NG Gemeente Worcester

Die NG moederkerk op Worcester.

Gestig

1821

Waaruit afgestig

Sutherland, Goudini, Worcester-Oos, Worcester-Oos, Worcester-De la Bat

Ring

Worcester

Adres

Kerkstraat, Worcester

Sluit in

Worcester (deels)

Eerste predikant

Henry Sutherland (1824–1859)


Die NG Gemeente Worcester is die 14de oudste NG gemeente en die 12de oudste in die Sinode van Wes-Kaapland.

Veral drie rigtings het die geskiedenis van die sowat 200-jarige gemeente Worcester bepaal, naamlik die geestelike herlewing met sy weldadige gevolge op maatskaplike en opvoedkundige terrein, die belangstelling van die gemeente in die sendingsaak en in middel van die 20ste eeu die nuwe stryd wat die kerk aangeknoop het met die probleme van industrialisasie en gestadige verstedeliking.

Die gemeente is in 1821 gestig, drie jaar ná die aanleg van die dorp op die plase Langerug en Roode Draai. Die gemeente het sy wordingsjare deurgemaak onder die leiding van ds. Henry Sutherland, wat 36 jaar die gemeente bedien het. Toe is die kerkgebou en pastorie opgerig en die pragtige preekstoel, deur twee De Vos-broers uitgesny, aan die gemeente geskenk. Hoewel nie ’n uitnemende geleerde nie, het ds. Sutherland uitgemunt in die gebedslewe, godsvrug en sagmoedigheid, wat die stempel van die Skotse predikante was.

Die koms van ds. Andrew Murray jr. het die herlewing voorafgegaan, maar eers ná sy vertrek, in die dae van sy broer William, is die blywende vrugte gesien. In 1875 is die Worcesterse Seminarium vir jong dogters geopen, wat ontwikkel het tot die Meisieskool met negehonderd dogters. Ds. William. Murray het hom die leed van dowes en blindes aangetrek, en ses jaar later is ’n skool vir diesulkes onder leiding van die heer B.J.G. de la Bat geopen. Toe die getal blinde leerlinge toegeneem het, is ’n aparte skool vir blindes gestig met mnr. M.J. Besselaar aan die hoof.

In die Buitelandse Sending het die gemeente ’n groot aandeel gehad. Ds. Murray het die jeug aangespoor om hulself vir die Sendingsaak te gee. Sy eie seun, dr. William Murray, het ’n leier geword in Niassaland (Malawi) en eerw. J.G. Botha in die Soedan. Vir die groot aantal jong Boerekrygsgevangenes wat van St. Helena teruggekeer het, en hulle lewe aan die Sendingsaak wou wy, is ’n opleidingskool in die Ou Drosdy onder leiding van ds. A.F. Louw opgerig. Die gemeente was ook een van die eerstes wat ’n doelmatige saal met die oog op sondagekoolwerk gebou het.

Van die Groot Depressie (1929–’32) tot ná die Tweede Wêreldoorlog (1939–’45) het die lewe op Worcester radikaal verander. Die lidmate het meer as verdubbel, en in 1948 die vyfduisend-merk oorskry. Die dorpsgebied het net ná die oorlog ongelooflik uitgebrei, nuwe industrieë is opgerig en die landelike gemeente het stadsprobleme gekry. So het dit nodig geword om tussen 1951 en 1984 nog vyf gemeentes op die dorp te stig: Worcester-Audenberg, Worcester-Brandwag, Worcester-Noord, Worcester-Oos, Worcester-Vallei. In 1987 het ook Worcester-De la Bat, ’n gemeente vir dowe lidmate, aan die beurt gekom.

Predikante

  • Henry Sutherland, 1824-1859
  • Izak Frederik Albertus de Villiers, 1900-1927
  • James Stegmann Murray, 1919-1944
  • Albert Rowan Albertyn, 1928-1937 (oorlede in die amp)
  • Johan Wilhelm Smalberger, 1938-1945
  • Andreas Stefanus Cronjé, 1945-1950 (eerste predikant van Worcester-Oos)
  • Nicolaas Everhardus Nel, 1946-1956 (waarna eerste predikant van Worcester-Noord)
  • Elia Jacobus Matthee, 1947-1948
  • Hendrik Albertus Heyns, 1949-1956
  • Albertus Bernardus Retief, 1950-1953 (vir dowe lidmate)
  • Gerrit Etienne Bruwer, 1951-1955
  • Johannes Jochemus Eucharistius Koornhof, 1955-1959
  • Johannes François van Heerden, 1956-
  • Johannes Ströhmenger Berry, 1957-