GEBORE
26 Okt. 1917
OORLEDE
11 Mei 1989
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1951
ORDEN
1952
standplase
1952 Bellville
1954 Bellville-Noord
1960 Gansbaai
1965 Hillary
Emeritus
–
Ds. Dirk Wouter Albertus Pretorius (26.1O. 1917 – 11.5.1989) is op die plaas Swartberg in die distrik Citrusdal gebore. Nadat hy standerd 6 behaal het in die skool op Citrusdal, is hy terug plaas toe om te gaan boer. Hy keer egter op 23-jarige ouderdom terug na die skoolbanke en voltooi standerd ses en sewe aan die Augsburg Landbouskool (1942-1943); Met sy roeping om herder te word in sy Meester se kudde, aanvaar hy ‘n uitdaging van ‘n finansiële borg om standerd nege en tien in een jaar te voltooi (Malmesbury); en sy studie aan die Universiteit van Stellenbosch voort te sit. Hy behaal BA Admissie in 1947 en word in 1951 gelegitimeer. Hy trou met Cornelia (Cora) le Roux. Drie dogters word uit die huwelik gebore. Hulle bedien die volgende gemeentes: Bellville (1952-1954); Bellville-Noord (1954-1960); Gansbaai (1960-1965); Hillary – Durban (1965-1969); Okahandja – SWA (1969-1973) en Albertinia (1973-1983); Hy aanvaar sy emeritaat op 30 April 1983 en vestig hom op Gansbaai. Hy word deur een van sy vroeëre kollegas beskryf as ‘n uiters getroue dienskneg van die Here. Elke jaar het hy volledig verslag van sy werk aan die Ring gedoen. Hy streef nooit na hoë posisies nie, maar is gelukkig tussen sy mense – as een van hulle. Hy maak sy vrou deel van sy roeping en neem haar saam op huisbesoek. Dis veral die siektepastoraat wat hom na aan die hart lê. Selfs toe hy reeds baie siek was aan kanker en hom op Riversdal naby sy dogter vestig, is hy nog die pastorale briefskrywer. Almal wat hom besoek en wat briewe skryf, word bedank en aangemoedig op die geloofspad met persoonlike briefies. Hy was ‘n dienskneg van die Here, maar terselfdertyd mens met sy voete plat op die aarde. Op Albertinia boer hy op ‘n plasie tussen die boere en geniet dit om vis te vang en houtwerk te doen. Hy word oorleef deur sy vrou en drie getroude dogters.