
gebore
5 Mei 1910
OORLEDE
23 Mei 1985
UNIVERSITEIT
UKOVS en US
gelegitimeer
1935
ORDEN
1938
standplase
1938 Worcester
1945 Makwassie
EMERITEER
1971
Ds. Johan Wilhelm (Willie) Smalberger (5.5.1910 – 23.5.1985) was – ofskoon die vader en ‘n broer van die Suid-Afrikaanse stamvader meer as 90 jaar lank (1716-1807) die evangelie in die Duitse dorpie Lohrhaupten bedien het – die eerste en tot dusver die enigste predikant van ons kerk wat die familienaam gedra het. Uit Dealesville in die Vrystaat afkomstig, geniet hy sy laerskoolonderrig op die dorp. Sy hoërskool- en universiteitsopleiding ontvang hy aan Grey-Kollege en die ou UKOVS in Bloemfontein en sy teologiese vorming op Stellenbosch. Einde 1935 gelegitimeer, dien hy op Prins Albert as hulpleraar voordat hy op 5.2.1938 georden en bevestig word op Worcester, waar sy vader net na die plegtigheid skielik sterf. In April 1945 word hy die leraar van Makwassie in Wes-Transvaal en daar tree hy ‘n dienstyd van 26 jaar op 61-jarige leeftyd om gesondheidsredes af. Hy en sy tweede eggenote vestig hulle op Potchefstroom en daar is hy, nadat sy gesondheid jare lank nie na wens was nie, na ‘n kort siekbed in die hospitaal oorlede. As iemand wat met ‘n baie bestendige geaardheid in stilte gewerk het, het hy in die jare van sy bediening ‘n groot taak vir die koninkryk van God verrig. In sy laaste gemeente word daar in sy tyd ‘n sierlike kerk sonder skuld in gebruik geneem. Dat hy ‘n gerespekteerde en gewaardeerde lid van die Ring van Bloemhof was, blyk daaruit dat hy baie jare in die Ringskommissie gedien het. Ewe-so neem hy as jarelange lid van die SKDB ‘n groot aandeel aan die uitgebreide kerklike barmhartigheidswerk. In die gemeente Potchefstroom-Wes was hy in alle opsigte ‘n steunpilaar en besieling vir die leraars wat tydens die tyd van sy verblyf daar die gemeente bedien het. Met die ingesteldheid van die ouer garde van predikante van ons kerk was hy baie gesteld op sy voorkoms en presies in sy optrede. Ook het hy altyd groot erns met die godsdiens en met sy persoonlike geestelike lewe gemaak.