NG Gemeente Vredefort

NG Gemeente Vredefort (Foto: Phillip Nieuwoudt)

gestig

1882

ring

Ring van Vaalrivier

Adres

Markstraat, Vredefort

eerste predikant

Ds

Die NG Gemeente Vredefort is ‘n gemeente in die Vrystaatse Sinode.

Dorpstigting

Die distrik Vredefort was vroeër deel van die distrik Kroonstad. Die afstand na die naaste dorp vir sake- en kerklike doeleindes was groot; daarom het die inwoners ’n kommissie benoem, bestaande uit F. van Niekerk, Jac. Scheepers en H. Malan, om na ’n geskikte terrein vir ’n dorp te soek. Daar was wel geskikte plase, maar die eienaars wou nie verkoop nie sodat Scheepers verplig was om sy gedeelte van die plaas Vischgat vir ’n dorp af te staan. Die ander gedeelte het aan ’n sekere Henning behoort, en hy het dit ook afgestaan. Erwe is opgemeet en in 1876 is ’n aantal verkoop.

In 1877 het H.J. Morkel, Volksraadslid, toestemming gevra by die Raad om Vischgat tot dorp te verklaar, maar die versoek is geweier. In 1879 is die Volksraad weer genader. Die raad het ’n kommissie aangestel om ondersoek in te stel. Hoewel die kommissie ’n gunstige verslag ingedien het, het die Volksraad in 1880 weer geweier. Eers in 1881 is toestemming verleen op voorwaarde dat Vredefort nooit ’n afsonderlike distrik sou vorm nie. In 1882 is die eerste dorpsbestuur gekies. Vredefort het in 1902, nadat die Vrystaatse Republiek wat dit verbied het, ophou bestaan het, ’n afsonderlike distrik geword. Eers in 1951 het dit ’n afsonderlike magistraatsdistrik geword.

Gemeentestigting

In 1882, vyf jaar ná die aanleg van die dorp Vredefort, is die gemeente van die Kroonstadse gemeente afgestig en reeds in die volgende jaar is die eerste kerkgebou ingewy nadat die hoeksteen gelê is op 28 Julie 1883. Tot eerste leraar is ds. G.S. Malan beroep, wat twee jaar lank van 1887 tot 1889 die gemeente bearbei het voordat hy opgevolg is deur die welbekende ds. Paul H. Roux. Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog, wat uitgebreek het gedurende die dienstermyn van ds. J.A. Joubert, is die hoeksteen van die kerkgebou deur die Britse troepe uitgebreek en is ook die banke en preekstoel erg beskadig. Die pastorie is afgebrand en sodoende het alle kerklike boeke en registers verlore gegaan.

By geleentheid van die eerste naoorlogse gemeentevergadering, gehou op 14 Februarie 1903, is besluit om die kerkgebou te laat herstel en ‘n nuwe pastorie te bou. Die verengelsingsbeleid ná die oorlog in die oorwonne republieke toegepas, vind ook in die gemeente weerklank in soverre die aanddienste vir ‘n tyd lank in Engels gehou is. Om hierdie verengelsing teen te gaan is drie CNO-skole in die gemeente in die lewe geroep, een op die dorp en twee in die distrik.

Gedurende 1914 is reeds besluit om ‘n nuwe kerkgebou op te rig, maar al die bouplanne is deur die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog tydelik verydel. Die kerkraad se bouplanne is verder deur die griepepidemie gedwarsboom, en eers daarna kon finaal oor die saak besluit word. Die hoeksteen van die nuwe kerkgebou is deur ds. J.A. Joubert gelê, en die plegtige inwyding daarvan het gedurende April 1923 plaasgevind. Ná die vertrek van ds. Joubert in 1920 is die gemeente agtereenvolgens herderlik deur di. P.J. van Vuuren, G.J. de Vos, J.J. Lubbe en ds. A.M.H. Koornhof bedien.

Predikante

  • George Stephanus Malan, 1887 – 1889
  • Genl. Paul Hendrik Roux, 1891 – 1897
  • Jan Abraham Joubert, 1897 – 1920 (toe hy st emeritaat aanvaar)
  • Petrus Jacobus van Vuuren, 1921 – 1928
  • Gideon Jacobus de Vos, 1929 – 1937
  • Johann Joachim Lubbe, 1938 – 1947
  • Anthonie Michael Holtzhauzen Koornhof, 1947 – 1951
  • Abraham Petrus Louw, 1952 – 1956
  • Diederick Daniël Rosslee, 1956 -1960