gestig
1935
Eerste predikant
Ds. H.S. Theron
RING
Bloemfontein-Noord
ADRES
Raymond Mhlabastraat 83, Hilton, Bloemfontein
Die NG Gemeente De Bloem is ‘n gemeente in die noordooste van die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, in die Vrystaatse Sinode..
Die gemeente is gestig in 1935. Die eerste predikant was ds. H.S. Theron, wat reeds 48 jaar oud was toe hy op 1 Augustus 1936 hier bevestig is. Sy vorige gemeentes was Rosendal (1916–1919), Clocolan (1919–1925) Bloemfontein-Noord (1925–1933) en Prins Albert, tot sy koms na De Bloem. Hy is op 9 September 1945 as armesorgsekretaris van die Vrystaatse Kerk aangestel en het op 19 April 1956 sy emeritaat aanvaar.
Die kerkgebou (wat sterk herinner aan die gesloopte Gereformeerde Kerk Bloemfontein deur Gerard Moerdyk en Wynand Louw) en orrel se inwyding het op Saterdag 18 en Sondag 19 Mei 1940 plaasgevind, waar die wydingsgebed deur ds. J.D. Kestell (Vader Kestell) en die “wydingswoord” deur ds. H.S. Theron gelewer is. Ds. Theron het die hoeksteen op 21 oktober 1939 gelê. Die argitek was blykbaar net Louw, sonder Moerdyk se medewerking.
Die P.S.Z. Coetzeesaal is in die 1960’s aan die agterkant van die kerkgebou gebou. Dit is genoem na ds. P.S.Z. Coetzee, wat op 9 Julie 1949 in die gemeente bevestig is. Dit was die laaste van sy vyf gemeentes, waarvan almal behalwe Johannesburg in die Vrystaat was. Ds. Coetzee het, wanneer dit nodig was, soms tot vier dienste op ‘n Sondag in Bloemfontein gehou. Hiervan was twee in sy eie gemeente en twee vir die gevangenes in die tronk. Die Wanda Schweinsbergtehuis vir oues van dae in Bloemfontein is sy skepping. Hy het die tehuis op Edenburg (waar hy twee maal predikant was) begin en dit was so geslaagd dat wyle mnr. Schweinsberg van Fauresmith ‘n groot skenking aan hom vir die inrigting gedoen het, op voorwaarde dat dit na Bloemfontein verskuif word.
Gedurende Februarie 1966 het hy sy emeritaat aanvaar. Ná sy aftrede het hy sy geestelike werk voortgesit in Bloemfontein se hospitale en sy wens om in die diens van sy Meester te sterf, is vervul deurdat hy enkele ure voor sy plotselinge heengaan tydens sy middagslapie op 3 September 1975, nog pasiënte in die Nasionale Hospitaal besoek het.
Tussen 1947 en 1964 het vier Gemeentes van De Bloem afgestig. Die eerste was Noordhoek. Vanweë die snelle uitbreiding van die stad in die jare veertig, veral aan die noordoostekant, het hierdie gemeente so groot geword dat die afstigting van ‘n nuwe gemeente noodsaaklik geword het. Op ‘n kerkraadsvergadering op 18 November 1948 is afstigting bespreek en toestemming tot die stigting van ‘n nuwe gemeente gegee. Op 23 April 1949 is ‘n afstigtingsvergadering in die saal van die Noordskool gehou en is ‘n nuwe gemeente afgestig. Uit ‘n paar name voorgestel is Noordhoek as die naam van die nuwe gemeente vasgestel. Die dogtergemeente se kerkgebou is ontwerp deur Gerard Moerdyk.
Sedert die 1980’s is armoedeverligting ’n dringende saak in die gemeente en het die koskas ’n gereelde verskynsel geraak. Sedert 2000 is De Bloem gemeente aktief betrokke by verskeie spysenierings, en die geld wat so ingewin word, ondersteun die gemeente se werksaamhede. Sedert De Bloem se ontstaan het 12 leraars as herder opgetree en sluit dit benewens ds. P.S.Z. (Pietie) Coetzee ook ‘n legende soos dr. Awie Minnaar in.
Tans bedien die elfde leraar (ds. Jannie Smith) De Bloem.