Van Loon, Hercules

GEBORE

OORLEDE

26 Jun. 1704

UNIVERSITEIT

Franken

gelegitimeer

1694

ORDEN

1694

standplase

1694 Kaapstad

1696 na Batavia en Holland

1700 Stellenbosch

EMERITEER

Ds. Hercules van Loon, (1695) Kaapstad 1695-1697, Stellenbosch 1700 tot 1704, obiit 1700. (Jaarboek).

Ds. Hercules van Loon (Onbekend – Stellenbosch, 26 Junie 1704) was die eerste leraar van die NG gemeente Stellenbosch en die twaalfde leraar wat in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika bevestig is nadat almal voor hom, buiten ds. Pierre Simond, diens gedoen het in die NG gemeente Kaapstad. Van Loon is in 1686 as student in Franken in Friesland ingeskryf. Op 16 Junie moes hy praeparatoir voor die Klassis van Gouda geëksamineer word om beroepbaar te kon wees, maar hy het nie opgedaag nie en gewoon weggebly. Luidens gerugte was dit omdat hy nie kon verklaar nie dat hy dit oneens was met die leer van prof. Roël, sy leermeester. Roël was van 1685 tot 1704 professor in die godgeleerdheid te Franeker. Hy het die leerstuk van die ewige generasie van die Seun van God op ‘n ander wyse verklaar as wat in die Hervormde Kerk gangbaar was. Ook was hy ‘n navolger van Coccejus. Daar het ‘n sterk verset teen sy opvattings gekom en in 1691 het die Sinode van Suid-Holland dit as ‘n hoogs verderflike kettery gebrandmerk en het twee jaar later vrae hieroor opgestel wat deur proponente by hulle toelating beantwoord moes word. Van Loon moes dit dus ook doen, want die Klassis Gouda het onder die Suid-Hollandse Sinode geval. Op 13 April 1694 is hy egter deur die Klassis Amsterdam vir die Indiese Kerk geëksamineer en het by hierdie geleentheid oor Psalm 1:1 gepreek. Hierop is hy toegelaat en georden. Hy het op 9 September 1694 aan die Kaap gekom en die dienste daar tot aan die koms van ds. Petrus Kalden op 30 November 1695 waargeneem. Op 4 Desember 1695 is hy met die Nigtevecht na Indië. Ds. Van Loon kon nie aard in die klimaat van Indië nie en het reeds in 1696 na Holland teruggegaan. Dit is nie bekend of hy daar predikant was nie. In Maart 1700 het hy met die skip Oosterstein weer in die Kaap aangekom en die diens in die Stellenbosch aanvaar waartoe hy deur die bewindhebbers in Holland benoem is. Hy was getroud, waarskynlik in Holland, met Maria Engelbregt. Hulle het hul testament op 14 Mei 1700 gemaak en op 28 Mei 1703 is hulle eerste kind, Philippus, gedoop. Van sy werk is weinig bekend. Wel kry ’n mens die indruk dat hy dit met ywer aanvaar het, aldus prof. S.P. Engelbrecht.

Op 26 Junie 1704 het hy ‘n tragiese einde gehad. Hy het op daardie dag van sy plaas wat dig by Stellenbosch geleë was (hy het Warburg en Hercules Pilaar besit), na sy huis gery en, soos die reisiger Kolbe verhaal, “zich zelven met een pennemes den hals afgesneden, zonder dat iemand ooyt heeft geweten, waar door hy tot die wanhoop vervallen is”. Sy weduwee het dit blykbaar moeilik gehad. Sy is op 10 Maart 1710 deur die Politieke Raad as doodgrawer aangestel. Met die Van der Stel-twiste het sy haar ook nog laat hoor en was ‘n warme verdediger van Willem Adriaan van der Stel. Kolbe is onvriendelik oor haar, maar hy is baie bevooroordeeld teen persone wat in hierdie saak aan die Van der Stel kant betrokke was. Op 27 Julie 1710 is sy op Stellenbosch deur ds. Henricus Beck hertroud met die sekunde Willem Helot, wat wewenaar was. Hy het ná die dood van goewerneur Louis van Assenburg in Desember 1711 as waarnemende goewerneur opgetree tot 28 Maart 1714, toe die nuwe Goewerneur ingehuldig is. Helot is in Mei 1714 op oneervolle wyse as sekunde ontslaan en na Holland teruggestuur. (Geskryf deur Morne van Rooyen).