NG Gemeente Noordhoek

NG Gemeente Noordhoek

gestig

23 April 1949

Eerste predikant

P.J. Jansen van Rensburg

Adres

David Fouriestraat 6, Noordhoek

Die NG Gemeente Noordhoek is ‘n gemeente in die noordooste van die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein.

Vanweë die snelle uitbreiding van die stad Bloemfontein in die jare veertig, veral aan die noordoostekant, het die NG Gemeente De Bloem so groot geword dat die afstigting van ‘n nuwe gemeente noodsaaklik geword het. Op ‘n kerkraadsvergadering van die gemeente De Bloem, gehou op 18 November 1948, is afstigting bespreek en toestemming tot die stigting van ‘n nuwe gemeente gegee. Op 23 April 1949 is ‘n afstigtingsvergadering in die saal van die Noordskool gehou en is ‘n nuwe gemeente van die gemeente De Bloem afgestig. Uit ‘n paar name voorgestel is Noordhoek as die naam van die nuwe gemeente vasgestel. As konsulent is ds. G. Thom van Bloemfontein-Oos aangestel. G.M. Burger is aangestel as die eerste scriba-kassier en mev. J.C. Pauw as die eerste orreliste.

Nadat die gemeente vyf maande met veel vrug deur ds. J.G. Strydom, oudsendingsekretaris van die Vrystaatse Kerk, bearbei is, is ds. P.J. Janse van Rensburg op 4 Februarie 1950 as die eerste leraar van die gemeente bevestig. Binne die eerste drie jaar ná afstigting het die gemeente met rasse skrede vooruitgegaan. Die getal lidmate het van ongeveer 750 tot byna 1 000 aangegroei. Toe het reeds bloeiende takke van die Vrouesendingbond, Strewersvereniging en Kinderkrans in die gemeente bestaan. Daar was reeds ‘n pragtige nuwe pastorie en planne vir ‘n kerkgebou is binne twee jaar ná afstigting opgestel. Dié gebou was glo een van Gerard Moerdyk se laaste kerkontwerpe.