebore. Sy vader was die bekende ds. JHP van Rooyen wat die grootste deel van sy bediening ook aan die Rand deurgebring het. Sy moeder was Maria Magdalena Petronella (voorheen Greyling); Hy was in sy laerskooljare op die skoolbanke van die Laerskool Pietersburg (1934 tot 1938) en Turffontein-Johannesburg (*1939); en het van 1940 tot 1944 aan die Hoërskool Helpmekaar onderrig ontvang.
In 1947 het ʼn BA-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal en in 1951 die BD-graad. In November 1952 is hy gelegitimeer en het hy ʼn beroep na Dannhauser in Natal aanvaar. In 1958 het hy na die gemeente Parkhurst in Johannesburg verskuif (die gemeente het later Parkkruin geword) waar hy die res van sy bediening deurgebring het.
Tydens sy jare in Parkkruin het hom vir verdere studie aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf (*1959 tot 1962) en later aan die Universiteit van Utrecht in Holland (1963 tot 1964) gestudeer onder die leiding van AA van Ruler.
In 1964 het hy die DTh-graad voltooi. Later het hy ook nagraads. aan die Universiteit van die Witwatersrand (1986 tot 1990) gestudeer en die graad DPhil is in 1990 aan hom toegeken.
Wat die breër kerklike lewe betref, het hy in Natal in die Sinodale Kommissie, die Sendingkommissie en die Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid gedien. Hy was ook voorsitter van die Ringsendingkommissie (1954 tot 1985) en voorsitter van die SSK (1975-1985).
Net voor sy proponentsjaar, nog in Pretoria, het Jan met Jopie de Bruyn getrou. Hulle is met drie kinders geseën: Jopie, Jan en Henk. In 1997 het hulle reeds ses kleinkinders gehad.
Op 25 November 1985 het dr Van Rooyen weens hartprobleme emeritaat aanvaar. Hulle het in Pretoria bly woon en hy het hom hoofsaaklik op sy studies toegespits.
Dr Van Rooyen was ʼn groot voorstander van kerklike eenwording. Sy publikasies is indrukwekkend. Sy proefskrif vir sy DTh-graad gaan oor: “Kerk en Staat – ʼn vergelyking tussen Kuyper en Van Ruler”. Vir sy DPhil was sy proefskrif se tema: “Die NG Kerk en apartheid en die Christelike Instituut van Suider-Afrika”.
Verder verskyn uit sy pen: Profetiese roeping van die kerk met betrekking tot die staat, Die NG Kerk en apartheid, Weg en dwaalweg van die Kerk en dr Beyers Naudé, en die brosjures: “Kommunisme en die kerk”, “Kerklike tug – ʼn heilige saak” en “Durf ons swyg?”
Dr Van Rooyen is op 13 Junie 2002 aan ʼn hartaanval oorlede. Sy begrafnis was op 18 Junie vanuit die NG Gemeente Lindenpark.
(Dirk Viljoen, na aanleiding van die gegewens in sy biografiese vorm wat hy op 32/01/1997 ingevul het, sowel as berigte in Die Kerkbode.)