NG Gemeente Sterkstroom

Ds. W.D. Joubert, Sterkstroom se eerste leraar, het die hoeksteen van die huidige kerkgebou op 21 Julie 1913 gelê. Die argitek was William Henry Ford en die bouaannemer P.W. Theron. Ford se ander meesterstukke is die NG kerke Burgersdorp (1913), Benoni (1921), Frankfort (1912), Hanover (1908), Heidelberg, Wes-Kaap (1914), Jamestown (1911), Kroonstad (1914), Ventersburg (1913) en Vosburg (1909).

Gestig

24 Januarie 1891

Ring

Queenstown

Adres

John Vorsterrylaan, Sterkstroom

Sluit in

Sterkstroom en omgewing

Eerste predikant

W.D. Joubert (1893–1919)


Die NG Gemeente Sterkstroom is ’n klein gemeente in die Sinode van Oos-Kaapland. Die gemeente is in 2012 oorgedra van die Ring van Queenstown na die Ring van Burgersdorp omdat dit bedien word deur die leraar van Molteno, wat deel uitmaak van die Ring van Burgersdorp. Sterkstroom en Molteno is slegs sowat 20 km uitmekaar geleë.

Die gemeente Sterkstroom is in 1891 gestig, ’n besonder vrugbare jaar vir die stigting van NG gemeentes, want in dieselfde jaar is ook Rondebosch, Jamestown, ook in Oos-Kaapland, De Nieuwe Kerk (Tamboerskloof), Umtata (tans Mthatha), Bothaville en Thaba Nchu gestig.

Agtergrond en stigting

Reeds op 14 Augustus 1874 is die plase Kraaidoorns en Jonaskraal aan die voet van die Stormberg van mnr. W.A. Lombard gekoop met die oog op die stigting van ’n gemeente hier, waar daar indertyd nog nie ’n dorp was nie omdat Sterkstroom, soos talle ander plattelandse dorpe in Suid-Afrika, as kerkdorp gestig is. Dit het egter tot 24 Januarie 1891 geduur voordat die gemeente uit die gemeente Molteno-Sterkstroom gestig is. Op 8 April 1893 is prop. Willem Daniel Joubert hier georden en hy het tot sy dood op 15 Julie 1919 hier gewerk. Kort ná sy ordening is ’n pastorie gebou. Die gemeente het toe reeds ’n kerkgebou besit.

Op 2 Julie 1898 verkoop die kerkraad sy eiendomsregte aan die munisipaliteit vir £5 000. Tot in daardie datum was die erwe en steenkoolmyne vir die kerkraad ’n bron van inkomste – en van moeilikhede. Op 21 Julie 1913 word die hoeksteen van die nuwe kerk, ontwerp deur die Australiese argitek William Henry Ford, gelê en op 27 Junie 1914 kon die kerk met pyporrel te midde van ’n sneeustorm ingewy word. Op 14 Julie 1919 is ook ’n koshuis vir behoeftige leerlinge in gebruik geneem.

Tweede en latere leraars

Ds. Joubert is op 12 Junie 1920 opgevolg deur ds. Philip J. du Plessis van Benoni. Gedurende sy dienstyd het ’n evangelis, S. Klouw, wat dekades lank hier gearbei het, sy werk in die sendinggemeente begin. Ds. Du Plessis het hom vir die opvoeding beywer en saam met die skoolhoof, mnr. P.H. Malherbe, vir die skool die status van hoërskool verkry. Ná ’n kort maar geseënde bediening het hy op 8 Junie 1923 na die NG Gemeente Queenstown vertrek.

Op 23 April 1923 is die vakature gevul deur ds. C.F. Leygonie van Rossville, wat ruim 21 jaar lank die gemeente trou bearbei het. Die koshuis is vergroot en ’n sendingpastorie gebou. Ná ’n kort siekbed is hy op 8 September 1944 in die ouderdom van 53 jaar oorlede en langs ds. Joubert op die kerkgrond begrawe, dus die tweede uit die eerste drie leraars wat in die amp oorlede is.

Prop. I.F. Retief is op 13 April 1944 hier georden en het die gemeente bekwaam bearbei tot 14 Junie 1949, toe hy na Fraserburg vertrek. Gedurende sy dienstyd is geld vir gehoortoestelle en ’n elektriese orrelblaser ingesamel.

Ds. Pieter Grobbelaar van die Nuwe Kerk, Graaff-Reinet, is op 4 Februarie 1950 hier bevestig, maar ses jaar later na die NG Gemeente Oos-Londen-Noord vertrek.

Predikante

  • Willem Daniel Joubert, 1893 – 1919
  • Philip Jacobus du Plessis, 1920 – 1923
  • Camille Frederic Leygonie, 1923 – 1944
  • Ignatius Ferreira Retief, 1944 – 1949
  • Pieter Grobbelaar, 1950 – 1956
  • Carl Wilhelm Irene Pistorius, 1956 – 1961
  • Pieter Wilhelm Hattingh, 1966 – 1969
  • Johannes Christoffel Erasmus, 1970 – 1973
  • Jacobus Frederick Fourie, 1974 – 1977
  • Jan Abraham du Plessis, 1978 – 1983
  • Dewald Hattingh Davel 2006 – (ooreenkoms met Molteno)